22 MEI – VRYHEID EN VROUE-EMANSIPASIE: “DIT WAS HEERLIK OM JONK TE WEES!”
Baie jong Afrikaners in die Kaapkolonie het die twee republieke as ’n uitkoms beskou. ME Rothman, later die skryfster MER, gebore in 1875 in Swellendam, vertel hoe baie Swellendammers nie meer hulle tradisionele ambagte – wamakery en die verwante timmerwerk, smidswerk en looiery – kon beoefen nie. Daarby het die skole jong Afrikaners Engelse probeer maak.
In dié tyd toe die Engelse meerderwaardigheidsgevoel op sy ergste was, en die aansien van die Afrikaners ’n laagtepunt bereik het, is baie jong mense uit die Kaapkolonie na die twee republieke.
Vir die jong Bolanders wat Transvaal toe is, “was dit soos ’n vis wat gesukkel het in ’n vlei en toe in ’n mooi rivier uitkom”, sê MER. Dit was nie die salarisse en werksgeleenthede wat baie jong mense uit die Kaapkolonie getrek het nie. Daar was baie méér. In plaas daarvan dat hulle hul eie taal moes opsy laat en verag en as kind gestraf word oor die gebruik daarvan, was dit hul eie taal wat gebruik is in die Volksraad, die geregshof, die staatsdiens en die skool.
Offisieel was dit “Hollands”, maar in die praktyk was dit gewoonlik Afrikaans. SJ du Toit het gesê: “Engels en Hollans is reeds as offisi’ele tale erken – Holl. mar het di naam en Afrikaans di daad, want in die Volksrade en Parlemente word ni Hollans nie mar Afrikaans gepraat. Di skoolmeester gebruik oek Afrikaans.” Die skoolboeke was in Nederlands, maar die onderwysers en kinders het Afrikaans gepraat. Sy bewering word gestaaf deur opmerkings in Transvaalse onderwysdebatte, en die getuienis van taalstryders en skrywers soos JHH de Waal, GR von Wielligh en MER.
Afrikaans het wel verdedigers in Transvaal gehad. JH de la Rey, die latere generaal, het in 1898 in ’n onderwysdebat in die Transvaalse Volksraad gesê dat pogings om Afrikaans teen te gaan, vergeefs sou wees. Afrikaans is ewe goed as Hollands vir die beskaafde uitdrukking van gedagtes.
MER sê: “In plaas van die geskiedenis van die eie volk as ’n belaglike en veragtelike flentertjie in ’n Engelse skoolboek teë te kom, is dit as eervolle besitting bestudeer.” Die vlag was nie die Union Jack nie, maar die Vierkleur, en die volkslied wat die hart laat klop het, was nie “God Save our Gracious Queen” nie, maar “Heft Burgers” in die Vrystaat en “Kent gij dat Volk” in Transvaal.
“En al jou vriende was mense wat net soos jy behae gehad het in die selfstandigheid en al sy uitinge, selfs ook in die strikke en linte, die pluime en die uniforms, die optogte en die staatskoetse, waarin die Presidente by groot geleenthede vervoer moes word; en veral in die staatsartillerie met sy dissipline, sy Krupps en sy Creusots – behae in al die dinge wat ’n jong volk se hart so sterk. Ai, dit was dae! Dit was heerlik om jonk te wees, en dit in die Republieke!”
MER moes elke dag 10 kilometer per fiets werk toe en terug ry. Hierdie fietsryery was eintlik ’n feministiese demonstrasie van vroueselfstandigheid. Met die fiets kon die vrou na ander plekke, selfs ander dorpe, ry sonder om afhanklik te wees van die man se geleentheid en gewilligheid. Vroue wat fiets ry, was wêreldwyd nog ’n nuwigheid. Baie mense was bitterlik daarteen. Die teenstanders het vroue op fietse skeldwoorde toegeroep soos “onvroulik”, “onbeskeie”, “onbeskaam” en “mannetjiesvroue”.
Vroue wou graag vinnig van plek tot plek kom en het ondanks teenkanting die fiets nie laat staan nie. Tog het hulle planne gemaak om die kritici nie nog meer skietgoed te gee nie. Aan die some van rokke het die vroue lussies vasgenaai wat om die enkels aangeheg was sodat so min as moontlik van die vroue se bene sigbaar sou wees by die ry. Sommige fietse het spesiale afweerraampies gehad sodat die lang wye rokke nie in die agterwiel sou vaswaai nie.
MER sê dat dit die nederige trapfiets was wat die beginselstryd vir die deelname van vroue aan snelvervoer gewen het – toe die motor daarna kom, was daar geen teenstand teen die gebruik daarvan deur vroue nie.
Sy was nie sonder kritiek op Transvaal nie. En tog het die drie jaar in Transvaal van MER ’n oortuigde republikein gemaak en ’n nog groter teenstander van die Britse imperialisme as voorheen. Kruger se nasionalisme was nie ’n leer van haat nie, betoog sy in 1935; dit was wel “’n leer van beskerming van wat in my volk goed is: van verdediging daarvan tot die dood toe; van afweer van wat vir my volk sal kwaad doen, en wat die goeie en gesonde in hom negeer en verwaarloos.
“Ons het in Transvaal geleer wat dit beteken om ’n Afrikaanse volk te wees, ’n suiwer Afrikaanse volk. So sal ons seker nie weer kan wees nie, maar wie dit gevoel het, kan dit nooit vergeet nie.”