OP PAD NA VEREENIGING

Kitchener het die republikeinse verteenwoordigers aangeraai om hulle aan die Britse vlag te onderwerp en selfbestuur te probeer verkry. Hulle het hom daarop gewys dat hulle nie oor die mag beskik om van onafhanklikheid afstand te doen nie. Hy was bereid om hul voorstelle aan die Britse regering te telegrafeer, maar die Britse regering het dit verwerp. Daarop het die republikeinse leiers geleentheid gevra om die volk te raadpleeg. Dit het Kitchener toegestaan. Elke staat het dertig afgevaardigdes na ’n byeenkoms gestuur wat op 15 Mei 1902 op Vereeniging sou begin.

Die spanning het meegehelp dat Steyn se gesondheid verswak het. Die dokter het hom gesê dat as hy nie dadelik rus nie, hy binne drie weke sou sterf. Steyn het ’n aanbod geweier om in Pretoria te bly vir doktersbehandeling omdat hy bang was dat dit die burgers sou ontmoedig en vir vrede sonder onafhanklikheid laat stem. Hy het naby Wolmaransstad by sy manskappe deurgebring. Sy slaapplek was in ’n verwoeste woning, op ’n hoop gras en strooi op ’n sinkplaat. Een nag moes hy meer as ’n uur in die koue staan omdat hy te swak was om weer die huis in te gaan.

Op Vrydagaand 18 April 1902 het die hoofoffisiere Pretoria verlaat om na alle dele van die twee republieke te gaan om die volkswil te verneem. Alles het voorspoedig gegaan. Die offisiere, wat die vergaderings moes hou, is volgens Kestell oral deur die Engelse goed behandel en gehelp. Toe 15 Mei nader, was die afgevaardigdes gekies.

Saam het Steyn en Kestell na Vereeniging vertrek. Op weg daarheen het Steyn verder verswak, en toe hy op 14 Mei in Klerksdorp kom, kon hy nie meer sonder hulp van sy rytuig afstap, en selfs nie loop sonder om op iemand te leun nie. Die aand het die treinreis van Klerksdorp begin en die oggend het hulle in Vereeniging aangekom. Daar was ’n dik mis en dit was koud.

De Wet het geweier om voor 15 Mei by Vereeniging op te daag en die trein moes die vorige nag by Wolwehoek-stasie wag. Hy het ook geweier om met ’n gehawende ou kar van die stasie af aangery te word, en saam met ’n paar ander gestap. Die tentedorp was naby die Vaalrivier, ’n paar honderd tree van die hoofspoorlyn. Die tente van die Vrystaatse afgevaardigdes was in die suidweste van die kamp en dié van Transvaal in die noordweste. In die middel, tussen die twee groepe, was daar ’n groot tent vir vergaderings.

Alles was ingerig om dit vir die afgevaardigdes so aangenaam moontlik te maak; die vriendelikheid van die Engelse het niks te wense oorgelaat nie, skryf Kestell. Maar volgens Steyn was die kamp vol Engelse spioene. ’n Paar vroue is toegelaat om ’n soort winkel te hou, maar toe hy dit hoor, het hy gesorg dat hulle verwyder word.

’n Paar dae voor die beraadslagings het een van die skokkendste voorvalle in die oorlog plaasgevind. ’n Zoeloemag het op 6 Mei by Holkrans in die distrik Vryheid (destyds deel van Transvaal) ’n kommando van 70 slapende burgers oorval en 56 van hulle vermink en vermoor. ’n Paar dae voor die aanval het die Zoeloe-hoofman besoek ontvang van AJ Shepstone, seun van sir Theophilus Shepstone wat in 1877 Transvaal geannekseer het. Jackie Grobler meld dat die moord ongelukkig deel was van die siklus van wraak en weerwraak tussen swart en wit in onder meer daardie deel van die land.