CHRIS BARNARD (1922-2001)

Pionier van hartoorplantings

Christiaan Neethling Barnard het hom aan die Universiteit van Kaapstad as mediese dokter bekwaam. Van die begin af wou hy in chirurgie spesialiseer en ná verdere studie verwerf hy in 1953 ’n MD-graad en ’n jaar later ’n MMed-graad.

In 1955 het hy die geleentheid aangegryp om onder die bekende hartchirurg en navorser, prof. Wangensteen, aan die Universiteit van Minnesota in Minneapolis te gaan studeer. Daar het hy die byna onmoontlike vermag om binne twee jaar die MSc- en PhD-grade in Chirurgie te verwerf. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy ’n hart-long-masjien, wat op aanbeveling van prof. Wangensteen deur die Amerikaanse regering geskenk is, by die Groote Schuur-hospitaal laat installeer. Hierdie masjien, die eerste van sy soort in Suid-Afrika, het Chris Barnard in staat gestel om ingewikkelde opehartoperasies uit te voer.

Op 3 Desember 1967 het die wêreld verneem dat Chris Barnard en sy span die eerste volledige hartoorplanting ter wêreld in die Groote Schuur-hospitaal op Louis Washkansky uitgevoer het. Dr. Barnard doen die tweede hartoorplanting in Groote Schuur op 2 Januarie 1968.

Chris Barnard het oornag wêreldberoemd geword. Hy is oorval met uitnodigings na talle lande om sy tegniek te verduidelik en om behulpsaam te wees om soortgelyke operasies uit te voer. Tydens sy loopbaan het hy veertien boeke en 235 wetenskaplike artikels geskryf.

Dr. Barnard is wêreldwyd op talle wyses vereer: hy ontvang elf eredoktorsgrade en 36 internasionale toekennings van elf lande, asook 76 goue, silwer- en bronsmedaljes. Die vryheid van 26 stede is aan hom toegeken en 60 gedenktekens is vir hom opgerig.

Sy grootste nalatenskap, volgens Mari Hudson, mediese joernalis, is egter die talle kinders met abnormale harte wie se lewens gered kon word met die toepassing van tegnieke wat hy ontwikkel het en die feit dat hartoorplanting feitlik ’n algemene chirurgiese prosedure geword het. Hy sterf op 2 September 2001 te Ciprus, Griekeland.

deur Petronel Fourie