22 FEBRUARIE
GEBEURE
1707 – Stryd teen WA van der Stel gewen
Die inwoners van Stellenbosch is in die nag van 22 Februarie 1707 uit hul slaap gewek deur ’n jong man wat te perd deur die stil strate gejaag en die lug laat weergalm het met die kreet “Victorie, Victorie!”. Die gerug het die burgers bereik dat hulle die stryd teen die omstrede goew. WA van der Stel en die hoë amptenare gewen het, en dat die goewerneur uit die Kaapkolonie verban is. Dit was inderdaad die geval, en hierna moes verskeie hoë amptenare die Kaap verlaat. Hulle vroeëre beleid het nietemin daartoe help lei dat al hoe meer burgers algaande die binneland ingetrek en sodoende die onbekende oopgestel en hulle gevolglik daar gevestig het. Die owerheid moes telkens agterna beweeg en het daardeur die proses eerder verhaas as vertraag.
1707 – Hendrik Bibault – “Ik ben een Africaander”
Die oorwinning oor Van der Stel het nie sonder uitbundige vreugde gepaard gegaan nie. Vier jong mans van Stellenbosch het te perd deur die strate van die dorp gejaag en onder die invloed van drank by die meule moles gemaak deur die graanbakke rond te gooi en die meulenaar uit te skel. Landdros Starrenburg, wat op die lawaai afgekom het, het twee van die jong mans met ’n rottang bygekom, waarop een, Hendrik Bibault, geskreeu het: “Ik wil niet loopen, k’ben een Africaander.” Hier gebruik Bibault die woord “Afrikaner” in die sin van ’n persoon wat in Suid-Afrika gebore is, in teenstelling met die Hollanders en Franse wat van oorsee kom. Bibault maak onderskeid tussen, aan die een kant, die emigrante en VOC-amptenare (van wie Starrenburg een was) wat slegs tydelik aan die Kaap gestasioneer was, en aan die ander kant hyself en ander Suid-Afrikaansgeborenes wat Suid-Afrika as hul enigste vaderland ken en aanneem. Hierdie gevoel van andersoortigheid, van verbondenheid aan hierdie aarde as vaderland dui op ’n ontwakende identiteitsbewussyn en sou later lei tot die ontstaan van ’n eie identiteit en nasionale ontwaking by die Afrikaner.
1785 – Kaapse Patriotte
Die Politieke Raad aan die Kaap verleen aan Marthinus Berg toestemming om na Nederland te reis. Berg en sy twee seuns het daana as pleitbesorgers vir die Kaapse Patriotte ingestaan. Die Kaapse Patriotte was ’n groot groep ontevrede mense met hoofsaaklik ekonomiese griewe. Nie almal was egter gegrief nie, en die wat pasief gestaan het, is “Mamelukke” (afvalliges) genoem. Die Kaapse Patriotte was suksesvol in hul sending gewees en etlike ekonomiese hervormings is ingestel.
1840 – Good Hope sink
’n Stoomskip, die Good Hope sink aan die Tsitsikamma-kus.
1857 – ’n Grasdakkerk word op die plein in Pretoria ingewy – vandaar die naam Kerkplein
1886 – Eerste goud na Pretoria
Die eerste goud, komende van Kromdraai aan die Witwatersrand, word na die Standard Bank in Pretoria gestuur. Dit het 61 onse geweeg.
1900 – ’n Derde telegraafroete
’n Derde telegraafroete, van Kaapstad via St Helena en Ascension, verbind Suid-Afrika met Europa.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Hedge Hill (Wynne’s Hill), Natal
1994 – Die Merriespruit-slikdamramp vind plaas te Virginia
GEBOORTES
1929 – Dolf van Niekerk skrywer, digter en dramaturg († 31 Desember 2022)
Dolf van Niekerk was ’n Afrikaanse skrywer, digter en dramaturg wat deel van die Sestiger-beweging was.
