24 SEPTEMBER
GEBEURE
1660 – Jan van Riebeeck skryf aan Otto Jansz
Jan van Riebeeck het aan Otto Jansz op Robbeneiland geskryf en hom onder meer meegedeel: “Voorts verwag ons van u ’n opgaaf van die getal ooie, ramme en hamels wat u op die eiland het en of u nog ’n stuk of wat Hollandse ramme nodig het. Dié kan ons van die vrye burgers kry, want die vrye burgers teel nou die ramme pragtig aan. Wat ons veral onder u aandag wil bring, is dat die vuurtorings in ’n goeie toestand gehou moet word.”
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Blaauwkoppie, Bethlehem
1923 – Debat oor Retief-Dingaan-verdrag
’n Debat oor die egtheid van die Retief-Dingaan-verdrag tussen sir George Edward Cory, prof. W Blommaert en Gustav Preller, vind op Stellenbosch plaas.
2005 – Kanon brul weer
Die eens bekende kanon op Tygerberg-heuwel (naby Kaapstad, Wes-Kaap) brul na 200 jaar se stilswye weer.
GEBOORTES
1889 – Frans Eduard Geldenhuys, eerste redakteur van die Landbouweekblad († 28 Julie 1961)
Frans Eduard Geldenhuys is in Johannesburg uit ’n Afrikaanse familie wat hulle ná die Groot Trek in Transvaal kom vestig het, gebore. Na die Tweede Vryheidsoorlog het hy sy studie aan die Hoër Jongenskool Stellenbosch voltooi en behaal hy ’n B.A.-graad aan die Victoria-Kollege. Geldenhuys se lewensideaal was om onderwys te gee. Tog studeer hy verder in Landbou-ekonomie. Nadat hy aan verskeie buitelandse universiteite studeer het, behaal hy in 1917 die graad Ph.D. in Landbou aan die Universiteit van Cornell. ’n Kort tyd was hy landbou-onderwyser aan Grey-Kollege, Bloemfontein, warna hy verskillende poste in die Departement van Landbou beklee het. Hy was die eerste redakteur van die Landbouweekblad en ook die eerste hoof van die afdeling Landbou-ekonomie en –bemarking, waarvan hy die stigter was. Hy vorder tot adjunk-sekretaris van die Departement. Na ’n diplomatieke loopbaan in Rome het hy in 1940 na die Unie van Suid-Afrika teruggekeer. Hy het in verskillende rade gedien, onder meer die Raad van die Universiteit van Pretoria. In Januarie 1957 word hy aangestel as Suid-Afrika se ambassadeur in Nederland. In 1961 het hy teruggekeer na sy vaderland, waar hy op 28 Julie 1961 oorlede is.
1898 – Dr. Johannes Frederick (Hans) Janse van Rensburg, prokureur en leier van die Ossewabrandwag († 25 September 1966)
Johannes Frederick Janse van Rensburg is op hierdie dag gebore. Sy vader se deelname aan die Anglo-Boereoorlog, die nederlaag teen die Engelse en die bewuste verengelsingsbeleid daarna, het ’n belangrike rol in sy vormingsjare te Winburg gespeel. Sy loopbaan is gekenmerk deur buitengewoon vinnige bevordering – in 1930 het hy sy doktorsgraad in die regte behaal, en drie jaar later tot Sekretaris van Justisie bevorder. Dit was in hierdie hoedanigheid dat hy Duitsland besoek het, Hitler ontmoet het en sterk deur die Nasionaal-Sosialistiese ideologie beïndruk is. Op 38-jarige ouderdom is hy as Administrateur van die OVS aangestel, maar hy bedank in 1940 om Kommandant-generaal van die Ossewa-Brandwag (OB) te word, ’n beweging wat in die dertigerjare derduisende Afrikaners gelok het. Die oorsprong van hierdie beweging was onder meer geleë in die Simboliese Ossewatrek van 1938 wat Afrikaner-patriotisme tot ’n hoogtepunt gevoer het. In navolging van die Duitse Nasionaal-Sosialisme was die amptelike beleid van die OB onder meer ’n verenigde volkspolitiek met burgerskap slegs aan volksgenote, anti-kapitalisme en anti-Kommunisme, geleidelike rassesegregasie en bekamping van werkloosheid. Omdat die OB nie ’n afgebakende terrein vir sy bedrywighede gehad het nie, is ’n ooreenkoms tussen die OB en die Herenigde Nasionale Party (HNP) van dr. DF Malan gesluit. Hierdeur is bepaal dat die Party die politieke terrein sou dek terwyl die OB op nie-politieke terrein, soos die beskerming en uitlewing van die Voortrekkerbeginsels en -ideale, insluitende die godsdienstige, morele en ekonomiese opbou van die Afrikanervolk, sou optree, en daar het hy in werklikheid groot besieling gebring. Gaandeweg het vervreemding egter tussen die Party en die OB ontstaan omdat laasgenoemde al meer op die politieke terrein beweeg en selfs verklaar het dat slegs hy in staat sou wees om ’n republiek vir Suid-Afrika te verkry. Toe die OB begin spot met die futiliteit van demokratiese verkiesings en die leiers van die HNP as liberaliste bestempel, het ’n toenemende getal Nasionaliste die OB verlaat, en na 1948 was hierdie organisasies nie meer ’n belangrike faktor nie. Van Rensburg is op 25 September 1966 in Kaapstad oorlede nadat hy nog sekere amptelike poste beklee het.
1965 – Irene van Wyk, gospelsangeres († 12 Oktober 2009)
Irene van Wyk was ’n Afrikaanse sangeres wat veral geestelike liedjies gesing het. Sy was vantevore met die musiekpromotor Louis van Wyk getroud gewees. Sy was ook ’n mede-aanbieder op kykNET se skinderprogram, Glitterati gewees. Van Wyk is op 12 Oktober 2009 in ‘n motorongeluk op die R50 naby Delmas oorlede.
STERFTES
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.