GUSTAV PRELLER (1875-1943)
Gustav Preller was ’n historikus, joernalis en literêre kritikus wat ’n leidende rol gespeel het in die bevordering en erkenning van Afrikaans as taal.
Gustav Schoeman Preller is op 4 Oktober 1875 op die plaas Klein Schoemansdal, wat tans Pretoria is, ten noorde van Boomstraat tot teen die Apiesrivier, gebore. Die plaas was destyds die eiendom van sy oupa aan moederskant, genl. Stephanus Schoeman. Genl. Schoeman was ’n bekende Voortrekker wat in die tyd van pres. MW Pretorius ’n waarnemende president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) was. Sy oupagrootjie aan vaderskant was van Duitse herkoms. Hy was ’n natuurkundige wat hom in die Kaap gevestig het en was die stamvader van die Preller-familie in Suid-Afrika. Sy oupa aan vaderskant was ’n veeboer in Natal, waar sy Friesbeeste hoofsaaklik aandag getrek het. Sy pa Robert Clunie Logie Preller het van Natal na die Vrystaat verhuis en in die Anglo-Boereoorlog onder genl. Koos de la Rey geveg en sy ma was Stephanie Maria Aletta Schoeman.
Kort nadat Gustav gebore is, het sy pa vanaf Hammanskraal na die plaas Paardekop in die Standerton-distrik getrek, waar hy saam met sy pa (Gustav se oupa) geboer het. Op vyfjarige ouderdom het Gustav sy pa te perd na die Swazilandse bosveld vergesel. In 1886 het die gesin na Rietspruit verhuis; hier was sy pa een van die eerste telers van volbloedperde en merinoskape. Sy ouers het die plaas verlaat en ter wille van Gustav se skoolopleiding na Standerton verhuis. Hier het Gustav op twaalfjarige ouderdom vir die eerste keer skoolgegaan aan die skool van mnr. Charles Coldrey. Gustav het net drie jaar lank skoolgegaan, aangesien die onderwyser weggetrek het en die skool gesluit is. Daarna het Gustav in Paddon en Brock se winkel, waar hy wol gekoop en geweeg het, begin werk. Na ’n jaar het die gesin in 1891 na Pretoria verhuis en hier het hy ’n betrekking by die winkel van JD Bosscher en Kie aanvaar.
Sy ouers het hom oortuig om ’n prokureur te word, maar hiervoor moes hy eers die eersteklas-onderwyseksamen van die Republiek aflê. Hy is as prokureursklerk by die firma James Berrangé ingeskryf en het privaat gestudeer, maar hy het sy studies gestaak om in Augustus 1893 as vyfde klerk van die Departement van Mynwese in diens te tree. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog was hy reeds ’n eerste klerk van die Departement, ’n posisie wat hy reeds sedert November 1898 beklee het. In hierdie betrekking is sy studies veral toegespits op die Goudwet, die werking van die Volksraadskommissies, waar hy lank as sekretaris gedien het, en die administrasie van die mynwese.
Toe die oorlog uitgebreek het, het hy hom by die Boeremagte aangesluit en die veldslag van Talana by Dundee, die veldslag van Modderspruit, die beleg van Ladysmith en die veertiendaagse Slag van Tugela meegemaak. In Maart 1900 is hy na Pretoria teruggeroep en as verantwoordelike beampte van die Departement is hy belas met die administrasie van sekere goudmyne, die uitbetaling van oorlogsmateriaal en die munting van goud. Die nag voor die Engelse inname van Pretoria het hy genl. Jan Smuts gehelp om die staafgoud van die regering in veiligheid te bring. Later is die bekende veldponde van hierdie goud geslaan. Hierdie eerstehandse kennis het hom in staat gestel om later die gerugte van die “Kruger-miljoene” te weerlê. Hierna het hy as lid van die derde battery van die Transvaalse Staatsartillerie na die front gegaan, terwyl hy oorlogskorrespondent van De Volkstem en De Zoutpansberg Wachter was. In hierdie tyd het hy deelgeneem aan die Slag van Dalmanathu op Berg-en-Dal en later aan die algemene aanvalle op die spoorweg en die aanval op Carolina. Hierna het genl. Louis Botha hom en twee ander boodskappers met inligting na genl. Koos de la Rey in die Lichtenburg-distrik gestuur.
