25 JULIE

GEBEURE

1661 – Eerste lemoene

Die Nederlandse kommandant aan die Kaap, Jan van Riebeeck, skrywe in sy Dagregister dat die eerste lemoene in die Kompanjiestuin in Kaapstad gepluk is.

1755 – Johann Christiaan Ritter stap aan wal

Johann Christiaan Ritter stap in Tafelbaai, en in diens van die VOC, aan wal. Hy was ’n boekbinder sowel as drukker van beroep. Hy het ook verskeie almanakke gedruk. Hy was waarskynlik die eerste van sy soort ambag in die land.

1874 – Die eerste Burgerspond oorhandig

Van die bekendste Suid-Afrikaanse munte is die Burgersponde van 1874, wat genoem is na pres. TF Burgers wat die inisiatief geneem het om goud uit Pelgrimsrus na Londen te stuur om gemunt te word. Die eerste Burgerspond is op 25 Julie 1874 in Londen aan mnr. JJ Pratt, konsul-generaal van die ZAR oorhandig. In 1898 het pres. SJP Kruger aan Samuel Marks verlof gegee om die Munt van die ZAR vir een dag te gebruik in ruil vir ’n paar leeus uit klip gekap. Marks het toe 215 goue tiekies laat munt. Een van hulle is destyds vir R500 verkoop. Toe die ZAR na Oos-Transvaal moes vlug ná die inname van Pretoria deur die Britse magte in 1900 in die Anglo-Boereoorlog en geld skaars geraak het, is die Veldpond op Pelgrimsrus geslaan. Op die voorkant het die letters en syfers ZAR 1902 gestaan en agterop die woorde Een Pond. Ongeveer 1 000 Veldponde is geslaan.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Bankstasie (Potchefstroom), ZAR; Kommandonek, Ficksburg, OVS

1905 – Kaapstadse Stadshuis ingewy

Die imposante Kaapstadse Stadshuis aan Darlingstraat, reg oorkant die Kaapse Parade en skuins oorkant die Kasteel, is feestelik ingewy.

1971 – Eerste hartoorplanting in Suid-Afrika

Dr. Chris Barnard doen die eerste gekombineerde hart-longoorplanting by Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad.

1993 – Die St. James-bloedbad vind plaas in Kaapstad

 

GEBOORTES

1755 – Johann Christian Ritter, waarskynlik die eerste drukker en boekbinder in Suid-Afrika († 9 September 1810)

Johann Christian Ritter is in Duitsland gebore. As seun van ’n boekbinder bekwaam hy hom as drukker en boekbinder. Hy stap in 1784 in Tafelbaai aan wal in diens van die VOC en was vermoedelik die eerste drukker en boekbinder in Suid-Afrika, wat onder meer die almanakke vir 1795, 1796 en 1797 gedruk het. Slegs die titelblad van die 1796-almanak het bewaar gebly en is die oudste oorgeblewe stukkie drukwerk in Suid-Afrika. Hy sterf in Kaapstad op 9 September 1810.

1918 – Jacob Daniel du Plessis (Japie) Basson, politikus († 8 Augustus 2012)

Japie Basson was een van die kleurrykste politieke figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en was agtereenvolgens lid van die Verenigde Party, Nasionale Party, Nasionale Unie, weer die Verenigde Party en later die Progressiewe Federale Party.

 

STERFTES

1865 – Ulrich Gerard Lauts, skrywer en akademikus (* 19 Mei 1787)

Prof. Ulrich Gerard Lauts was die eerste Boereverteenwoordiger in Europa en eerste skrywer oor die Voortrekkers. Hy is in 1787 in Amsterdam gebore, die seun van ’n handelaar. Hy word ’n lektor in Wetenskap en Lettere.

1924 – Prof. Jan Kamp, skrywer, literêre kritikus en redakteur van Het Westen (* 12 Desember 1862)

Hy is op 12 Desember 1862 in Enschede, Nederland, gebore. In 1897 verhuis hy na Suid-Afrika, waar hy in Rustenburg hoofonderwyser word. In die Anglo-Boereoorlog werp hy sy lot by die Boere in en veg tot die einde van die oorlog. In 1905 word hy aangestel in die literariese departement van die Gereformeerde Kerk se Teologiese Skool op Potchefstroom. As literêre kritikus, redakteur van Het Westen en hoogleraar in Nederlands aan die Potchefstroomse Universiteitskollege, het hy met sy koersvaste Calvinistiese oortuigings leiding in die volkslewe, kultuur en die politiek gegee.

1999 – Prof. Johan Combrink, taalkundige (* 2 Mei 1939)

2009 – Prof. Marthinus Cornelius Ellnarius (Tienie) van Schoor, historikus en skrywer (* 24 November 1920)

Tienie van Schoor was ’n bekende historikus en outeur van talle boeke oor die geskiedenis van die Afrikaner en die Anglo-Boereoorlog. Hy het dit as sy lewenstaak gesien om die geskiedenis van die ABO deeglik na te vors en te boekstaaf, en het veral in die Vrystaatse Driemanskap, pres. Theunis Steyn, genl. Christiaan de Wet en ds. JD Kestell belanggestel.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/