GELYKE TAALREGTE VIR AFRIKAANS- EN ENGELSSPREKENDES
Die strydvaardige Afrikanernasionaliste kon in 1908 ’n oorwinning van groot betekenis behaal. Daardeur kon hulle die ontwikkeling van Afrikaans en later indirek ook dié van die Afrikatale in die 20ste eeu positief beïnvloed. Dit het gebeur op die Nasionale Konvensie wat ’n grondwet vir ’n Unie van Suid-Afrika moes opstel.
Ná die oorlog het Engelssprekende leiers en koerante dit dikwels bepleit dat Engels die enigste amptelike taal moet wees: die nuwe magsverhoudinge noodsaak dit, is betoog; bowendien, daar was twyfel of Afrikaans sal kan voortbestaan – en indien ’n taal gaan uitsterf, behoort dit nie kunsmatig deur wette aan die lewe gehou te word nie. Engels is die taal van beskawing en geleerdheid, die “superior” taal, en dié moet gekies word. Ten slotte is betoog dat ware eenheid amptelike eentaligheid noodsaak. Die Natal Mercury het op 20 Maart 1909 geskryf: “There can be no true union, the nation will never become one, which speaks with two voices”.
Maar vir leiers soos pres. Steyn en genl. Hertzog was gelyke taalregte vir Afrikaans- en Engelssprekendes ’n voorwaarde vir ’n unie van die vier Britse kolonies. Amptelike status vir die twee tale was noodsaaklik, maar hul gelykheid moes uitdruklik gestel word. So sterk het pres. Steyn oor die taal gevoel dat hy aanvanklik nie die sitting van die Konvensie wou bywoon nie omdat hy bang was dat dié liggaam die taal sou misken. Hy was eers gewillig om te gaan ná ’n versekering van genl. Botha. By die begin van die sitting is petisies uit verskeie dele van die land voorgelees waarin gevra is dat Hollands en Engels gelyke regte moes geniet. Daar was onder meer petisies van die Afrikaanse vroueverenigings. (In die volgende stukkie is daar iets meer oor die betekenis van Hollands, wat destyds Afrikaans ingesluit het.)
Die afgevaardigdes het die taalkwessie op 19 Oktober 1908 bespreek. Hertzog het gesê die Afrikaners sou nooit ’n skikking aanvaar wat twyfel laat oor die absolute taalgelykheid, wat hulle met ’n gevoel van vernedering sou vervul nie. Pres. Steyn het gesê dat Hollands op een of ander tyd die ampstaal van al die kolonies was. “Ons taal het sy offisiële karakter alleen deur geweld verloor. Vir geweld moes ons swig. Die Konstitusie wat ons nou gaan opstel, sal ons eie daad wees, en niemand kan verwag dat ons vanself ons taal en ons volk in ’n onderdanige posisie sal gaan plaas nie. As ons dit sou doen, sal die volk nimmer sy goedkeuring daaraan heg nie, en in plaas van te verenig, sal ons Suid-Afrika nog meer verdeel.” Die gelykheid van die tale is die simbool van die gelykheid van die volksgroepe, het hy gesê. Verskeie mense was aangedaan terwyl Steyn gepraat het oor versoening en taalgelykheid. Volgens FS Malan was die oë van meer as een afgevaardigde betraan. “Ek moes my trane herhaaldelik afvee en het byna beskaamd gevoel oor my weekmoedigheid.”
Taalgelykheid was dus vir pres. Steyn, soos vir Hertzog, ’n voorwaarde vir versoening, wat in werklikheid daarop neerkom: die erkenning van Afrikaans (wat ingesluit is in die benaming Hollands) is ’n voorwaarde vir die versoening van die twee wit taalgroepe. Dit impliseer dat Afrikaans ’n simbool van versoening sou wees.
Op 20 Oktober het die Konvensie ’n besluit geneem wat Hertzog laat neerskryf het: “Groote overwinning” en daarby: “10.27 dezen morgen – 20 Oct. 1908 – besluit algemeen aangenomen verklarende beide de Hollandsche en Engelsche taal als officieele talen der Unie te woden behandeld op gelijke voet en te genieten gelijke vrijheid, rechten en voorrechten, ens.” Die Konvensie het dus Hollands, eintlik maar Afrikaans, en amptelike meertaligheid erken. Dit maak van 20 Oktober 1908 ’n groot datum in die geskiedenis van Afrikaans, maar ook van Suid-Afrika.
Die presiese formulering lui: “Both the English and Dutch languages shall be official languages of the Union, and shall be treated on a footing of equality, and possess and enjoy equal freedoms, rights and privileges; all records, journals and proceedings of Parliament shall be kept in both languages, and all Bills, Acts, and notices of general public importance and interest issued by the Government of the Union shall be in both languages.”