Preller het die Afrikaner gehelp om te ontwaak tot die belangrikheid van sy eie vaderlandse geskiedenis, waartoe hy met navorsing en geskiedskrywing ’n reusebydrae gelewer het. As historikus het hy sy volk na die Anglo-Boereoorlog geleer om sy verlede en homself te respekteer en deur middel van sy eie taal homself te bly en sy toekoms uit te bou. Slegs vier maande voor die einde van die oorlog is hy saam met sy hele eenheid naby Ermelo gevang en as krygsgevangene na Indië gestuur. Hier het hy aan toneelaktiwiteite deelgeneem om die tyd om te kry. Toe hy in Augustus 1902 teruggekeer het, het hy gevind dat sy woning in Sunnyside in Pretoria vernietig is en dat die owerhede dit as kantore ingeruim het. Sy ou departement is van Pretoria na Johannesburg verskuif en toe hy daarheen gegaan het om sy ou posisie terug te vra, het die nuwe hoof geweier omdat hy kwansuis ses maande voor die vredesluiting daarvoor aansoek moes doen.
Hy het dit oorweeg om saam met ds. Louis Vorster se groep in September 1902 na Argentinië te emigreer, maar toe Eugène Marais sy koerant Land en volk laat herleef het, het Marais hom gevra om die redakteur daarvan te word. Reeds voor die oorlog het Preller artikels vir koerante en tydskrifte geskryf, in beide Engels en Nederlands, onder andere in The Moon en De Pers. Land en volk het op 20 September 1902 onder sy redakteurskap verskyn. In hierdie tyd was hy nog ’n onervare joernalis, hy het geen ervare personeel gehad nie en die regering het hom boonop verbied om oor politiek te skryf. Nogtans kon hy daarin slaag om vir die lesers ’n toekomsblik te gee waardeur die smarte en swaarkry van die oorlog agtergelaat kon word. In 1903 is Land en volk by De Volkstem ingelyf; hy was van November 1903 tot in 1924 assistentredakteur, en van 1924 tot 1925 hoofredakteur waarna dr. FV Engelenburg hom opgevolg het.
Op 1 en 2 Julie 1909 was hy die medestigter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns en vanaf die stigting van Die Brandwag, wat op 31 Mei 1910 saam met die Unie van Suid-Afrika ontstaan het, was hy saam met dr. WMR Malherbe mederedakteur van hierdie tydskrif. Toe Malherbe na Stellenbosch toe gegaan het om ’n leerstoel in die regte te aanvaar, het Preller redakteur geword. Hy was tot in 1922, toe die blad om finansiële redes gestaak moes word, in hierdie posisie. Vir die taalbeweging was Die Brandwag ’n belangrike blad, en onder die gereelde medewerkers was Jochem van Bruggen, MM Jansen, Leon Maré en Hettie Cillié. In De Volkstem van 19 April tot 14 Junie 1905 het Preller ’n reeks artikels geskryf onder die opskrif “Laat ‘t ons toch ernst wezen” en sy optrede teen Nederlands gerig met die leuse: “Afrikaans shcrijven en spreken, Hollands leren, albei lezen.”
In sy betoog ten gunste van Afrikaans in 1905 het Preller die Vlaamse skrywer Guido Gezelle aangehaal. Preller het uitvoerig na die Vlaamse taalbeweging verwys en geskryf: “Zolang de Vlamingen getracht hebben om Nederlands te schrijven … zolang bleef hun literatuur stijf en gemaakt; zodra zij hun eigen taal op schrift gingen stellen, kwam er leven en ziel in de taal, leverden zij tal van beroemd geworden schrijvers op … En hier bij ons moet ’t net zo gaan.” Preller was van mening dat die Vlaamse taalbeweging suksesvol sou wees. Hoewel Gezelle na ’n eie Vlaamse taal gestreef het, het dit nooit gekom nie en die Vlaminge het by Nederlands as kultuurtaal gehou. In sy propagering vir Afrikaans as skryftaal het Preller gemeen dat Afrikaners nie meer Nederlands gepraat het nie; gevolglik het dit vir hulle ’n dooie taal geword. Daarteenoor was Afrikaans onuitroeibaar in die Afrikaner gewortel; die Afrikaners kon daarmee uiting gee aan gewaarwordinge, innerlike gedagtes en diepste gevoelens.