Rudolf Johannes van Niekerk het in 1946 op Edenburg in die Vrystaat gematrikuleer, waarna hy in 1949 ’n BA-graad aan die Universiteitskollege van die Oranje Vrystaat behaal het, gevolg deur ’n honneursgraad aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA). Terwyl hy deeltyds gestudeer het, was hy van 1950 tot 1956 ’n omroeper by die Afrikaanse radiodiens van die SAUK. Hy het in 1954 sy BA-honneursgraad in wysbegeerte aan UNISA behaal. In 1957 het hy die hoof van die pasgestigte radiodiens van die Departement van Landbou, Landbouradio, geword. Hy het in wedvlugduiwe belanggestel en hy was verantwoordelik vir die duiwerubriek wat in die 1960’s deur die SAUK uitgesaai is. In 1967 het hy sy MA-graad in wysbegeerte met lof aan die Universiteit van Pretoria behaal.
Hoewel hy buite die letterkundige binnekring beweeg het, het hy as lid van die Sestigers betekenisvolle veranderinge aan Afrikaanse prosa teweeg gebring. Hy het reeds op skool begin skryf en selfs met sy jeugromans het hy die buitestanderfiguur in Afrikaans voorop gestel. Hy het hom hoofsaaklik toegespits op romans, hoorspele, hoorbeelde en vervolgverhale. Sy vervolgverhaal 𝘛𝘦𝘮𝘱𝘦𝘭𝘩𝘰𝘧, is in 1996 op Radio Sonder Grense (RSG) uitgesaai.
In 2001 het hy die Laureaat-toekenning vir besondere prestasie van die Alumniraad van die Universiteit van Pretoria ontvang en in 2018 is hy met ’n CLRU-toekenning vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse jeugboeke. Sy werk is nou nog die onderwerp van meesters- en doktorsgraadstudies. Hy is op 31 Desember 2022 in die ouderdom van 93 jaar oorlede.
1936 – Jans Rautenbach, draaiboekskrywer, filmvervaardiger en regisseur († 2 November 2016)
Jans Rautenbach was ’n bekroonde Suid-Afrikaanse draaiboekskrywer, filmvervaardiger en regisseur. Hy was die regisseur van rolprente soos Blink Stefaans, Eendag op ’n Reëndag, Pappa Lap en Jannie totsiens.
STERFTES
1990 – Thomas Ochse (TO) Honiball, spot- en strokiesprentkunstenaar (* 7 Desember 1905)
Thomas Ochse Honiball het bekendheid verwerf onder oud en jonk met strokiesprente soos Oom Kaspaas, Adoons-hulle en Jakkals en wolf. Die opnames wat Dana Niehaus van die Jakkals-en-Wolf-verhale gemaak het, is op langspeelplaat uitgereik terwyl Groep Twee ’n liedjie daaroor gesing het wat deur Gert van Tonder geskryf is. Aan die beginjare van televisie is 26 episodes van Oom Kaspaas, asook van Adoons-hulle vervaardig en uitgesaai terwyl albei verhale ook in boekvorm verskyn het. Hy is op 22 Februarie 1990 in die ouderdom van 84 jaar oorlede.
2002 – Tilana Hanekom, aktrise (* 24 Oktober 1921)
Tilana Hanekom was ’n Suid-Afrikaanse aktrise. Sy is veral bekend vir haar rolle in Elsa se Geheim, Lig van ’n Eeu en Eendag vir Altyd. Sy is gereeld op TV gesien in onder meer die Prins van Pretoria, Hoekie vir eensames en Agter Elke Man.
2016 – Dr. Annique Theron, sakevrou en stigter van Annique (* 18 April 1929)
Dr. Annique Theron het internasionale bekendheid verwerf deur rooibostee in haar velsorgprodukte en as geneesmiddel te gebruik. Sy het bewus geword van rooibostee se genesingskrag nadat haar dogter met koliek en allergieë gesukkel het en sy rooibostee by haar borsmelk gevoeg het.
2016 – Kupido (Johannes Mattheus Wessels), sanger en liedjieskrywer (* 28 Oktober 1953).
Kupido, die verhoognaam van Johannes Matheus (Johan) Wessels was ’n Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer van Zambiese herkoms. Die naam Kupido is gekies omdat hy meestal liefdesliedjies geskryf en gesing het. Kupido het in 1981 saam met die sangeres Cora Marie begin optree. Sy grootste treffer, “Was ek maar ’n digter”, was so gewild dat die plaat goud was voor dit op die rakke beskikbaar was.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.