’N WIT VLAG OP MAJUBADAG

Die toestand in Cronjé se laer was ellendig. Dae aaneen het die Britse kanonne ’n dodelike hael van liddietbomme op die laer gewerp en Cronjé kon die vuur nie eers beantwoord nie omdat sy kanonne stukkend geskiet of sonder ammunisie was. Daar was net sowat honderd perde in die laer oor. Die ander was doodgeskiet en het half ontbind in hul honderde orals tussen die mense rondgelê en ’n vreeslike stank versprei. Selfs die drinkwater was besmet. Die waens en ander goed was verbrand en die mense het maar gebly in gate en slote. Kos was daar nie, en buitendien het die Engelse onafgebroke geskiet.

Volgens Theron het Cronjé nie aan oorgawe gedink nie en volmondig ingestem met De Wet se plan, soos deur Theron aan hom meegedeel. Maar die daaglikse bombardemente het die meeste van sy burgers en offisiere so gedemoraliseer dat hulle nie meer weerstand wou bied nie. Na die voorstelle om uit te storm wou hulle nie luister nie en party het reguit gesê dat hulle die slote nie gaan verlaat nie, maar hulle aan die Engelse sou oorgee sodra Cronjé dit sou waag om te storm. Hy en Theron het nogtans die mense moed probeer inpraat.

Nadat Theron terug is, het Cronjé ’n kettingbrug oor die rivier laat slaan, maar die Engelse het dit op 26 Februarie stukkend geskiet. Die aand het Cronjé die krygsraad byeengeroep. Hy het gepleit dat die stryd voortgesit word, maar die offisiere wou van geen verdere weerstand hoor nie. Uiteindelik het hy gesmeek dat hulle moet uithou tot die 28ste, sodat hulle nie op 27 Februarie, Majubadag, hoef oor te gee nie. Dit het niks gebaat nie. Die offisiere het kortaf gedreig dat, as Cronjé nie kapituleer voordat die son die volgende môre opkom nie, hulle self die wit vlag sou hys. Die oggend vroeg het die Engelse met ’n bombardement begin en het die offisiere hulle dreigement van die vorige aand uitgevoer om self die wit vlag te hys.

Genl. De Wet het in sy herinneringe gemeen dat Cronjé nog die nag van 26 op 27 Februarie kon deurgebreek het. Hy sê dat die oorgawe ’n onbeskryflike uitwerking op die burgers gehad het. Verslaentheid en moedeloosheid was op almal se gesigte te lees. Cronjé was die res van die oorlog saam met sy vrou krygsgevangene op Sint Helena en is in 1911 oorlede – erg vereensaam weens praatjies oor Paardeberg.

Ook ander rampe het die Boere getref. Terwyl Roberts van Paardeberg af die Vrystaat binnegetrek het, het Buller deur die Tugela-linie in Natal gebreek en die Boere daar in wanorde laat vlug. Die burgers het totaal moed verloor. Die Transvaalse kommandant-generaal, genl. Piet Joubert, het nog net een middel gesien wat dalk kon help: die kragtige persoonlikheid van pres. Kruger. Hy het ’n dringende beroep om hom gedoen om na die front te kom om “die mense met u magswoord te stuit”.

Pres. Kruger is dadelik met ’n spesiale trein na die front. Daar het hy eers teen genl. Joubert uitgevaar omdat hy toegelaat het dat die strategiese Tugela-linie prysgegee word. Mense wat Kruger geken het, het hom nog nooit so kwaad gesien as die dag by Glencoe nie. Hy het glo met die kommandant-generaal geraas asof hy ’n kind was wat verbrou het. Maar daarna het hy Joubert die hand geskud en sake kalm met hom bespreek. Aan die offisiere wat medeverantwoordelik was vir die terugtog het hy sy afkeuring getoon deur te weier om hulle die hand te gee.

Die President se woede en sy sterk persoonlikheid het die gewenste uitwerking gehad. Die burgers en offisiere het weer moed geskep. Spoedig was hy omring deur ’n groot skare. Hy het sy hoed afgehaal en ootmoedig sy hoof gebuig. Die manskappe om hom het die gebaar verstaan en sy voorbeeld gevolg. ’n Groot stilte het op die menigte toegesak. Daar, op die bloedige slagveld, het Kruger vir die volk gebid. Van Natal is Kruger na die Vrystaat waar hy die burgers ook probeer moed inpraat het. By Abrahamskraal het hy die vlugtendes aangespreek, vurige beroepe op hulle gedoen en hulle verseker dat die oorlog binne weke verby sou wees as hulle vastrap. Maar hulle het net die kop geskud en aangery.

Teen daardie tyd het Kruger egter al gedink aan vrede maak. Op 5 Maart was hy by Steyn in Bloemfontein toe genl. Joubert die derde keer in die oorlog aan die presidente vrede voorgestel het. Steyn wou die voorstel nie aanvaar nie, maar Kruger was ten gunste daarvan. Dieselfde dag het die republieke aan lord Salisbury in sy hoedanigheid as Britse regeringshoof getelegrafeer dat hulle bereid was om vrede te sluit mits hul onafhanklikheid erken word en Britse onderdane wat die wapen vir die republieke opgeneem het, nie gestraf sou word nie. Die Britse regering het dit geweier. Hier het eintlik die wrywing begin wat daar later tussen die twee regerings was. Transvaal het mettertyd daartoe begin neig om vrede te sluit, met behoud van onafhanklikheid as dit kan, maar anders daarsonder. Vir die Vrystaat het dit vasgestaan dat hy die oorlog moes voortsit totdat Brittanje die onafhanklikheid onvoorwaardelik erken.