24 JUNIE
GEBEURE
1798 – Gerrit Maritz, Trekkerleier en wamaker, gedoop
Gerhardus Marthinus Maritz (algemeen bekend as Gert of Gerrit Maritz) is in Maart 1797 in die Graaff-Reinetse distrik gebore. Die verskrikking, plundering en verwoesting deur die Xhosa- en Hottentotbendes wat hy as sewejarige seun in die Suurveld deurgemaak het, het ’n blywende indruk op hom gemaak. In 1811 het sy vader as baaspadmaker en timmerman hom op Graaff-Reinet gevestig, en daar het die jeugdige Gert hom as wamaker bekwaam en spoedig die voorste wamaker op Graaff-Reinet geword. Sy wa-makery het ’n bloeiende onderneming, en hy het een van die vermoeiendste manne in die distrik geword. Uit sy hande het van die mooiste en beste waens gekom. Sy sewe spoggerige kakebeenwaens waarmee hy op trek gegaan het, is bewys daarvan. Die waens was kenmerkend van homself: presies, netjies en deftig. Hy is op 14 Mei 1820 met Augenitha Maria Olivier getroud. Ses kinders is uit die huwelik gebore. In September 1836 het die Maritz mense van Graaff-Reinet af vertrek om permanent die Kaapkolonie te verlaat. Op die Groot Trek het hy deurgaans ’n leidende rol gespeel, totdat hy op 23 September 1838 by Sooilaer aan die oewers van die Klein-Tugela oorlede is. Op sy sterfbed het hy gesug: “Dit is my gegaan soos Moses, ek het die beloofde land gesien, maar bewoon sal ek dit nie.”
1891 – Sir Leander Starr Jameson weier toegang vir Trekkers
Sir Leander Starr Jameson, in beheer van sake in Rhodesië, weier toegang tot 110 Trekkers van die Adendorff-trek, wat by Florisbad (nou Mussina) vergader het.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Griekwastad
1995 – Die Springbokke wen die William Webb Ellis-beker (Rugbywêreldbeker) op Ellispark in Suid-Afrika
GEBOORTES
1892 – Dr. Theodorus (Theo) Wassenaar, oogarts, hoogleraar in fisiologie, lid van die provinsiale raad van Transvaal, digter, vertaler, stigterslid van die FAK († 12 Augustus 1982)
Theodorus Wassenaar is gebore op Hendrina, waar hy sy eerste onderrig op die plaas ontvang het. In 1909 gaan hy na Middelburg, en in 1910 ontvang hy ’n beurs vir verdere studie in Holland. Daar raak hy in Afrikaans geïnteresseerd en begin skryf. In Oxford raak hy onder die invloed van Shelley, en later Perk, onder wie se invloed hy die sonnetvorm gebruik. Hy kwalifiseer in Amsterdam as oogspesialis. Hy was ’n tyd lank oogarts op Lydenburg en daarna professor in Fisiologie aan die Universiteit van Stellenbosch. Sedert 1934 neem hy deel aan die politiek. Vanaf 1943 is hy LPR, en later word hy lid van die Uitvoerende Komitee van die Transvaalse Provinsiale Raad. Hier het hy veral sy stem laat hoor teen die dubbelmediumbeleid op skool, aangesien hy gemeen het dat dit albei landstale sou benadeel. Sedert 1941 publiseer hy gedigte in Die Brandwag onder die skuilnaam Adeodatus (Latyn vir Theodorus) en later ook in Die nuwe Brandwag. Hy vertaal die Griekse drama Oidipus in Afrikaans. As tipiese Twintigerdigter dig hy dikwels konvensioneel, tog vertoon sy verse ’n gevoeligheid. In 1921 publiseer hy sy bundel Gedigte, wat in 1938 met wysigings heruitgegee is. Sy werk staan buite die ontwikkeling van Dertig, tog het hy talle digters na hom beïnvloed. Dr. Wassenaar is ’n vurige en toegewyde kultuurmens, stigterslid van die FAK, kampvegter vir Afrikaans en die kultuurregte van die Afrikaner. Onder sy talle prestasies op dié gebied was sy inisiatief en dryfkrag agter die totstandkoming van die Afrikaanse mediese fakulteit aan die Universiteit van Pretoria.
