BYNA “ROOI REVOLUSIE” AAN DIE RAND
‘n“Bolsjewistiese komplot,” “Rooi terreur,” ’n “Rooi opstand”. Só het SAP- en NP-politici en die Randse Engelse pers dit genoem – die Randse staking van 1922. Smuts het die staking die “Rooi Revolusie” genoem. Die revolusionêre lied, die “Rooi Vlag”, is inderdaad ook gesing, en kommuniste wás betrokke. Soms was die Vierkleur saam met die Rooi Vlag te sien.
’n Wet van 1911 het bepaal dat net wit mense bepaalde soorte werk in Transvaalse en Vrystaatse myne mag verrig. Die wit mynwerkers het besef dat, as die staat die kleurslagboom in die myne afskaf, swart mense dan baie van hul werk teen laer lone sou oorneem. Die Rand Daily Mail het op 20 Mei 1920 geskryf: “Any effective elimination of the colour bar on the Rand would be followed by an influx of coloured workers from the Cape. The balance of numbers would move against the white race.” Die mynbase wou nie net die bedryfskoste laag hou nie, maar ook hul verantwoordelikhede teenoor die werknemers verminder. Hulle was gekant teen ’n pensioen aan mynteringlyers. Terwyl die myne se posisie verswak het, het die Kamer van Mynwese aangekondig dat hy van 1 Februarie 1922 af nie meer die status quo waarop in 1918 ooreengekom is, verder gaan erken nie. Daarvolgens sou nie-blankes nie die werk van blankes oorneem nie.
’n Paar dae nadat die staking afgekondig is, het die stakers orals aan die Rand kommando’s gevorm. Afrikaners het in groot getalle daarby aangesluit. Daar was ’n hele paar “generaals”. Die bekendste was die 38-jarige “kommandant-generaal” van die Fordsburg-kommando, Rasmus Pieter Erasmus. Verskeie Afrikaanse vroue het ook deelgeneem.
Smuts het probeer om te bemiddel, maar weens die onversoenlike houding van die kamer van mynwese en die stakers het hy dit maar gelaat en gesê: “I think we should let things develop.” Op 10 Maart moes die regering die krygswet afkondig. Op daardie “swart Vrydag” het die stakers van die Oos- tot die Wes-Rand aanvalle gedoen op polisiekantore, die spoorweë en die myne. Die stakers het verkeerdelik gereken op steun van die platteland. Die hele Oos- en Wes-Rand was gou onder beheer van die regeringstroepe. Die stakers kon alleen in Fordsburg stand hou, maar die regering het hulle met die hulp van vliegtuie, kanonne, masjiengewere en selfs ’n tenk onder die koeëls gesteek. Hierteen was die stakers nie bestand nie. Twee dae later was alles verby. Op 15 Maart 1922 het ’n paar stakerleiers selfmoord gepleeg. Honderde mense is in die opstand dood. Vir die stakers was dit ’n verpletterende neerlaag. Afrikaners het die swaarste onder die staking gely, en altesaam 4962 mense is in hegtenis geneem en 853 is verhoor – 46 van hulle weens hoogverraad en moord. Agtien is ter dood veroordeel, maar veertien begenadig. Baie ander Afrikaners het tronkstraf of swaar boetes gekry. Daardeur is hulle so in die skuld gedompel, dat hul mede-Afrikaners fondse moes stig om hulle te help. Meer as 7000 wit mynwerkers is uit hul werk ontslaan. Twee dae nadat die opstand bedaar het, het ’n afdeling van die spesiale polisie ses Afrikaners in hegtenis geneem en onder verdagte omstandighede doodgeskiet. Verskeie getuies het die bevelvoerder weerspreek wat beweer het dat die mans probeer ontvlug het. Drie van die ses was Hanekom-broers.
Dit is ’n bietjie tragies dat die Suid-Afrikaanse Lugmag vir die eerste keer gebruik is in die Randse opstand. Ook in 1922 is dit ’n tweede keer ingespan – om ’n opstand van die Bondelswarts in Suidwes-Afrika, die huidige Namibië, te onderdruk.