24 FEBRUARIE – MET BATAAFSE VLAG VERWELKOM

Janssens en De Mist het oral in die land gevind dat die Afrikaners bly was dat die Kaap weer Hollands was. Op 9 April 1803 het Janssens van Swellendam af aan De Mist geskryf: “Die genoeë op die platteland om aan die Moederland teruggegee te wees, skyn seer algemeen.” De Mist het ná sy reis geskryf dat hy selfs by die ver afgeleë ingesetenes groot gehegtheid aan die Hollandse regering bespeur het.

Dit blyk uit Anna Böeseken se beskrywing van die reis dat De Mist en sy reisgeselskap op verskeie plekke met die Bataafse vlag verwelkom is. Dit het ook gebeur op Graaff-Reinet, maar die twintigtal armsalige huisies, die lendelam drosdy en die vervalle kerk het ’n swak indruk gemaak. De Mist het geld gegee vir die herstel van die kerk en het opdrag gegee dat ’n nuwe drosdy gebou word.

Op sy terugreis het De Mist kennis gemaak met die Karooboere. Die geselskap kon luister na die talle jagstories. Van Tjaart van der Walt is vertel hoe hy sy broer uit die kloue van ’n leeu kon red omdat hy so goed kon skiet. Die leeu het die ruiter en perd bespring, maar Van der Walt het die roofdier in die kop getref. Die perd en sy ruiter het ongedeerd gebly.

Aan die voet van die Swartberg-bergreeks het die Bataafse vlag op die huis van veldkornet Samuel de Beer van Kweekvallei gewapper met die aankoms van De Mist se geselskap. Al die inwoners van die wyk was voor die huis in twee rye opgestel. Terwyl hulle die geweer presenteer, het De Beer met die swaard in ’n bont geskilderde skede die gaste welkom geheet. Twee van sy kinders het ’n welkomslied op die fluit begelei, en daarna is almal die huis binnegenooi. Die tafels was belaai met kalfsvleis, pluimvee, ’n groot verskeidenheid groente, waatlemoen, spanspek, pragtige druiwe en heerlike wyn wat op die plaas gemaak is. De Beer het vertel dat hy niks met die opstand van Graaff-Reinet te doen wou hê nie, maar ’n sterk voorstander is van die vryheid en die natuurlike regte van die mens. Lichtenstein het opgemerk dat De Beer ’n deeglike kennis gehad het van wat die vorige vyftien jaar in Europa gebeur het.

Lichtenstein het op sy reise ook die entstof teen pokke bekend gestel wat enkele jare tevore deur dr. Edward Jenner en ander ontwikkel is. Baie was daarteen gekant, maar die dokter kon meestal hul vooroordele weg redeneer. Hy het so goed met die boere oor die weg gekom dat hy selfs die huisgodsdiens op plase waargeneem het.

’n Kommissie wat die veeteelt ondersoek het, meld dat die mense godsdienstig is. Die Bybel, ’n gebede- of ander godsdienstige boek het oral byderhand gelê. Almal was daarop gesteld dat hul kinders gedoop word; die eed was heilig en mense gaan nooit aan tafel sonder om te bid nie. Die kinders en families is baie aan mekaar geheg.

Onder die Bataafse bewind – sonder die wanbestuur en korrupsie van die Kompanjie – het die opstandige Oos-Kapenaars rustig en kalm gebly. Hulle was nou direk onder die Nederlandse regering; die Graaff-Reinetters het juis in 1795 in opstand gekom omdat hulle nie onder die Kompanjie wou staan nie, maar onder Nederland. Simpatieke bewindhebbers en amptenare het die nuwe gesag uitgeoefen.