TWEEDE WÊRELDOORLOG VERDEEL SUID-AFRIKANERS
Gebeurtenisse in Europa het opnuut die politiek en die hele lewe in Suid-Afrika beïnvloed. Groot ellende het ná die Eerste Wêreldoorlog in Duitsland geheers: armoede, werkloosheid, inflasie. Uit die moedeloosheid is die Nasionaal-sosialistiese Duitse Arbeidersparty (kortweg die Nazi-party) gebore met Adolf Hitler as leier. Nazi-Duitsland het Oostenryk in 1938 “aangeheg”, die Sudetengebied in Tsjeggo-Slowakye dieselfde jaar ingelyf en in Maart 1939 die res van dié land geannekseer. Engeland en Frankryk het hulp teen Duitse aggressie aan Pole belowe. Onverwags is ’n nie-aanvalsverdrag tussen Rusland en Duitsland op 21 Augustus 1939 aangekondig. Hulle het in die geheim afgespreek om Pole te vernietig en onder mekaar te verdeel. Op 1 September 1939 het Duitse troepe die Poolse grens oorgesteek.
Toevallig was die Suid-Afrikaanse Volksraad begin September vir ’n buitengewone sitting oor ’n ander saak byeen. Op Vrydag 1 September het die NP-koukus besluit om Hertzog in kennis te stel dat, as hy neutraliteit sou voorstel, die party hom ten volle sou steun. Paul Sauer het met die nuus van die aanbod na Groote Schuur gery, waar Hertzog, sy vriend Jack Brebner en ministers Klasie Havenga en Oswald Pirow hom vriendelik ontvang het. Hertzog het beloof om later te antwoord.
Op 2 September het dit op ’n kabinetsitting geblyk dat die kabinet verdeeld is. Maar Brittanje het toe nog nie oorlog verklaar nie, en daar was ’n vae hoop op ’n kompromis. Op Sondag 3 September het Brittanje oorlog verklaar. Die kabinet sou die middag ’n besluit moes neem. Vroeër die dag het dr. Malan ’n brief aan Hertzog geskryf waarin hy gepleit het vir neutraliteit en weer sy party se steun beloof het. Paul Sauer het die brief Groote Schuur toe geneem en daar opgedaag byna gelyktydig met die koms van genl. Smuts.
Op die Kabinetsitting het die regering onherroeplik geskeur. Hertzog en vyf ministers was vir neutraliteit, Smuts en ses ander vir oorlog teen Duitsland. Later die aand het Hertzog Malan na Groote Schuur laat haal, en vriendelik ontvang. Daar was hoop dat die voorstanders van neutraliteit ’n stemming in die Volksraad kon wen.
In die Volksraaddebat op 4 September het Hertzog egter ontaktvol pro-Hitler gepraat en selfs sy ondersteuners ontstel. Sowat agt oud-NP’s het vir Smuts gestem. Onder hulle was Colin Steyn, seun van pres. MT Steyn. Hertzog se voorstel vir neutraliteit is met 80 teenoor 67 verslaan.
Buite die Parlementsgebou het Afrikaners die LV’s toegejuig wat vir neutraliteit gestem het. Die bekende dramaturg, min. HA Fagan en dr. Malan is onder die sing van “Die Stem” deur jong mans op hul skouers gedra. Terwyl Hertzog deur die skare stap, is dié lied en “Afrikaners landgenote” gesing. Groot was die blydskap dat Afrikaners weer verenig was. (Die historikus At van Wyk beskryf die oorlogskrisis in sy Vyf dae.)
Smuts het premier geword. Onder sy ministers was Afrikaners soos die liberale JH Hofmeyr, Colin Steyn, en ’n oud-Sap, Deneys Reitz, seun van pres. FW Reitz en skrywer van onder meer Commando. Baie Afrikaners het neutraliteit gesteun soos ook Nederland, België, die Skandinawiese lande, Switserland en die VSA. In hul hart het party Afrikaners iets vir Duitsland gevoel: die vyand van jou vyand is immers jou vriend! Van Nazisme het hulle niks geweet nie.