Tydens ’n sinodesitting in Pretoria het Preller preke deur verskillende predikers in snelskrif laat afneem en tot die gevolgtrekking gekom dat Afrikaanse predikante nie vlot Nederlands kon praat nie. Preller het ’n belangrike rol gespeel om Afrikaans aan te moedig. Op 6 Maart 1905 het “Onze Jan” Hofmeyr ’n toespraak gelewer waarin hy ’n vurige pleidooi vir die handhawing van Nederlands gemaak het. In antwoord hierop het Preller ’n belangrike reeks artikels in De Volkstem onder die titel “Laat ‘t ons toch ernst wezen” geskryf, waarin hy voorbrand vir Afrikaans pleks van Nederlands gemaak het. Hy was ongelukkig oor die nuwe spelreëls wat in 1920 aangekondig is. Volgens hom is die spelling wat vyf jaar tevore gereël is, ’n middeweg tussen radikalisme en konserwatisme. Die 1920-spelreëls was volgens hom te radikaal, en dit het vreemd gestaan teenoor die taal van die Statebybel. Hy was ten gunste van spelling wat baie naby aan dié van Nederlands was.
Preller het CJ Langenhoven se voorstel dat Afrikaans in 1914 in Kaapse skole erken moes word, in ’n artikel wat op 16 Februarie 1926 in Ons Vaderland gepubliseer is, as voortvarend beskryf. Op 14 Junie 1927 het hy in dieselfde koerant die vraag gestel of Afrikaans aangevul moes word vanuit Nederlands of vanuit Engels. Hy het gemeen dat Afrikaans as uitdrukkingsmiddel vir die Afrikaner verlore kon raak as dit al hoe verder van Nederlands as stamtaal verwyder sou word, as die Bybel in Afrikaans vertaal sou word en as Nederlands as leervak uit skole verbied sou word. Hy het egter geen invloed meer op die ontwikkeling van Afrikaans gehad nie, en geskryf dat hy nie meer oortuig daarvan was dat ’n skryftaal ’n spreektaal moes volg nie. Volgens hom het dit nie met een van die groot wêreldtale gebeur nie en hy kon nie verstaan hoekom dit met Afrikaans moes gebeur nie.
Hy het ’n groot bydrae tot geskiedskrywing gelewer; sy werke was van groot literêr-historiese waarde aangesien hy verskeie bronne uit die vergetelheid opgediep het en bykans vergete gebeurtenisse uit die geskiedenis weer aan die openbare aandag bekendgemaak het. ’n Deel van sy Afrikana-versameling is aan die Universiteit van Stellenbosch geskenk. Hy het veral werke oor twee groot gebeurtenisse, naamlik die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog gelewer.
Hy was ’n stigterslid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy was van 1923 tot 1925 en weer van 1925 tot 1927 sekretaris van die akademie. Kort voor sy dood het die akademie erelidmaatskap aan hom toegeken. Hy was sedert 1919 lid van die Historische Genootskap van Utrecht en ook lid van die Maatschappij vir Nederlandse Letterkunde. In 1931 het die Universiteit van Stellenbosch ’n eredoktorsgraad in Lettere en Wysbegeerte aan hom toegeken vir sy baanbrekerswerk as Suid-Afrikaanse historikus.
Hy is op 7 Oktober 1943 in die ouderdom van 68 jaar by Pelindaba, naby Hartbeespoort, oorlede. Die Gustav Preller-skool in Discovery aan die Gautengse Wesrand dra sy naam en die leuse is heel gepas: “Dis ons erns.” In die voorportaal van hierdie skool is ’n borsbeeld wat deur sy goeie vriend Coert Steynberg gemaak is.
deur Daantjie Badenhorst