TOLSTOI BEWONDER DIE RIDDERLIKE DE LA REY

In die somer van 1901 tot 1902 het genl. De Wet vir heelwat opwinding gesorg. Hy en sy manne het die aand voor Kersdag 1901 geluidloos die steil hange van Groenkop tussen Bethlehem en Harrismith uitgeklim nadat die Britse wagte aan die voet van die kop doodgeskiet is. Die voorste burgers was op die kop voordat die Britte besef het wat aangaan. Baie is gedood of gewond. Vir die Britte was De Wet se oorwinning baie pynlik en Kitchener het besluit om nog blokhuislinies op te rig. Kitchener het drie groot dryfjagte in 1902 teen De Wet georganiseer, maar hy en sy mense het telkens ontsnap.

De la Rey het in dié tyd twee oorwinnings behaal – die eerste op 25 Februarie 1902 by Yzerspruit naby Wolmaransstad. ’n Hele kolonne het in die hande van De la Rey geval en hy het ammunisie vir ’n baie lang tyd gehad. Sy grootste oorwinning was sowat twee weke later. Ná Yzerspruit het lord Methuen, tweede in bevel ná Kitchener, van Vryburg na Klerksdorp opgeruk om met De la Rey te gaan afreken. Methuen het vir die nag op Tweebos gaan kamp opslaan. Dis glo daar naby dat Nicolaas van Rensburg van Wolmaransstad, bekend as “die Siener”, by De la Rey opgedaag het. De la Rey het hom tegemoet gestap en gevra: “Dag, Oom Nicolaas, hoe lyk dit, ek wil mos môre vir Methuen vang?” Van Rensburg het glo sy kop ’n rukkie laat sak en gesê: “Generaal, jy is reg, môre vang jy hom. Ek sien die rooi bul kom aan, maar sy horings hang en ek sien ons mense tussen sy waens loop.”

Die Britte was die oggend nouliks in beweging, toe De la Rey se burgers hulle aanval. Methuen het daarna die agterhoede versterk. Dit was net waarop De la Rey gewag het. Ander afdelings wat hy teruggehou het, het die res van die kolonne aangehou. Groot verwarring het in Britse geledere ontstaan en baie het gevlug. Methuen is in sy been gewond en het in die Boere se hande geval.

Kaptein Japie de Villiers vertel dat ’n veldkornet hom ontbied het om met Methuen te praat. Dié het gevra of sy dokter daar naby is. De Villiers het na die Engelse dokter gery en gesê dat sy generaal gewond lê en hom daar wil hê. Die dokter het geantwoord: “What nonsense!” De Villiers het hom toe met sy perd na Methuen aangejaag. Hy het by sy generaal op sy knieë geval en nadergekruip, die wond ondersoek en vasgestel dis ’n ernstige breuk. Terwyl hy besig was om die been te spalk, het De la Rey opgedaag, sy hoed afgehaal, Methuen gegroet en gesê hy is jammer om hom in dié toestand aan te tref. Methuen het gevra om in ’n huis te bly, maar De la Rey het geantwoord dat die Britte almal afgebrand het. Mev. De la Rey het Methuen ook besoek, vir hom beskuit gebak en haar enigste hoender vir hom geslag. Nadat sy been gespalk is, is hy na die plaas Gestoptefontein gestuur en die volgende dag onder bevel van Tom Leask, De la Rey se neef, na Klerksdorp met Methuen se eie waentjie en vier muile.

De la Rey se optrede het ’n groot indruk gemaak op die Russiese skrywer Leo Tolstoi, wat pro-Boer was. Hy was bly oor De la Rey se oorwinning, maar het Methuen se vrylating heelhartig toegejuig. “Hierdie daad het die Engelse doodeenvoudig stomgeslaan,” het hy gesê.