ANTON RUPERT VORDER SKOUSPELAGTIG

Aanvanklik het Bonuskor veral belê in visserye, staal- en houtbedrywe, plaasimplemente, chemikalieë en steenkoolmyne. Hoewel dit die beleid was op te konsentreer op finansieel gesonde ondernemings, het een van die eerste lenings gegaan aan ’n klein maatskappy, Voorbrand Tabak. Aan die hoof van Voorbrand was Anton Rupert, ’n man met ’n MSc in chemie. Op 23-jarige leeftyd het Rupert (glo met net £20 kapitaal!) en ander Voorbrand opgerig. Die eerste produk was Patriot-tabak, genoem na die eerste Afrikaanse koerant. In 1943 het Rupert Tegniese en Industriële Beleggings opgerig. Binne drie jaar het hy bates van meer as £1 000 000 gehad en beheer verkry oor Distillers, wat wyn en ’n gewilde brandewyn bemark het. Daarna het hy die Rembrandt-tabakmaatskappy opgerig, wat in 1948 sy eerste sigarette begin versprei het. Rupert het die waarheid geïllustreer van sy dikwels aangehaalde uitspraak: “Hy wat nie in wonderwerke glo nie, is nie ’n realis nie.”

Die sukses van die ekonomiese beweging blyk uit gegewens wat op die Tweede Ekonomiese Volkskongres van 4 tot 6 Oktober 1950 in Bloemfontein verstrek is. Volgens dr. MS Louw het die Afrikaners in dié elf jaar met handelsbanke die beste gevorder. In 1939 was daar net die Stellenbosse Distriksbank, maar daarna het Volkskas met sy 77 takke bygekom. In 1939 was daar geen bouverenigings nie; in 1950 Saambou met ’n eie kapitaal van byna £2 miljoen. Santam se premie-inkomste het van £100 000 in 1939 tot £5 000 000 in 1949 toegeneem. Sanlam het sy jaarlikse inkomste verhoog van £900 000 in 1939 tot £4 miljoen in 1949, en sy fonds van £3 400 000 tot £17 100 000. Die jaarlikse wins was in 1949 byna £1 miljoen en dit was op een na die grootste versekeringsinstelling.

Hoewel soveel Afrikanerkapitaal gemobiliseer is, het Afrikaners sterk vooroordele teenoor ander Afrikaners in die sakewêreld gehad. Rupert het een maal opgemerk dat hy as internasionale sigaretvervaardiger kon slaag omdat hy sy eerste sukses onder Afrikaners gehad het: hulle is die mees kritiese klante ter wêreld, veral teenoor produkte van mede-Afrikaners. Die salarisse van die sakeleiers was maar beskeie. Toe Rembrandt groot winste begin maak het, het Rupert ’n aanbod van die direksie geweier om sy aandeel in die winste van 2% tot 10% te verhoog.

Koerante en tydskrifte was indertyd van kardinale belang vir die kultuurlewe en die politiek. In die 1930’s is drie uitgewers opgerig. Die Afrikaanse Pers Bpk. het Noordelike Drukpersmaatskappy in 1932 oorgeneem en die naam van sy koerant verander na Die Vaderland. Dit is na Johannesburg verskuif en het op 2 Julie 1936 as dagblad begin met Willem van Heerden as redakteur. Die tydskrifbylae, Die Brandwag, het op 2 Februarie 1937 ’n selfstandige blad geword onder AM van Schoor. Daarmee het die naam herleef van die blad wat van 1910 tot 1922 bestaan het. In 1936 is die Unie-Volkspers gestig, uitgewer van die “Smelter”-dagblad Die Suiderstem (met die historikus CJS Strydom en kort daarna die skrywer Abraham Jonker as redakteur) en ’n suksesvolle tydskrif, Naweek. Sy redakteur was EB Grosskopf, skrywer van die jeugboek Patrys-hulle, wat ’n groot verkoper was. Met Kaapse hulp is Voortrekkerpers in Johannesburg opgerig. Sy dagblad Die Transvaler het op 1 Oktober 1937 begin met dr. HF Verwoerd, gewese professor van Stellenbosch, as redakteur. Die historikus GD Scholtz was een van die redaksielede. Hy het talle werke geskryf, waarvan Die geskiedenis van die politieke denke van die Afrikaner in agt dele die belangrikste is. Onder sy biografieë was van groot Afrikaners soos pres. JH Brand van die Vrystaat, genl. CF Beyers, dr. NJ van der Merwe en dr. HF Verwoerd. Hy was ook later self redakteur van Die Transvaler.