KRYGSGEVANGENEKAMPE WORD LEERSKOOL VIR RUGBY
Die 2016-rolprent Modder en bloed van Sean Else vestig die aandag op die groot rol wat sport en veral rugby, gespeel het om die Boere-krygsgevangenes van verveling te red. Sowat 27 000 Boere (volgens party bronne tot 32 000) was in krygsgevangene- en ander kampe. Minstens 24 000 van tussen sewe en 78 jaar is na oorsese kampe in Sint Helena, Ceylon (Sri Lanka), Indië en Bermuda (in daardie volgorde).
Talle gevangenes het op pad na die kampe of uit die kampe probeer ontsnap. ’n Paar het van treine weggekom. Een ontsnapping het wêreldwyd die aandag getrek. Vyf gevangenes het van ’n Britse skip afgespring en is deur ’n Russiese skip opgepik waarna hulle ná vele omswerwinge weer gaan veg het. Die boeiende verhaal word vertel in Die vyf swemmers deur CJ Barnard (1988). JL de Villiers vertel sy verhaal in Hoe ek ontsnap het. De Villiers was oortuig hy kan as Indiër aangesien word. Hy het homself swart gesmeer en, geklee soos ’n Indiër, van die Trichinopolykamp weggekom.
In die kampe was verveling ’n groot probleem. Floris van der Merwe (Sport in die Boerekrygsgevangekampe tydens die Anglo-Boereoorlog 1899-1902) het bevind dat rugby die gewildste tydverdryf in hierdie kampe was. Bermuda was die uitsondering, want die ruimte op die eilandjies was beperk en die terrein te rotsagtig. Op Sint Helena het die Deadwood- en Broadbottomkampe, 8 km van mekaar, gereeld teen mekaar gespeel. Simpatiseerders in Nederland het balle gestuur. Rugby het só vinnig gegroei dat verskeie spanne vanaf Desember 1900 in ligas teen mekaar gespeel het. So was daar die Exiles, Nooitgedacht, Pirates, Federals, Vierkleur, Eendracht, Mausers, Krugerites en Boers, die meeste ook met ’n tweede span! Die Britse sportkultuur van die hedendaagse Suid-Afrikaner het in ’n groot mate sy beslag in dié kampe gekry. Voor die oorlog was slegs die Boere uit ’n stedelike omgewing vertroud met die Britse sporttradisies. Die vervelige kamplewe het die Boere gedwing om rugby te speel, skryf Van der Merwe.
Daar was ook ander aktiwiteite: debat gehou, handel gedryf, koerantjies uitgegee en artikels gemaak wat elders as oorlogsaandenkings verkoop is. Die artikels, soms uiters kunstig, is gemaak van byna elke denkbare voorwerp: goue, silwer- en kopermunte, been, kondensmelk- en boeliebiefblikkies en hout.
Op die skoolbanke het bebaarde burgers en kommandante saam met die seuns en jongkêrels gesit. Onder die vakke wat onderrig is, was boekhou, rekenkunde, wiskunde en tale. In die meeste gevalle is die Transvaalse leerplan gevolg, maar in een skool op Sint Helena die Kaapse. In die Diyatalawa-kamp op Ceylon was die Nederlands-gebore Omius van Oostrum, ’n groot onderwysman, een van die onderwysers. Hy het les gegee in Nederlands, Duits, Frans, wiskunde en die metodiek van onderwys. Onder die mense wie se opleiding in die kampe begin het, was kmdt. CTM Wilcocks, later Administrateur van die Vrystaat, die letterkundige EC Pienaar en ’n aantal predikante, dokters en ander leiersfigure.
Daar was ook gereeld kerkdienste; op Bermuda is ’n oplaag Gesangeboeke verbied omdat Psalm 68: “De Heer zal opstaan tot den strijd” die sensor laat skrik het! Die sensor het ook gemeen Psalm 130 gaan die gevangenes vergeefse hoop gee: “Hoop op den Heer, gij vromnen: / Is Israël in nood / Er zal verlossing komen”.
Verskeie boeke oor die lewe van die krygsgevangenes is gepubliseer. Hendrik de Graaf, ’n gebore Nederlander, wat op 21 Oktober 1899 by die Slag van Elandslaagte gevang is, was in die Deadwoodkamp op Sint Helena. Hy het ’n dagboek gehou wat ná sy dood deur PJ Nienaber uitgegee is onder die titel Boere op St. Helena: die oorlogsdagboek van H. de Graaf (1950). De Graaf maak melding van twee insidente op Sint Helena waarin krygsgevangenes doodgeskiet is. Een van die slagoffers was die negentienjarige seun van ds. MJ Goddefroy, redakteur van die kerkblad van die Hervormde Kerk, De Hervormer. Dit het van September 1899 tot Mei 1900 verskyn en is in 1904 hervat.