STERFTES
1712 – Simon van der Stel, laaste kommandeur en eerste goewerneur van die Kaapkolonie (*14 Oktober 1639)
Simon van der Stel is deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) as kommandeur van die Kaap aangestel en later tot goewerneur bevorder. Van der Stel het groot lof ontvang van die kommissarisse wat die Kaap gereeld besoek het. Veral Hendrik Adriaan van Reede was tevrede met alles wat hy vermag het. Die veestapel van die VOC het grootliks vermeerder en in 1685 is byvoorbeeld ’n koring oes van 2 400 mud verkry. Die streng dissipline wat hy gehandhaaf het en die swaar strawwe wat hy oneerlike amptenare opgely het, het ook Van Reede se goedkeuring weggedra, hoewel die kommissaris hom gemaan het om sy ondergeskiktes nie te hooghartig te behandel nie.
1908 – Andreas Adriaan (Andries) Louw, die eerste predikant in Fauresmith (* 30 Mei 1827)
Andries (Andreas) Adriaan Louw, gebore in Paarl, was ‘n invloedryke leraar van die Nederduitse Gereformeerde Kerk. Hy is die eerste predikant van Fauresmith (1848 tot 1867) en praeses van die stigtingsvergadering van die Sinode van die Vrystaat (1864). Uit sy huwelik met Jemima Murray kom drie vêrdere bekende leraars, A.A., A.F. en J.M. Louw. Hy sterf op 24 Junie 1908 in Paarl.
1968 – Eric Hendrik Louw, diplomaat en politikus (* 21 November 1890)
Eric Hendrik was ’n Suid-Afrikaanse diplomaat en politikus. Alhoewel omstrede en soms ondiplomaties in sy optrede, is hy gerespekteer deur sy ondersteuners en kritici vir sy onversetlike moed en briljante kwinkslae.
1984 – WJ du P Erlank (Eitemal), skrywer, digter, redenaar en vertaler (* 22 Junie 1901)
Willem Jacobus du Plooy Erlank is op Wolmaransstad gebore en word na studie in Amsterdam (1936 tot 1938) onderwyser, dosent aan die Pretoriase Onderwyskollege en in 1950 tot 1966 hoogleraar in die Nederlandse Letterkunde op Stellenbosch en daarna kultuurattaché by die Suid-Afrikaanse Ambassade, Den Haag, Nederland. Hy publiseer onder die skuilnaam Eitemal twee bundels poësie (Weerklankies, 1928, en Phaeton, 1931) die eselsromannetjie Jaffie, ’n bundel stories en ’n drama. Hy het ook werke van Shakespeare, Hebbel en Goethe in Afrikaans vertaal. Eitemal is ’n gevierde digter, skrywer en onverskrokke kultuurleier. Reeds in sy tweede jaar as student aan die Universiteit van Pretoria in 1919 het hy ’n rol gespeel in die Afrikaanswording van die Universiteit in 1937, toe hy die Union Jack by Kollegetehuis afgeskeur het, waarna hy en sy maats dit verbrand het. Dit was ’n simboliese daad van losskeuring uit die Britse oriëntering, ’n bevrydingsdaad. Daaroor is hy ses weke uit die TUC in Pretoria geskors. Hierdie kultuurleier het hom reeds vroeg vir die Afrikaanse taal, kultuur en die erkenning van Afrikaneridentiteit beywer. Sy studente onthou hom as ’n uitstekende dosent met ’n lewende belangstelling in die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde. Hy is een van die uitmuntendste redenaars wat Suid-Afrika nog opgelewer het, ’n stigterslid van die FAK en redaksielid van die eerste FAK-Volksangbundel.
