HANS VAN RENSBURG (1898-1966)

Hans van Rensburg was ’n Vrystaatse administrateur en hoofleier van die Ossewa-Brandwag.

Johannes Frederik Janse van Rensburg is op 24 September 1898 op Winburg in die Vrystaat gebore. Hy het sy pa se naam gedra en sy ma, Louise de Villiers, was ’n niggie van hoofregter Jacob de Villiers. Hulle was bekende inwoners van Winburg. Skaars ’n jaar na sy geboorte het die Anglo-Boereoorlog uitgebreek en sy pa het op kommando gegaan. Die stryd en die nederlaag wat die Boere teen die Engelse gely het, is driftig in die Van Rensburg-huishouding bespreek. Dit, tesame met die doelbewuste verengelsingsbeleid na die oorlog, het ’n belangrike rol in sy vormingsjare gespeel. Dit het hom vervul met bewondering van alles van ’n militêre aard en hom ’n weersin in die Britse administrasie laat ontwikkel.

Nadat hy in 1918 op Winburg gematrikuleer het, het hy aan die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer, waar hy ’n MA-graad in Duits behaal het. Hier is hy veral deur sy Duitse dosent, dr. E Friedlaender, beïnvloed. Hy het ’n liefde vir Duitse letterkunde en die glorie van militêre deugde by hom ingeskerp. Op aandrang van adv. Tielman Roos, wat met sy niggie getroud was, het hy daarna in die regte aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer en die LLB-graad verwerf.

Met die bewindsaanvaarding van die Pakt-regering in 1924 is hy as die privaat sekretaris van adv. Roos, wat minister van justisie was, aangestel. Die volgende jaar het hy ’n regsadviseur van die regering in die kantoor van die prokureur-generaal geword en in 1930 het hy ’n doktorsgraad in die regte aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. In hierdie jare is sy loopbaan deur besonder vinnige vordering gekenmerk. In 1930 is hy aangestel as ondersekretaris en drie jaar later as sekretaris van justisie. In hierdie hoedanigheid het hy Suid-Afrika op ’n internasionale konferensie in België verteenwoordig. Hier het die Duitse opperbevel hom genooi om militêre maneuvers by te woon. Tydens hierdie geleentheid het hy Adolf Hitler, Hermann Göring en ander Duitse leiers ontmoet. Sy bewondering vir die Duitse taal en kultuur is intens versterk deur die aanskouing van Duitse gedissiplineerdheid en Hitler se dinamiese leierskap. Daarby het die ideologie van nasionaal-sosialisme hom al hoe meer beïndruk.

Op die buitengewoon jong ouderdom van 38 jaar is hy op 1 Desember 1936 as administrateur van die Vrystaat aangestel. Sy aanstelling is as ’n verrassing beskou omdat die amp van administrateur van die verskillende provinsiale regerings van die Unie van Suid-Afrika uit die geledere van meer bejaarde persone gevul is. Hy het sy ampstermyn op ’n moeilike tydstip begin toe die Vrystaatse administrasie, net soos die res van die land, ernstige finansiële probleme ondervind het.

Intussen het hy ook op militêre gebied opgang gemaak. In Julie 1928 het hy hom as manskap by die Pretoria-regiment aangesluit en binne twee jaar is hy tot die rang van luitenant bevorder. Sy intense belangstelling en natuurlike aanleg vir militêre sake het gemaak dat hy vinnig bevorder is en het gelei tot sy aanstelling as bevelvoerder van die sesde brigade in Augustus 1936. In Desember 1936 het hy bevel van die vierde brigade oorgeneem en toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitgebreek het, het hy die rang van kolonel in die Vrystaatse sesde brigade beklee. Hy was die eerste offisier wat paradebevele in Afrikaans gegee het.

Genl. Jan Smuts se bewindsoorname in 1939 het Van Rensburg se posisie aansienlik bemoeilik. Sy sienswyse oor die belange van die Afrikanerdom en veral die Reddingsdaadbond, het dit eindelik vir hom feitlik onmoontlik gemaak om só as administrateur op te tree dat hy die nuwe regering nie in die verleentheid sou stel nie. Toe daar boonop by hom aangedring is om die leierskap van die Ossewa-Brandwag sowat twee jaar na die stigting daarvan te aanvaar, het hy aan die einde van 1940 as administrateur bedank.

