AFRIKAANS WORD UNIVERSITEITSTAAL

Die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en Suid-Afrika het op 2 April 1918 tot stand gekom. Laasgenoemde het ses samestellende universiteitskolleges gehad: die Rhodes-, Hugenote-, Grey-, Natalse en Transvaalse Universiteitskolleges, en die SA School of Mines and Technology. In 1921 het die Potchefstroomse Universiteitskollege bygekom. Die GUK, TUK en die School of Mines was die voorgangers van die Universiteite van die Oranje-Vrystaat, Pretoria en die Witwatersrand. Die Universiteit van SA het geëksamineer en grade toegeken.

Dié Universiteit was gebonde aan ’n beleid van taalgelykheid. Hoewel Engels as onderrigmedium eers voorrang geniet het bo Afrikaans, is laasgenoemde gaandeweg al hoe meer gebruik. Dit is in groot mate aan die Afrikanerstudente te danke. Onder leiding van die kort tevore gestigte Afrikaanse Studentebond het studente van die geaffilieerde kolleges in ’n petisie na die Raad en Senaat van dié Universiteit, en die minister van onderwys, leerstoele in Afrikaans en die erkenning van Afrikaans “als medium van onderwijs en eksamens” gevra.

Die Universiteit het Afrikaans inderdaad as onderrig- en eksamentaal erken. Op 2 Augustus 1918 het DF Malherbe, wat sedert 1910 hoogleraar in moderne tale aan die GUK was, ’n mededeling op die kennisgewingbord geplaas: “Studente word tans toegelaat om Afrikaans als medium te gebruik bij alle eksamens van die Universiteit van Suidafrika”. (Só is Suid-Afrika destyds gespel.) In 1919 is Afrikaans as skoolvak en voertaal dwarsdeur die skool tot by matriek gewettig.

Van die begin van 1919 af was daar twee leerstoele in Afrikaans – dié aan die GUK met DF Malherbe, en aan die US met JJ Smith as professor. Die GUK-raad het op 6 September 1918 besluit om ’n leerstoel in Afrikaans in te stel en Malherbe tot professor daarin te benoem. Die Huisgenoot, met Smith as redakteur, het Malherbe in Oktober 1918 die eerste professor in Afrikaans genoem en hom geluk gewens. Die Raad van die US het op 21 September 1918 besluit om ’n Afrikaans-leerstoel in te stel. Kort daarna het TH le Roux professor in Afrikaans aan die TUK geword.

Die taalmedium van ’n vak is meestal deur die taalpatriotisme van sy dosente bepaal. Talle studente uit ook ander vakke was teenwoordig toe prof. DF du T Malherbe, chemie-professor by Pretoria, in April 1918 ’n Afrikaanse “demonstrasie”-lesing gegee het. Nog ’n pionier was dr. JE Holloway, later bekende finansier en diplomaat. Geskiedenis is van die eerste vakke wat by US en die GUK Afrikaans en/of Nederlands geword het.

Die latere Afrikaanse universiteite was eers Engels, daarna tweetalig; toe die Engelse universiteite eentalig bly, het universiteite met baie Afrikanerstudente Afrikaans aanvaar. Potchefstroom was die eerste wat alle lesings in Afrikaans aangebied het. Stellenbosch het gevolg. Die Universiteit Pretoria het in 1932 besluit om Afrikaans te word, en die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat ná ’n taalstryd in die jare 20 tot 40. Opmerklik by UKOVS was dat die voorvegters vir Afrikaans briljante akademici was wat doktorsgrade in die natuur- en geesteswetenskappe aan Nederlands- en Duitstalige universiteite met lof of die hoogste lof behaal het.

Nederlands het vir Afrikaanssprekendes tot vandag ’n belangrike intellektuele taal gebly. Afrikaners het dikwels aan Nederlandse universiteite gaan studeer – volgens Fransjohan Pretorius minstens 380 tussen 1887 en 1939. Onder hulle was pres. Jan Brand en sy vader Christoffel Brand, pres. Steyn, genl. Hertzog en sy seun dr. Albert Hertzog. Verskeie mense wat in hierdie boek ter sprake kom, het vroeër in die 19de eeu in Nederland kwalifikasies verwerf: ds. GWA van der Lingen, oprigter van die Paarlse Gimnasium, TF Burgers, president van Transvaal en Andrew Murray en sy broer. Beurse is ná die Eerste Vryheidsoorlog en die nuwe belangstelling in die lotgevalle van die Afrikaners beskikbaar gestel deur die Nederlands-Zuid-Afrikaansche Vereeniging en die Studiefonds voor Zuid-Afrikaansche Studenten. Latere studente sluit in talle uit die taal- en letterkundige wêreld soos CM van den Heever, TH le Roux, WEG Louw, Elizabeth Conradie, H van der M Scholtz (later rektor van die UOVS), J du P Scholtz van die UK, en WJ Badenhorst van die UOVS, Gerrit Dekker van Potchefstroom en historici soos GD Scholtz en PJ van der Merwe. Nog een was WMR Malherbe, wat die regsfakulteit aan die Universiteit van Stellenbosch begin het. Hy en adv. HA Fagan was volgens regter VG Hiemstra die baanbrekers vir Afrikaans as regstaal. Terloops, die eerste Afrikaanse uitspraak in die Appèlhof is op 27 Oktober 1932 deur regter FW (Willie) Beyers gelewer.