1990 – Pierre de Wet, rolprentregisseur, vervaardiger en skrywer (* 22 Augustus 1909)
Pierre de Wet word as die vader van die Afrikaanse rolprent beskou.
Hy was ’n legendariese akteur, draaiboekskrywer en regisseur wat in 1931 sy debuut as akteur in 𝘔𝘰𝘦𝘥𝘦𝘳𝘵𝘫𝘪𝘦, die heel eerste Afrikaanse rolprent, gemaak het. In 1946 het hy 𝘗𝘪𝘯𝘬𝘪𝘦 𝘴𝘦 𝘦𝘳𝘧𝘦𝘯𝘪𝘴, die eerste van sy 21 rolprente, vervaardig. In 1949 het hy vir die eerste keer met Al Debbo en Frederik Burgers saamgespan toe hy met 𝘒𝘰𝘮 𝘴𝘢𝘢𝘮 𝘷𝘢𝘯𝘢𝘢𝘯𝘥, die eerste Afrikaanse musiekrolprent, vorendag gekom het.
Hul vennootskap het daarna rolprente soos 𝘏𝘪𝘦𝘳’𝘴 𝘰𝘯𝘴 𝘸𝘦𝘦𝘳, 𝘈𝘭𝘭𝘦𝘴 𝘴𝘢𝘭 𝘳𝘦𝘨𝘬𝘰𝘮, 𝘈𝘭𝘵𝘺𝘥 𝘪𝘯 𝘮𝘺 𝘥𝘳𝘰𝘮𝘦 en 𝘋𝘪𝘴 𝘭𝘦𝘬𝘬𝘦𝘳 𝘰𝘮 𝘵𝘦 𝘭𝘦𝘸𝘦 opgelewer. Hy het egter die regie van ander Afrikaanse rolprente ook behartig, onder meer 𝘕𝘰𝘰𝘪 𝘷𝘢𝘯 𝘮𝘺 𝘩𝘢𝘳𝘵, 𝘖𝘶𝘱𝘢 𝘦𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘱𝘭𝘢𝘢𝘴𝘯𝘰𝘰𝘪𝘦𝘯𝘵𝘫𝘪𝘦, 𝘔𝘢𝘵𝘪𝘦𝘭𝘢𝘯𝘥, 𝘌𝘯 𝘥𝘪𝘦 𝘷𝘰𝘯𝘬𝘦 𝘴𝘱𝘢𝘵 en 𝘗𝘪𝘦𝘵 𝘴𝘦 𝘵𝘢𝘯𝘵𝘦.
Sy laaste optrede as akteur was in die eerste reeks van Franz Marx se uiters suksesvolle reeks 𝘈𝘨𝘵𝘦𝘳 𝘦𝘭𝘬𝘦 𝘮𝘢𝘯, waarin hy die rol van Albert Jooste vertolk het. Hy is op 24 Junie 1990 in die ouderdom van tagtig jaar aan ’n hartaanval oorlede.
2002 – Jurie Ferreira, sanger (* 3 Maart 1921)
Jurie Ferreira was ’n sanger. Van sy bekendste treffers is: “Die swaeltjie”, “Die blonde matroos”, “Tahiti”, “Boereseun” en “Erika”. Hy het ook sy verskyning in rolprente soos Kom saam, vanaand, Hier’s ons weer, Alles sal regkom en Altyd in my drome gemaak. Ferreira is 1921 in Ventersdorp in die Noordwes gebore. In 1936 bring sy pa hom as 15-jarige na Johannesburg vir ’n sangopname. Sy eerste kommersiële plaat, Tier, word 1939 opgeneem. In 1941 sluit hy by die orkes van Arnout Malherbe aan. Hendrik Susan bied hom in 1945 ’n kontrak aan en hulle toer vir sewe jaar saam deur die land. In 1954 begin hy sy eie orkes en in 1965 sluit hy by die leër aan. Hy is op die ouderdom van 82 in 1 Militêre Hospitaal in Thaba Tshwane na ’n lang siekbed oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.