DOLF VAN NIEKERK (1929-2022)
Dolf van Niekerk was ’n Afrikaanse dramaturg wat as deel van die Sestiger-beweging vernuwing in Afrikaanse letterkunde gebring het.
Rudolf Johannes van Niekerk is op 22 Februarie 1929 op Edenburg in die Vrystaat gebore. Skaars ’n maand na sy geboorte is sy ma oorlede en sy pa, wat dieselfde doopname as hy gehad het, is weer getroud. Sy halfsuster wat uit hierdie huwelik gebore is, is op tweejarige ouderdom dood. In 1946 het hy aan die Hoërskool Edenburg gematrikuleer en in 1949 het hy ’n BA-graad aan die Universiteitskollege van die Oranje Vrystaat verwerf. Hy het dit met ’n honneursgraad in wysbegeerte aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) opgevolg. Terwyl hy deeltyds verder gestudeer het, was hy van 1950 tot 1956 ’n omroeper en regisseur vir die SAUK in Johannesburg en Kaapstad. In 1954 het hy sy BA Honneursgraad in wysbegeerte aan UNISA met lof verwerf. Toe die Departement van Landbou se radiodiens Landbouradio in 1957 gestig is, het hy ’n radiobeampte geword en later was hy die hoof van hierdie departement se radiodiens. Sy belangstelling in wedvlugduiwe het daartoe gelei dat hy verantwoordelik was vir die duiwerubriek wat in die 1960’s deur die SAUK uitgesaai is, asook sy boek Skrik kom huis toe. Hy was ongeveer twaalf jaar oud toe hy ’n wedvlugduif op die brug van die Rietrivier opgetel het. Hy het die nommers op die duif se ring by die polisie gaan aanmeld. Kort daarna het hy ’n brief van die eienaar van die duif in Bloemfontein gekry waarin hy gevra is om die duif kos en water te gee en vry te laat wanneer die duif sterk genoeg sou wees.
In 1967 het hy sy MA-graad in wysbegeerte aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal en in 1978 is hy aangestel as direkteur van die Direktoraat Landebou-inligting; ’n pos wat hy tot met sy aftrede in 1994 beklee het. In 1969 is hy bevorder tot assistent-direkteur in die departement Landbou-inligting van die Departement van Landbou en in 1972 is hy tot adjunk-direkteur bevorder. In 1982 is sy studies afgerond toe hy sy PhD-graad in wysbegeerte aan die UP behaal het. Sy departement het hom by drie geleenthede na die buiteland gestuur om ’n studie van kommunikasiedienste binne landbouverband te maak. Van sy vakkundige artikels het in publikasies soos Conserva verskyn.
Hoewel hy buite die binnekringe van die letterkunde beweeg het, is hy gereken as een van die Sestigers, wat betekenisvolle verandering in prosa teweeg gebring het. Hy was by uitstek die skrywer wat die buitestanderfigure in Afrikaans geteken het en selfs sy jeugboeke het op hierdie figure gefokus. Hy het reeds op skool en Universiteit begin skryf en in 1953 gedebuteer met gedigte wat in die tydskrif Standpunte verskyn het. Later het daar gedigte van hom in Die brandwag en Tydskrif vir Letterkunde verskyn. In hierdie tyd het sy vervolgverhaal, Erfgename van Libertas, in Die Huisvrou, met Audrey Blignault as redakteur, verskyn. Terwyl hy as omroeper gewerk en deeltyds gestudeer het, het hy hoorspele, hoorbeelde en radiovervolgverhale geskryf.
Sy eerste roman, Gannavlei, was gebaseer op sy radiovervolgverhale, Die rebellie van Gannavlei en Die eerste burger van Gannavlei en het in 1958 verskyn. Hierin was die twee karakters buitestanders as gevolg van hul asosiale gedrag. Die son struikel, wat in 1960 verskyn het, was seker sy bekendste roman, wat gereeld aan skole en universiteite voorgeskryf word. Dit handel oor die uitwerking van oorlog, veral die rebellie tydens die Eerste Wêreldoorlog en die mynwerkerstaking van 1922 op ’n buitestanderfiguur. Die hoofkarakter is tydens die Eerste Wêreldoorlog oorlede en nadat hy by die goudmyne gaan werk het, is hy onwillig by die mynwerkerstaking van 1922 ingesleep. Met hierdie roman het hy ’n wesenlike bydrae gelewer tot die vernuwing wat die Sestigers in Afrikaanse prosakuns gebring het. In 1965 het hy die SAUK-prys vir hoorbeelde ontvang vir sy reeks Land van ons vaders. In dieselfde jaar het sy volgende roman, Die moeder, wat gehandel het oor ’n groepie oorlewendes wat na ’n kernontploffing in ’n kompartement toegesluit is. Byna dertig jaar het verloop voordat hy in 1994 sy volgende roman, Koms van die hyreën, geskryf het waarin die probleem van grondbesit aandag gekry het.
