AL MEER AFRIKANERS VERLANG NA ’N REPUBLIEK

Die vernaamste politieke opposisie van die nuwe premier, genl. Jan Smuts, was die Nasionale Party. Dié party het aanvanklik veral buite die Vrystaat nie veel steun gehad nie. Die rebellie het egter alles verander. Hoewel ’n klein minderheid van die Afrikaners aan die rebellie deelgeneem het, was simpatie met die rebelle algemeen. Hierby het die Nasionale Party aansluiting gevind. In die verkiesing van 1915 het die NP 27 setels verower – 16 in die Vrystaat, 7 in Kaapland en 4 in Transvaal. ’n Jaar ná die teregstelling van Jopie Fourie het tussen 700 en 800 mense byvoorbeeld in die kerkhof in Pretoria byeengekom om hom te eer. Honderde kranse het aan houtstellasies bokant die graf gehang – en verskeie was afkomstig van die NP en die Vroue-NP. Die Transvaalse NP-kongres het in 1916 simpatie betuig met die rebelle wat nog in die gevangenis was “as slagoffers van hul beginsels”.

Die rebellie het die republikeinse strewe laat herleef. ’n Geesdriftige NP-kongres het besluit om ’n “vryheidsdeputasie” na die vredeskonferensie Versailles te stuur om die herstel van die vryheid van die Vrystaat en Transvaal te vra op grond van die verklaring van pres. Woodrow Wilson van Amerika. Daarin is die selfbeskikkingsreg van klein nasies beklemtoon. Die deputasie onder genl. Hertzog het moeite gehad om in Europa te kom – met ’n Nederlandse skip na New York en toe met ’n ander Nederlandse skip na Brittanje. Die deputasie het ’n onderhoud met die Britse premier, David Lloyd George, gekry en Hertzog het volgens ’n Afrikaner-regsgeleerde JH Gey van Pittius, sy saak maar swakkerig gestel. In sy skriftelike verklaring het Lloyd George gesê dat die deputasie nie die meerderheid Suid-Afrikaners, die meerderheid wit mense of selfs die meerderheid Afrikaners verteenwoordig nie. Genl. Smuts het waarskynlik die verklaring help opstel. Die belang van die vryheidsdeputasie was dat dit die republikeinse ideaal help lewend hou het. Dit het duidelik geword dat ook lede van die SAP die republikeinse beweging steun.

Weens Botha en Smuts se aanhang was Transvaal vir die NP ’n moeilike provinsie. Twee koerantjies het die NP gesteun: Die Weste, wat op Potchefstroom voortgesit is nadat Het Volksblad Bloemfontein toe is, en Ons Vaderland. Dié het op 23 Februarie 1912 onder Harm Oost as Die Week begin; sy opvolger, Het Volk, is in die rebellie verbied. Dit is op 10 September 1915 opgevolg deur Ons Vaderland van die Noordelike Drukpersmaatskappy. Harm Oost is weens deelname aan die rebellie 18 maande tronkstraf opgelê. Hy het in 1916 weer redakteur geword tot hy in 1925 opgevolg is deur Gustav Preller wat uit protes teen die SAP se toenemend Engelsgesinde koers De Volkstem verlaat het.

In die verkiesing van 1920 het die seteltal van die NP gestyg tot 44. Die SAP het 41 gekry, die Unioniste 25 en die Arbeiders 21. Van ’n poging tot hereniging van die NP en SAP het niks gekom nie. Daarop het die SAP en Unioniste in November 1920 saamgesmelt onder die naam SAP. In 1921 het die SAP 79 kiesafdelings gekry, die NP 45 en die Arbeiders 9. Ernstige ekonomiese moeilikhede het die regering se posisie verswak. Daar was ’n swaar na-oorlogse depressie: myne moes sluit, pryse van landbouprodukte het gedaal en lone is verlaag – wat die vraagstuk van blanke armoede vererger het. Kort-kort was daar stakings wat met geweld onderdruk is.