25 MAART – POTGIETER WOU SO VER MOONTLIK VAN ENGELSE WEGKOM
Piet Retief was van die begin af ten gunste van Natal as die eindbestemming van die trek. Daarmee het ander leiers nie saamgestem nie. Potgieter se groot strewe was om so ver moontlik van die Engelse weg te kom, en omdat daar reeds ’n paar Engelse handelaars in Port Natal was, het dit vir hom vanselfsprekend gelyk dat die Britse gesag daarheen sou uitbrei. Hy wou dus nie saamtrek nie. Meningsverskil het ook tussen Retief en Maritz ontstaan oor die trekroete – ooswaarts oor die Drakensberg of noordwaarts om “die punt van die berg” om dié hindernis te vermy. Potgieter en Maritz het boonop tevore al met die steun van Piet Uys besluit om eers met Mzilikazi af te reken, omdat die land wes van die Drakensberg anders onveilig sou bly. Op 16 September 1837 het Potgieter en sy mense, en op 18 September Maritz se mense, van die Retief-trek afskeid geneem. Potgieter, Maritz en Uys het daarna noordwaarts getrek en Retief oos.
Ongeveer ’n dagreis van die Drakensberg af het Retief sy trek laat halt. Hy het veertien mans met vier waens die berge afgestuur en het hierdie voorhoede op 6 Oktober gevolg. Op 7 Oktober skryf hy dat hulle die skoonste land aanskou het wat hulle nog in Afrika gesien het. Langs byna loodregte walle af en deur groot riviere en vleie het Retief en sy klein geselskap Port Natal ná ’n rit van byna 90 uur te perd bereik. Daar het hy met die stuk of dertig Engelse handelaars, wat ’n armsalige lewe gelei het, sy plan bespreek om die Zoeloekoning Dingaan te besoek. Dingaan het die vorige koning Shaka op 22 September 1828 saam met sy halfbroer Mhlangana en ’n koninklike lyfbediende doodgesteek. Daarna is Mahlangana ook vermoor, en het Dingaan die heerser geword.
Op 5 November 1837 kom Retief in Dingaan se hoofstad Umgungundlovu aan om met hom te onderhandel oor ’n woongebied vir die trekkers. Dat Retief dit kom vra het, was aan Dingaan bekend, want Retief het al op 19 Oktober aan hom geskryf, en onder meer verklaar: “Our anxious wish is to live at peace with the Zulu nation.”
Dingaan was egter onseker oor hoe om die situasie te hanteer. Toe hy Retief op 6 November ontvang, probeer hy tyd wen deur Retief daarvan te beskuldig dat die trekkers sy vee gesteel het. Retief het hom daarop gewys dat Sekonyela, ’n baTlôkwa-kaptein die skuldige is – wat Dingaan in werklikheid self geweet het. Daarop beloof Dingaan om die grond tussen die Tugela en die Umzimvubu aan die trekkers af te staan as Retief die gesteelde vee aan hom terugbring. Dié eis het hy waarskynlik gestel met die hoop dat dit tot ’n botsing tussen Retief en Sekonyela kon lei. Retief het egter ingestem en dit op 18 November per brief bevestig.
Retief het op 27 November by sy trek aangekom. Terwyl hy weg was, het sy mense nader aan die Drakensberg beweeg en op Dinsdag 14 November 1837 het die eerste waens begin afdaal. Debora, Retief se oudste dogter, het op 12 November 1837 haar vader se naam met groen verf teen een van die oorhangende rotse van die Kerkenberg naby die huidige Harrismith geskilder. In Desember was baie trekkers reeds in Natal.