Op 15 Januarie 1941 het hy die kommandant-generaal geword van ’n beweging wat duisende Afrikaners in die vroeë 1940’s gelok het. Die Ossewa-Brandwag het onder meer sy oorsprong gehad in die Simboliese Ossewatrek van 1938 wat Afrikaner-patriotisme tot op die spits gedryf het en in die vyandelikhede tussen Duitsland en Brittanje waarin baie Afrikaners die geleentheid gesien het om volle onafhanklikheid te verkry. In wese was die Ossewa-Brandwag vir sy lede ’n volksbeweging op ’n semi-militêre grondslag georganiseer, met die ideaal om Suid-Afrika in ’n republiek te omskep. Hoewel dit aanvanklik ’n suiwer Afrikanerkultuurorganisasie was, het die Ossewa-Brandwag veral na Duitse militêre suksesse in Junie 1940 mettertyd sy beleid in ooreenstemming met dié van ’n gesagstaat gebring. Daar is naamlik voorsiening gemaak vir verenigde volkspolitiek met burgerskap wat slegs aan “volksgenote” toegestaan is. Christelike nasionalisme pleks van liberalisme was deel van die organisasie se beleid, tesame met geen kapitalisme of kommunisme, geleidelike rasseskeiding, landsrykdom vir volksdiens, bekamping van werkloosheid en verteenwoordiging van beroepe in die landsbestuur.

Omdat die Ossewa-Brandwag nie ’n afgebakende terrein vir sy bedrywighede gehad het nie, is ’n ooreenkoms met die Herenigde Nasionale Party, ook bekend as die Volksparty, in 1940 op Cradock gesluit. Die party sou op die politieke terrein werksaam wees en die Ossewa-Brandwag op nie-politieke terrein. Dit sou die beskerming en uitlewing van die Voortrekker-beginsels en –ideale, onder meer die morele, godsdienstige en ekonomiese opbou van die Afrikaner insluit. In die stormagtige dae van 1941 was Van Rensburg se persoonlike optrede in enkele gevalle deurslaggewend vir die voorkoming van geweld in Suid-Afrika. Deur die dissipline wat hy binne die organisasie kon handhaaf, het hy voorkom dat soldateonluste in Johannesburg in Februarie 1941 handuit ruk, dat die verbod op staatsamptenare om aan die organisasie te behoort wat in Maart van krag geword het, tot radikale optrede gelei het en dat Robey Leibbrandt in die winter van 1941 ’n houvas op die militêre vleuel van die organisasie gekry het.

Aanvanklik het die twee organisasies goed saamgewerk maar na ’n vergadering in Augustus 1941 op Elsburg waartydens Van Rensburg ’n sydelingse aanval op die Herenigde Nasionale Party gedoen het, het die verhouding begin versleg. Een belangrike rede vir die toenemende vervreemding was die feit dat die Ossewa-Brandwag al hoe meer op die politieke terrein begin beweeg het en selfs verklaar het dat net hy daartoe in staat was om Suid-Afrika in ’n republiek te omskep. Intussen het die organisasie duisende pamflette versprei oor die soort republiek wat hy beoog het; hiermee het hy nie net die politieke terrein oortree nie, maar ook die nasionaal-sosialistiese idees wat vir baie Afrikaners vreemd en onaanvaarbaar was, verkondig. Toe hy in 1942 met die sinloosheid van demokratiese verkiesings gespot het en die leiers van die Herenigde Nasionale Party aangeval het, het die twee organisasies openlik vyandig teenoor mekaar gestaan en ’n groeiende stroom Nasionaliste het die Ossewa-Brandwag begin verlaat. Na die breuk het Van Rensburg sy volgelinge aangemoedig om by die Afrikanerparty aan te sluit en behulpsaam te wees met die organisasie van die party.

Die verkiesingsooreenkoms tussen die twee partye het opnuut ’n botsing tussen Van Rensburg en die Herenigde Nasionale Party veroorsaak. Nadat die Nasionale Party die verkiesing in 1948 gewen het, was die Ossewa-Brandwag nie meer ’n belangrike faktor in die politiek nie, maar hy het tot 1952 as hoofleier aangebly. Daarna het hy op verskeie regeringsliggame met betrekking tot groepsgebiede gedien; eers in Kaapstad en daarna in Port Elizabeth. In 1962 het hy finaal uit die openbare lewe getree en hom gaan vestig op die plaas Mooi Eiland in die Parys-distrik wat sy Ossewa-Brandwag-ondersteuners aan hom geskenk het. Hy het egter steeds op die direksies van Sanlam, Santam en Federale Mynbou gedien.

Van Rensburg is op 25 September 1966 in die ouderdom van 68 jaar oorlede en hy is met volle militêre eerbewys uit die NG kerk Pretoria-Oos begrawe. Op 10 Oktober 1967 het die destydse eerste minister, adv. BJ Vorster ’n klein monument op sy grafsteen, ontwerp deur Elly Holm, onthul.

deur Daantjie Badenhorst