TINIE VORSTER (1917-2000)

Premiersvrou, Presidentsvrou …

’n Mens kon jou heel maklik met Tinie Vorster misgis. Met haar oë weggesteek agter ’n dikraambril en die natuurlike, harde lyne van haar gesig het sy soms ’n ongenaakbare uitdrukking gehad. Asof sy ’n harde mens was. Maar dit was inderdaad presies die teenoorgestelde. Haar natuurlike empatie met mense is juis wat haar na Stellenbosch geneem het om ’n maatskaplike werker te word – en sy sou dan ook die land se heel eerste geregistreerde vroulike maatskaplike werker wees.

Dit sou nie die laaste onderskeiding wees nie. Tinie Vorster is ook die eerste vrou wat beide Premiersvrou en Staatspresidentsvrou sou word.

Haar pa was oom Pieter Malan van Worcester in die Breederiviervallei en haar ma ’n nooi Muller van die Karoo. Stoere Natte en groot simpatiseerders met die Boeresaak. Dit slaan deur in die naam wat hulle gee vir die enigste kind uit die huwelik. Sy word 21 Oktober 1917 gebore en hulle doop haar: Martini Steyn Malan, na die ou Vrystaatse president.

Dit was baie amper of sy haal nie haar eerste verjaardag nie. Die Griepepidemie van 1918 tref ook die Malan-gesin en selfs die klein dogtertjie word dodelik siek. Maar nadat sy herstel, word sy stelselmatig haar pa se oogappel. Die huis is alewig vol klein diertjies – ’n haas wat in ’n wip seergekry het of ’n klein voëltjie met ’n beseerde vlerk. Dis honde en hoenderkuikens en katte en alles moet verpleeg en versorg word.

Tinie is ’n slim dogter. Na skool gaan sy studeer en daar op Stellenbosch loop sy die bonkige Oos-Kaapse boerseun raak. Met sy ysige kyk en afgemete manier van praat, staan hy soos ’n rots. En sy verloor haar hart totaal en al.

Dit is die jare voor die Tweede Wêreldoorlog. John Vorster is die jongste van 15 kinders van ’n skaapboer uit Jamestown se omgewing. Hy studeer in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch, in daardie jare die bakermat van Afrikaner-volksnasionalisme. En hy begeester Tinie met sy ideale van ’n vrye Afrikanerrepubliek. Hy is aktief in die Nasionale Party van DF Malan en werp hom heelhuids in die stryd saam met die Ossewa Brandwag (OB).

Sy is nog besig met haar studies toe hy klaarmaak. Eers word hy registrateur by die Hooggeregshof in Kaapstad, maar kort voor lank verskuif hy Baai toe en open sy prokureurspraktyk daar. Dit was in hierdie tyd dat die verlowing gevier word en Tinie haar graadstudie voltooi. Sy begin haar loopbaan as maatskaplike werker in die Breëriviervallei.

John besef baie spoedig dat hy die maalstroom van die Afrikanerpolitiek misloop in die Oos-Kaap. Hy maak sy praktyk toe, ry Boland toe en gaan haal sy vrou voordat hy versit na die Oos-Rand en in Brakpan ’n praktyk open. Dis 1941 en die Tweede Wêreldoorlog is in volle swang. John is nou ’n volle generaal in die OB en die OB raak ’n probleem vir die regering van Jan Smuts. Kort voor lank trek hulle hom vas en stuur hom, sonder verhoor, na die interneringskamp by Koffiefontein, waar hy in aanhouding bly tot 1944.

Tinie trek in hierdie jare taai. Sy is jonk getroud, ver van haar mense en met ’n man in aanhouding is sy gedurig onder die oog van die regering se spioene. John se uitgesproke steun vir die Nazi-bewind van Hitler sou hom in latere jare nog heelwat probleme op die hals haal. Maar ook dit gaan verby. Die pot bly op ’n manier aan die kook en in 1944 word hy vrygelaat. Die Oorlog is feitlik verby.

In 1945 word Elizabeth gebore. Willem volg vyf jaar later in 1950 en in 1951 word Pieter gebore.

Met drie klein kindertjies, ’n eie loopbaan en ’n man wat sy regspraktyk saam met sy politieke bedrywighede aan die gang hou, weet Tinie soms nie of sy kom of gaan nie. Pieter is twee jaar oud toe sy pa in 1953 Parlementslid vir Nigel word. Nou is dit volstoom politiek. Halfjaar in die Kaap, halfjaar in Pretoria. Tinie gee maar haar werk prys en stort haar voluit in die politiek saam met John. So aktief is sy, dat ’n Britse koerant later skryf: “If she was born a generation later, she could well have become Prime Minister herself!”

In 1958 word John ’n adjunkminister en in 1961 neem Verwoerd hom op in die kabinet as Minister van Justisie en van Polisie. Vir die res van hulle lewens sou die Vorsters albei ’n baie sagte plekkie hê vir die polisiemanne van Suid-Afrika. Daar word gespekuleer dat dit Tinie se invloed was wat uiteindelik daartoe gelei het dat vroue in 1976 toegelaat is al lede van die Polisiemag.

