22 JANUARIE – DIE WONDER VAN ’N NUWE TAAL
Frans het aan die Kaap verdwyn, maar wat het van Hollands geword? Amptenare het dit wel gebruik, maar in die mond van vryburgers, trekboere, slawe en Khoi-Khoin het ’n nuwe taal ontwikkel. Besoekers het dikwels kommentaar daarop gelewer. OF Mentzel, wat van 1733 tot 1741 amptenaar was, skryf dat die taal van die plattelanders ewe min suiwer Hollands was as wat die Duitse boere suiwer Duits praat. As mens die vroue sou vra of hulle ’n Bybel het, sou hulle antwoord: “Ons heeft geen Bibel”. Vra jy dan hoeveel onse daar op ’n pond is, word hulle rooi van skaamte. ’n Mens kan aflei dat “ons” pleks van “wij” as onderwerp van die sin toe al taamlik verbreid was. Taalkundiges skryf dit aan Khoi-invloed toe.
Die eerste Afrikaanse woorde is eintlik al van die einde van die 16de eeu af deur skeepslui opgeteken wat die Kaap aangedoen het. Die taalkundige, Christo van Rensburg, sit in sy boek So kry ons Afrikaans en in ’n DVD Die wonder van ’n nuwe taal in Afrika (ULULA-produksies) die proses uiteen. Die Khoi-Khoin en die sprekers van ander tale, veral Nederlands, maar ook Portugees en Engels, kon mekaar verstaanbaar maak met behulp van nuwe woorde. Van Rensburg sien daarin ’n nuwe taal wat begin ontwikkel het. Die Skiereiland se Khoi-Khoin, die Goringhaicona-stam of die Strandlopers, het ’n beduidende rol in hierdie merkwaardige proses van onderlinge verstaanbaar maak gespeel.
Van die woorde wat onderling gebruik is, was (broodgoed; bro=brood), môre (Nederlands: morgen; die eerste optekening van ’n Afrikaanse woord sonder die -g- van Nederlands), ook gee (ghe), en effens later hê, soos dit tans in Afrikaans voorkom. Ná Van Riebeeck se koms het Hollands dieper spore in hierdie wêreld begin trap. Baie stroompies loop al van heel vroeg af saam in Afrikaans, die nuwe taal wat hier ontstaan het. Van Rensburg noem (1) Khoi sonder Nederlands: aitsa (dagga, boegoe, kierie); (2) uit Khoi asook Nederlands: brokwa; (3) aangepas uit Nederlands: ons as onderwerp van ’n sin; (4) uit elemente vanaf die Ooste: baie; (5) uit Portugees: maskie, met die betekenis soos in Kaaps bekend: alhoewel. Die oor-en-weer beïnvloeding van die Kaapse taal en Hollands is uiteraard baie onduidelik. Al was ’n klompie Afrikaanse woorde al voor die koms van Van Riebeeck aan die Kaap te hoor, beteken dit nie dat Afrikaans toe al gepraat (dus in sinne gebruik) is nie. Die genoemde woorde wat voor 1652 opgeteken is, was as ’t ware voorlopers van Afrikaans.
Die Khoi-Khoin maar ook vryburgers wat ander tale soos Frans gepraat het, het Hollands probeer praat, maar kon die teiken dikwels nie tref nie. Onderling het hulle mekaar se tale aanhoudend beïnvloed. Groot getalle ontheemde Khoi-Khoin, waarvan baie hulle eie dialek van Afrikaans gepraat het, het aan die begin van die 18de eeu oor die Hottentots-Hollandberge getrek. Veeboere het gelyktydig toenemend dieselfde koers ingeslaan. Twee groepe Afrikaanssprekendes, die Khoi-Khoin en die veeboere, het hul soorte Afrikaans, wat nie eenders geklink het nie, vir bykans ’n honderd jaar, onder mekaar gepraat.
Hoe het hierdie vroegste soorte Afrikaans geklink? Omdat taal nie sommerso verdwyn nie, hoor ons volgens Van Rensburg nog reste daarvan in Kaaps, Griekwa-Afrikaans in die Oranjeriviergebied en ten slotte die Afrikaans van die veeboere wat met die latere Groot Trek die binneland ingeneem is (kyk by 14 Maart en verder). Baie Voortrekkers het uit die Oosgrens-distrikte gekom. Dié trek het Afrikaans in die vroeëre Vrystaat en Transvaal ingeneem. Luister mens mooi na die taal van mense van ’n geslag of drie, vier gelede, hoor jy baie van daardie Afrikaans. Dit is ook neergeskryf, baie naby aan hoe die mense gepraat het: agint, gemeinte, grou, vinnag, hiersou, Nicou, sperskies, struksvye, spensioen, danatoe, hoevel, suffel, ammal, woorde met ’n kort vokaal, amborstig, ambeeld, ok. Die basis van die Afrikaans wat vandag gelees en geskryf word, is dáár te kry.