JANS RAUTENBACH (1936-2016)
Jans Rautenbach was een van Suid-Afrika se bekendste rolprentvervaardigers en -regisseurs wat tien rolprente tussen 1968 en 2015 die lig laat sien het.
Hy is op 22 Februarie 1936 in Boksburg gebore en het aan die Hoërskool Voortrekker gematrikuleer. Hy het sy rolprentloopbaan by Jamie Uys -filmproduksies begin en was die assistent-regisseur van die rolprent Kimberley Jim, waarvan Emil Nofal die regisseur was en waarin die Amerikaanse sanger Jim Reeves die hoofrol vertolk het. Hy het ook ’n geringe rol in hierdie rolprent vertolk. Nofal en Uys se paaie het later geskei en Nofal het sy eie produksiemaatskappy saam met Rautenbach begin. In 1965 was hy die produksie-assistent van die uiters omstrede rolprent Debbie, wat aanvanklik heeltemal verbied is, maar later met ’n hoë ouderdomsbeperking vrygestel is.
Hy was nooit bang om in sy rolprente aandag aan omstrede kwessies te gee nie. Dit het duidelik gebly uit sy eerste Afrikaanse rolprent, Die kandidaat, wat in 1968 vrygestel is. Die kwessie van wat ’n ware Afrikaner in daardie tyd was, was onder die soeklig toe die hoofkarakter, gespeel deur die radio-omroeper Roelf Jacobs, aansoek gedoen het om lidmaatskap van ’n Afrikanervereniging, maar wie se verhouding met ’n Engelssprekende meisie ’n probleem vir die keurkomitee was. Die rolprent is onder sensuur geplaas aangesien dit die destydse beleid van apartheid bevraagteken het. Dit was die laaste rolprent waarin Gert van den Bergh gespeel het; die nag nadat die rolprent klaar verfilm is, is hy aan ’n hartaanval oorlede. Gert se seun, Regardt, wat natuurlik self ’n bekende akteur is, het as jong seun in die rolprent verskyn.
Sy volgende rolprent was nie net nog meer omstrede nie; dit was grensverskuiwend. Katrina het die verhaal vertel van ’n priester, gespeel deur Joe Stewardson, wat ’n verhouding met ’n “bruin” vrou, gespeel deur Jill Kirkland, aanknoop. Haar karakter, Katrina, doen haar as ’n blanke vrou voor en verlaat Suid-Afrika saam met haar seun, maar haar ware identiteit word ontbloot wanneer hulle na die land terugkeer. Kirkland het ook die temaliedjie van die rolprent gesing. Nog ’n treffer uit die rolprent was “Cry to me” van The Staccatos, wat reeds aan die begin van 1969 ’n treffer in Suid-Afrika was, maar weer tot die amptelike treffersparade toegetree het nadat die rolprent vrygestel is. Weer eens het die sensuurraad gedreig om die rolprent te verbied, maar dit is eindelik vrygestel. Onder die ander akteurs in die rolprent was Carel Trichardt, Katinka Heyns, Don Leonard, Cobus Rossouw en Regardt van den Bergh.
Dieselfde akteurs was te sien in sy derde rolprent, Jannie tot siens, wat in 1970 uitgereik is. Hierdie rolprent het afgespeel in ’n gestig wat ’n mikrokosme van die destydse Suid-Afrikaanse samelewing verteenwoordig het. Dit was seker die eerste “swart” komedie in Afrikaans en met hierdie rolprent het Rautenbach weer eens baanbrekerswerk verrig.
In Pappa lap, wat in 1971 vrygestel is, het hy die verhaal vertel van ’n arm wewenaar met ’n sewentienjarige dogter wat van haar matriekafskeid, ’n aantreklike seun in haar klas en ’n lang wit rok gedroom het. Die toneel waartydens Katinka Heyns, wat die hoofrol vertolk het, op ’n fiets gery het met ’n spul flaminke in die agtergrond, was legendaries.
Ongewenste vreemdeling het in 1974 verskyn, en was gebaseer op ’n radiovervolgverhaal van CF Beyers-Boshoff. Rautenbach het die verhaal tot ’n rolprentdraaiboek verwerk en die regie behartig met Emil Nofal wat as vervaardiger opgetree het. Barry Trengove, Marié du Toit, Sann de Lange en Regardt van den Bergh was deel van die rolverdeling.
In teenstelling met sommige van sy vorige rolprente was Eendag op ’n reëndag ’n romantiese rolprent met Katinka Heyns en Regardt van den Bergh in die hoofrolle. Jana Cilliers, Marga van Rooy en André Walters was ook in hierdie rolprent te sien.
Rautenbach se volgende rolprent, Blink Stefaans, het die storie vertel van ’n vaal klankingenieur wat deur niemand raakgesien is nie en ’n dubbele lewe begin lei het. Onder die akteurs in hierdie rolprent was Regardt van den Bergh in die hoofrol, Jana Cilliers, Zoli Marki, George Ballot, Dana Niehaus en At Botha
Broer Matie was sy laaste rolprent in net meer as dertig jaar en weer eens het hy die gevolge van apartheid kaalvuis aangepak. Joe Stedwardson het die rol vertolk van ’n boer wat skielik sterf en in sy testament bepaal dat ’n bruin predikant, gespeel deur Simon Bruinders, hom moes begrawe. Die kerkraad moes hieroor besluit en daar was ewe veel lede wat ten gunste daarvan was en wat dit teengestaan het. Die rolprent het in die Klein Karoo afgespeel en die tonele buite die kerk is in De Rust geskiet. Die tonele binne die kerk, waar die kerkraadsvergaderings plaasgevind het, is meer as ’n duisend kilometer daarvandaan by die NG kerk Boksburg verfilm. Die sangeres Natalia da Rocha het die liedjie “Bly by my” in die rolprent gesing en akteurs soos Louw Verwey, prof. Kristo Pienaar, Patrick Mynhardt en Gerrit Schoonhoven het die rolle van kerkraadslede vertolk. Paul Lückhoff het die rol van die hoofkarakter se seun vertolk en Douglas Fuchs was die bevelvoerder van die eenheid waar Lückhoff se karakter sy diensplig verrig het.
Abraham, wat in 2015 vrygestel is, was Rautenbach se heel laaste rolprent en weer eens is dit uiters gunstig ontvang. Dit het afgespeel op die platteland en het die verhaal vertel van ’n talentvolle beeldhouer wat in armoede geleef het maar tog hard probeer om sy gesin te versorg. Hannes Muller, Franci Swanepoel en Jill Levenberg was deel van die rolverdeling.
Op 2 November 2016 is Rautenbach oorlede aan komplikasies weens longontsteking.
Daantjie Badenhorst