Tinie Vorster se lewe in die openbare oog is ’n eienaardige spel van ironie. Twee keer sou sy die een wees wat troos wanneer ’n staatshoof aan die hand van ’n sluipmoordenaar sterf. In November 1963 skryf sy ’n briefie, vol van die warmte en empatie wat kenmerkend van haar was, aan Jackie Kennedy na die sluipmoord op John F Kennedy. En op 6 September 1966 is dit sy wat Betsie Verwoerd bystaan toe die Eerste Minister in die Parlement met ’n dolk vermoor word.

Met skemer op daardie bitter Dinsdagaand stap sy by die voordeur van Groote Schuur uit met die wete dat dit haar taak geword het om die skoene van die klein ou mensie wat sy daar binne agtergelaat het vol te staan. Sy is nou die sewende Premiersvrou van Suid-Afrika.

Een van haar eerste take is om Groote Schuur te laat restoureer. Met eindelose geduld verdiep sy haar in die argiewe om die geskiedenis van die ou huis na te vors en seker te maak dat die restourasie die eertydse glorie van die huis terugbring. Die prag en praal wat Groote Schuur vir dekades sou wees, was Tinie Vorster se werk. En daarvoor word sy in 1978 met ’n eredoktorsgraad van die PU vir CHO vereer.

Maar buite-om Groote Schuur gaan dit sleg met Suid-Afrika. Die grensoorlog neem in intensiteit toe, Soweto ontbrand en in die Parlement kry John sterk opposisie van die linkerkant. Hy neem besluite oor verhoudinge met Afrika wat lei tot erge verdeeldheid in sy party. En nietemin slaag die Vorsters daarin om met die verkiesing van 1977 die blanke kiesers van Suid-Afrika te verenig soos nog nooit vantevore nie – 71% van kiesers stem vir John Vorster se regering.

Tydens ’n besoek aan die VSA moet hy bontstaan om sy beleid te verdedig. Tinie ontmoet die Amerikaanse presidentsvrou, Pat Nixon, en daar ontstaan ’n natuurlike vriendskap tussen die twee. Min sou Tinie weet dat die ironie hier ook met haar besig is. Sy en Pat Nixon, albei die vroue van stewige, bonkige, onversetlike leiers … en wat albei dieselfde paadjie sou moes stap.

Want vir Tinie Vorster, soos vir Pat Nixon, lê die grootste toets nog voor. Terwyl Nixon se loopbaan in Amerika in vlamme opgaan na die Watergate-skandaal, bars die Inligtingskandaal oor Suid-Afrika los. John Vorster se betrokkenheid kan nie ontken word nie, en aangesien daar reeds verdeeldheid teenoor hom in sy kabinet is, word hy ook genoodsaak om in 1978 sy bedanking as Eerste Minister aan te kondig. Hy maak plek vir PW Botha, wat hom wegstuur met die troosprysie van “Staatspresidentskap”. En so word Tinie Vorster dan ook Staatspresidentsvrou.

Maar dis van korte duur. Minder as ’n jaar later is die bevindinge van die Kommissie van Ondersoek na die Inligtingskandaal bekend. Die Engelse media praat van “Muldergate” vanweë Connie Mulder se betrokkenheid. Dit is duidelik dat John Vorster baie meer geweet het as wat hy erken het en, net soos met Richard Nixon, moet hy ook onder ’n wolk bedank as president. John Vorster verlaat die Kaap met ’n ontsettende verbittering teenoor die Nasionale Party – in 1982, skaars vier jaar na sy uittrede, steun hy die Konserwatiewe Party van Andries Treurnicht openlik by die stigtingskongres. Maar sy politieke loopbaan is verby.

Die Vorsters trek hulle terug na Kareedouw in die Suid-Kaap. Of die vernedering van die Inligtingskandaal uiteindelik sy tol geëis het, weet ’n mens nie, maar net vier jaar na sy uittrede sterf John op Kareedouw op 10 September 1983. Hy is maar 67 jaar oud.

Tinie bly nog vir ’n rukkie op Kareedouw waar sy vereer word met die ereburgerskap van die dorp. In 1978 ken PW Botha die Orde van Meriete aan haar toe vir diens aan Suid-Afrika.

In 1984 tref ’n ontsettende slag haar. Pieter, die jongste, doen op die ouderdom van 33 waterpokkies op en sterf in Kaapstad. Die kinders besluit dat sy nie langer alleen kan regkom nie en teen die einde van 1984 verhuis sy na ’n aftreeoord in die Strand. Daar woon sy nog 16 jaar voordat sy in Maart 2000 ernstig siek word. Sy is vir ses maande bedlêend voordat sy op 14 September 2000, drie dae na die 17de herdenking van John se dood, self ontslaap.

In die begraafplaas van Kareedouw lê hulle grafte langs mekaar … John en Tinie, die 7de Premierspaar van Suid-Afrika.

Daniël Lötter