PLAASMOORDE EN DIE EENSAME PLATTELAND

‘nMisdaadvlaag teister die land sedert die middel-1990’s. Prominente figure is daardeur geraak. Onder hulle is Marike de Klerk, eggenote van FW de Klerk tydens sy ampstermyn, wat deur ’n veiligheidswag doodgesteek is; genl. Constand Viljoen, oudleier van die Vryheidsfront, wat helder oordag beroof is en geen hulp ontvang het van omstanders nie; ’n dogter van Viljoen, wat twee keer op hul plaas aangeval is; ’n predikant, Stefan Louw, wat in sy huis doodgeskiet is; die skrywer en dramaturg Chris Barnard wat op sy plaas beseer is en later oorlede is een die skrywer Pieter Pieterse wat in Maart 2002 in Marlothpark vermoor is terwyl hy aan ’n nuwe manuskrip gewerk het.

Veral een soort misdaad wek meer as die gewone afgryse – “plaasmoorde”. Dit vorm wel deel van die geweld, maar is op ’n gruwelike manier anders. Slagoffers word soms gemartel met kookwater of warm strykysters, of verkrag voordat hulle vermoor word; in een geval is iemand se been byna afgesaag met ’n slyper (grinder) en sy vrou met ’n tang aan die neus rondgesleep. Party plaasmoorde word soos ’n teregstelling uitgevoer. Dit lyk soos ’n terreurveldtog. Sommige mense juig sulke moorde op sosiale media toe. Politici van veral die EFF skep ’n giftige klimaat waarin plaasmoorde kan floreer. Terwyl twee verdagte plaasmoordenaars in Oktober 2020 op Senekal in die hof verskyn het, het EFF-lede dié gesing: “Kill the Boer, kill the farmer”. Flip Buys sê daar bestaan ’n verbysterende ooreenkoms tussen die huidige krisis en die toestand wat voor die Groot Trek aan die oosgrens geheers het.

Volgens Wikipedia (Oktober 2020) wys beskikbare statistiek dat daar tussen 1991 en 2001 6 122 plaasaanvalle plaasgevind wat tot 1 254 sterfgevalle gelei het. Die getal sterfgevalle het in die volgende agt jaar meer as verdubbel tot 3 037. Navorsing deur die Instituut vir Sekerheidstudies het bevind dat ’n boer se kans om vermoor te word, byna vier keer groter is as dié vir ’n gewone landsburger en twee keer so groot as dié van ’n polisielid.

Die boek Treurgrond: Die realiteit van plaasaanvalle, 1990 𝘵𝘰𝘵 2012 (2013), saamgestel deur dr. Dirk Hermann, genl.maj. Chris van Zyl en Ilze Nieuwoudt, beskryf 1610 moorde wat tydens 3319 aanvalle op plase en kleinhoewes gepleeg is. Die AWB-leier, Eugène Terre’Blanche, het op 3 April 2010 in so ’n moord omgekom.

Plaasmoorde is ’n teer saak vir baie Afrikaners. Soos Heinrich Matthee betoog, het boere ’n kardinale rol in die Afrikanergeskiedenis en -identiteitsvorming gespeel. In vertellings verskyn die boer as baanbreker wat die Westerse beskawing in ’n harde omgewing vestig, of as heldhaftige vryheidsvegter teen die Britse Ryk, soms weer as hardwerkende landbouer. Wat die trauma van oorlewendes van plaasaanvalle vererger, is die growwe nalatigheid waarmee polisiebeamptes soms hul ondersoeke uitvoer.

Ons eensame platteland het vroeër Afrikaanse werkgewers gehuisves, en dit was sentrums waarin ’n deel van die Afrikaanse kulturele erfenis bewaar en die streekgeskiedenis lewend gehou is. Kommersiële boere wat hul grond vanweë grondhervorming verloor of aftree, ervaar dat plase en dorpe onveilig word en dat die basiese dienste in duie stort. Die krimpende Afrikaanse bevolking het nadelige gevolge vir plattelandse Afrikaanse skole, kerke en sake.

Vir die kommersiële boere raak die wêreld al moeiliker. Streng arbeidswette tref hul swaar. Onsekerheid heers oor grondhervorming en veral die bedreiging van onteiening sonder vergoeding. Die georganiseerde landbou het skaars op nuwe regeringsplanne gereageer of daar is nuwe en meer buitensporige voorstelle. Die uitvoering van grondhervorming is baie problematies vanweë onder meer die staat se institusionele onvermoë om die proses te bestuur, “’n kraaines van administratiewe rompslomp” (soos dit al gestel is). Dikwels laat die nuwe eienaars die winsgewende boerderye wat hulle verkry, ten gronde gaan.

Ian Cameron het in Julie 2020 ná sewe jaar as veiligheidshoof van AfriForum bedank. Uit ’n onderhoud met Hanlie Retief van Rapport (26 Julie 2020) blyk dit dat hy nie meer kans sien vir alles wat met plaasmoorde gepaard gaan nie. Dit is asof die lug op so ’n plaas dood is. “Ons moes van die tonele verskeie kere agterna besoek en die lug kry nie weer lewe nie. Dis moeilik om dit te beskryf, maar rêrig, die lug is daar dood.” Hy vertel van ’n plaas wat hulle ook weer moes besoek en selfs die beeste het hartseer gelyk. “Maar die ergste was die boerboelteef wat verlore by die agterdeur sit en wag het.”

AfriForum het in 2020 raadgewende status gekry in die Verenigde Nasies se ekonomiese en maatskaplike raad (Ecosoc). Suid-Afrikaanse diplomate het nege jaar lank probeer verhinder dat AfriForum hierdie status kry. Dit stel AfriForum in staat om voorleggings oor plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding te lewer by vergaderings van Ecosoc.