23 FEBRUARIE – KONTRAS TUSSEN SENDINGSTASIES

Die reisgeselskap van De Mist kon agterkom in watter moeilike omstandighede baie mense lewe. Op Matjiesfontein in die Roggeveld het Lichtenstein geluister na die ervarings van die “dikke” Gerrit van Wyk se dogter. Byna twee jaar tevore het slawe en Khoi-Khoin haar man, Cornelis Coetsee, haar skoonvader en nog drie mense voor haar oë vermoor, die plaas leeg geplunder en met die geld, beeste en ander besittings gevlug. Sy is meegevoer en het ternouernood aan die dood ontkom. ’n Broer van die vermoorde en sy suster het op die moordplaas gewoon. Sy het Hollands suiwerder as ander plattelanders gebruik, en die tale van die Xhosas, Khoi-Khoin en San geken.

In Desember 1803 het die reisgeselskap van De Mist die Herrnhutters se sendingstasie bereik. Ongeveer 200 huise, omring deur goed versorgde tuine, het sowat duisend Khoi-Khoin gehuisves. Daar was vyf sendelinge, wat saam met hul vroue in een huis gewoon het. Die naam is in die Bataafse tyd na Genadendal verander. Die kerkgebou, huise en werkplase was uitstekend onderhou en messemakery was ’n welvarende bedryf. Na aanleiding van die Herrnhutters het die boere van “herneutermesse” gepraat.

Verder oos het De Mist-hulle die veelbesproke Coenraad de Buys teëgekom wat jare lank tussen die Xhosas gewoon het. Sy buitengewone liggaamsbou, fiere houding en hoë voorkop met die skerp omlynde gelaatstrekke het op Lichtenstein die indruk van ’n Griekse godheid geskep. De Mist se vrae oor die Xhosas het hy beantwoord met ’n beskeie terughoudendheid, wat ’n aangename indruk gelaat het.

’n Groot kontras met Genadendal was die sendingstasie Bethelsdorp van De Mist se jeugvriend, dr. JT van der Kemp. Hy was ’n dokter wat tot inkeer gekom het ná ’n ramp waarby sy vrou en enigste kind verdrink en hy self ’n noue ontkoming gehad het. Hy was een van die sendelinge wat die Londense Sendinggenootskap in 1799 gestuur het. Op Bethelsdorp het almal in lendelam hutte gewoon. Lichtenstein skryf: “Op ’n uitgestrekte vlakte sonder een enkele boom, ja byna heeltemal sonder drinkwater, staan 40 tot 50 klein hutte in die gedaante van halwe koeëls, waarin geen mens regop kan staan nie. […] Omtrent in die middel staan ’n grondhut met ’n strooidak en vlak langsaan ’n paar hutte vir die sendelinge. Tans reeds sien alles vervalle daar uit, soos dit ook slordig en armoedig gebou is. Ver in die rondte is in die geheel omtrent geen struik te sien nie, want wat daar maar van dié aard te vinde was, is tot brandstof gebruik; die hele grond is oral kaal en plat getrap; nêrens is enige spoor van menslike vlyt nie.”

Die traagheid en morsigheid op Bethelsdorp het ’n teenstelling gevorm met die ywer van die boere om hul plase te herbou. So het die weduwee en kinders van ene veldkornet Van Rooyen wat deur die Xhosas vermoor is, die landerye netjies geskoffel en die gaste met druiwe en spanspek onthaal. Tydelik het die gesin in ’n meule gewoon, die enigste deel van die pragtige opstal wat nie verbrand is nie. In die omgewing van Graaff-Reinet het vier, vyf gesinne in groepe bymekaar gebly omdat hulle só makliker kon weerstand bied teen aanvallers.