Van Niekerk het verder ook jeugverhale geskryf; die eerste een was Skrik kom huis toe, wat deur JC Kannemeyer as een van die beste jeugverhale in Afrikaans beskryf word. In 1985 het hy dit opgevolg met Karel Kouskop en Die haasvanger. Vir laasgenoemde het hy die Scheepers-prys vir jeuglektuur asook die MER-prys ontvang. Laasgenoemde prys het hom na aan die hart gelê. Hy het MER ontmoet toe hy net 23 jaar oud was en ’n vriendskap van byna dertig jaar het ontstaan. Karel Kouskop was in 1986 op die kortlys vir die Rapport-prys.
Sy veelsydigheid as skrywer het geblyk toe sy kortprosa in onder meer Tydskrif vir Letterkunde verskyn het. In 1963 het sy eerste bundel met kortprosa, getiteld Skepsels, gepubliseer en in 1965 is dit met die Eugène Marais-prys bekroon. Ander kortverhaalbundels wat hy die lig laat sien het, was Kort lewe van ’n reisiger in 1979 en Koors in 1997. In 1998 het ’n bundel kortverhale onder die titel Brandoffer verskyn. Hy is geïnspireer deur navorsing wat hy by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein gedoen het en stories wat aan hom vertel is.
Met sy poësie het hy ’n groot bydrae tot die Afrikaanse poësieskat gelewer. Sy eerste digbundel, getiteld Karoosange, het in 1975 verskyn. In die Junie 1976-uitgawe van Tydskrif vir Geesteswetenskappe het prof. TT Cloete geskryf dat die titel “die eenvoudige landelikheid en pretensieloosheid van hierdie verse” geïllustreer het. In 1996 het sy twee bundel, Dubbelster, met sommige van hierdie verse saam met veertig nuwes, verskyn. Tien jaar later, in 2006, het sy derde bundel, Nag op ’n kaal plein, verskyn. Dit was ’n digterlike verwerking van sy grootwordjare op Edenburg in die Vrystaat en het ontstaan nadat hy weer sy tuisdorp besoek het. Vier van sy vyf kinders was in November 2017 betrokke by ’n produksie getiteld Nag op ’n kaal plein, waarin sy poësie met musiek en toneelspel aangebied is. Al die gedigte van die gelyknamige bundel was deel van die verhoogproduksie.
In 2009, die jaar toe hy sy tagtigste verjaardag gevier het, is sy vierde digbundel, Lang reis na Ithaka, vrygestel. Die titel het gesinspeel op die lang reis wat Odysseus na die Trojaanse oorlog moes aanpak voordat hy eindelik by die huis aangekom het. Met sy vyfde bundel, Bleek planeet, het hy teruggekeer na die natuur en sy kommer uitgespreek oor wat met die skepping aan die gebeur was.
Hy het veral toekennings vir sy skryfwerk vir die radio ontvang. Benewens die SAUK-prys vir hoorbeelde wat hy in 1965 vir Land van ons vaders ontvang het, en weer in 1971 vir Kamer 99, het hy in 1977 die Artes-toekenning vir beste radioteks ontvang. Sy lewe en werk was in 1999 die onderwerp van die Afrikaanse Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se skolevasvra wat deur die Hoërskool Silverton gewen is. In 2001 het hy die Laureaat-toekenning vir besondere prestasie van die Alumniraad van die Universiteit van Pretoria ontvang. Neil van der Watt het gedigte uit sy bundel Karoosange getoonset en die koor van die Universiteit van Pretoria het dit uitgevoer.
Hy was twee keer geskei voordat hy In 1967 met sy derde vrou, Susan, getroud is en het altesaam vyf kinders gehad. Hy is op 31 Desember 2022 in Pretoria oorlede.
Daantjie Badenhorst