23 MEI – WAAROM TRANSVAAL GEEN TAALBEWEGING GEHAD HET NIE

Transvaal kón Afrikaans as ’n amptelike taal gehad het. JD du Toit (Totius) deel in die biografie van sy vader, SJ du Toit, mee dat daar in 1881 ’n poging aangewend is om Afrikaans as die amptelike taal te erken. Een van die GRA-manne – miskien Du Toit self – het met die leiers, onder andere Kruger, gaan praat hieroor. Hulle was eenparig daarvóór, maar wou hê dat die volk dit vra. Op ’n volksvergadering was die mense eenparig vir Afrikaans.

Tog het dit tot 1888 geduur voordat die Volksraad ’n taalwet aanvaar het. Tot voor die ontdekking van goud in 1886 en die toestroming van duisende uitlanders na die goudveld is “algemeen erken en aanvaar” dat die taal van Transvaal Hollands is, skryf GD Scholtz. Die koms van soveel vreemdelinge in ’n kort tyd het vrese en kommer oor die landstaal laat ontstaan. Om die Afrikaanse karakter van die staat te behou, is Hollands erken. Wet 10 van 1888 bepaal: “De Hollandsche taal is de officieele taal des lands. Alle andere talen zijn vreemde talen”.

Waarom nie Afrikaans nie? Toe die wet aangeneem is, was die standaardisering van Afrikaans nog in ’n vroeë stadium, en die gedrukte Afrikaans was onvas. Dit sou heelwat teenstand van amptenare met ’n opleiding in Engels of Nederlands uitgelok het as hulle dié halfpad gestandaardiseerde taal moes gebruik. Ook onder Afrikaners het die Afrikaanse taalbeweging min steun gehad.

Taalwette word dikwels nie uitgevoer nie. Wat die gebruik van Hollands vergemaklik het, was die teenwoordigheid van talle Nederlanders. Vir die immigrasie van soveel Nederlanders was daar ’n goeie rede. Kruger wou die landsbestuur op ’n hoë peil bring om die land se onafhanklikheid te behou. Hulle moes help om die jeug op te voed, die land te bestuur en die ekonomie op te hef. Nederlanders het inderdaad spoorweë gebou, banke opgerig, skoolgehou, as joernaliste gewerk, boekwinkels opgerig, as amptenare gedien, en so meer. Hulle was lojaal aan Transvaal en talle het in die Anglo-Boereoorlog gaan veg en gesneuwel.

Maar Afrikaans was as ’t ware ingesluit in Hollands. In die praktyk was Nederlands die amptelike taal in gedrukte en geskrewe stukke. In die staatskantore is die publiek egter meestal in Afrikaans gehelp. Dit was die spreektaal van die Volksraad, al is die notules en wette in Nederlands gepubliseer. Hofuitsprake is in keurige Nederlands gerapporteer. “Hollands” was in werklikheid Nederlands plus Afrikaans.

Hoewel kennis van Nederlands noodsaaklik vir goeie loopbane was, is die taalbeleid soepel toegepas. Transvaalse Afrikaners sonder perfekte skryfvaardigheid in Nederlands kon belangrike poste beklee. Die faktor wat krag aan taalbewegings gee, het dus ontbreek, naamlik taaldiskriminasie wat mense verhinder om gesogte loopbane te beklee. Die landszonen, Transvaalse burgers, het voorkeur gekry.

Die taal was ’n simbool van onafhanklikheid. Wat Afrikaners meer taalbewus gemaak het, was die vyandigheid van die uitlanders. Vir hulle was dit ’n grief dat Hollands die amptelike en onderwystaal was, hoewel Transvaal tegemoetkomend teenoor Engelssprekendes was. Op grond van Wet 15 van 1896 is staatskole vir Engelse kinders gestig waar hulle teen geringe of geen betaling in hul eie taal onderwys kon ontvang en gaandeweg die amptelike taal kon aanleer.

Een van die gegriefdes was Charles Leonard, voorsitter van die Transvaal National Union. Hy was ’n opsteller van ’n berugte brief wat aan dr. Leander Starr Jameson oorhandig is met ’n besoek aan Johannesburg in November 1895. Dit was ’n versoek om, wanneer daar ’n opstand in Johannesburg sou uitbreek, die opstandelinge te kom help. Leonard se woorde was dat duisende mans, vroue en kinders “of our race” (volk) aan die genade van die goed gewapende Boere oorgelewer sou wees as so iets gebeur.