27 FEBRUARIE
GEBEURE
1751 – Rijk Tulbagh word goewerneur aan die Kaap
1837 – Wet word gepubliseer
’n Wet, bekend as die “Cape of Good Hope Punishment Act” word op hierdie dag in die Government Gazette gepubliseer. In kort het dit beteken dat ’n kakebeenwa soos gebruik was in die tyd nie meer as 10 pond kruit mag vervoer nie. Hierdie wet is ingestel om voornemende Voortrekkers te ontmoedig om die Kolonie te verlaat.
1864 – Bethlehem in die Vrystaat is gestig
1881 – Eerste Vryheidsoorlog: Die Slag van Majuba
Die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek op 12 April 1877 het meegebring dat baie van die grootste sentra van die Transvaal beset was deur die Britse garnisoene. Die herstel van die ZAR op 13 Desember 1880 het weer openlike vyandelikhede tussen die Transvaalse burgers en die Britse besetters laat uitbreek. Om Pretoria te ontset, is ’n Britse leërafdeling van Lydenburg af gestuur. Naby Bronkhorstspruit is die mag deur genl. Frans Joubert totaal verslaan en gevange geneem. Dit was die eerstes van ’n reeks neerlae wat die Britte gedurende die Eerste Vryheidsoorlog teen die Boere sou ly. Genl. sir George Pomeroy Colley was luitenant-goewerneur van Natal, maar sy pogings om met sy ontsettingsmag na Transvaal deur te dring, is verydel deur genl. Joubert, die Transvaalse kommandant-generaal wat met ongeveer 2000 man die toegang deur die Drakensberg by Laingsnek versper het. Twee keer, by Laingsnek op 28 Januarie 1881 en by Schuinshoogte op 8 Februarie 1881, moes Colley na sy militêre kamp by Mount Prospect terugkeer om sy wonde te gaan lek. Begerig om sy geskonde reputasie ná al die neerlae te herstel, het Colley ’n laaste poging aangewend deur op 27 Februarie die berg Amajuba te beset. Colley wou met hierdie oorheersende hoogte in sy besit, die pad deur Laingsnek met artillerievuur beheer en sodoende poog om met ’n hernieude aanval op dié toegangsweg sy opmars na Transvaal geslaag op dreef te kry. By wyse van ’n nagmars het hy dit reggekry om in die nag van 26/27 Februarie 1881 troepe op Amajuba te plaas. Hiermee het hy ’n verrassing behaal, want dit was eers na dagbreek dat genl. Joubert van die ontstellende feit kennis geneem het. Joubert wat besef het dat sy linie aan weerskante van Laingsnek nou deur omvleueling bedreig word, het aan genl. N Smit opdrag gegee dat Amajuba ingeneem moet word. Veldkornet Fanus Roos en sy manne moes reguit na Gordon’s Knoll beweeg. Kommandant Joachim Ferreira en sy manne het parallel met Roos aan sy westekant beweeg. Veldkornette Malan en Trichardt met hulle manne het parallel met Roos aan sy oostekant beweeg. So is die kruin van drie kante af, noord, oos en wes beset. Van agter die skuiling van die groot terras het die Boere ouer as die ouderdom van 50 jaar voortdurend met hulle koeëls die Britte op die kruin onder druk geplaas. Colley het aanvanklik min gedoen om sy magte ordentlik op die kruin te verskans. Hy was ook traag om artillerie teen die berg uit te sleep. Verder het hy geen werklike plan in werking gestel om die Boerestellings weerskante van Laingsnek met ’n gekoördineerde aanval van Amajuba af en sy kamp by Mount Prospect aan te pak nie. Nadat hy die borswering en ’n viertal koppies op die rand van die plato beset het, het hy dadeloos gewag, skynbaar om sy soldate geleentheid te bied om uit te rus, salig onbewus van die ontplooiing van die stormgroepe wat onder dekking van die dooie grond, besig was om die berg te bestyg. Teen ongeveer 12h45 die middag was die Boere in posisie om die borswering van die plato en gereed vir die finale stormaanval. Terwyl ’n speerpunt van ongeveer 60 burgers vorentoe beweeg, het die res dekkingsvuur verskaf en met moordende akkuraatheid die Britse rooi en blou baadjies wat duidelike teikens agter hul yl skanse was afgemaak. Colley wat op die tydstip besig was om te dut, is totaal verras en nóg hy, nóg sy troepe in linie of die reserwes kon die inbraak deur die borswering op die kruin afweer. Teen ongeveer eenuur was die inbraak voltooi en het die Boere deur die doelwit begin veg, terwyl die Britse soldate voor hulle suidwaarts oor die gelykte wat die berg bo-op vorm, vlug en sneuwel. Geen teenaanval kon deur Colley georganiseer word nie en terwyl hy deur die induiestorting van sy verdediging vasgenael staan en toekyk, is hy dodelik getref. Sommige soldate het tydens hul vlugtog oor die rand van die suidelike kruin die afgrond afgestort, die meerderheid wat nie gedood of gewond is nie, het oorgegee. Dit was die mees verpletterende neerlaag wat ’n Britse leërafdeling sedert Isandhlanwane gely het. Die uitslag as ’n besliste neerlaag van die hele reeks gevegte van die Eerste Vryheidsoorlog is deur die Liberale regering van Gladstone aanvaar en ’n wapenstilstand is met die Boere aangegaan. Dit het gelei tot die Pretoriase konvensie in 1881 en tot die Londense konvensie in 1884 wat die onafhanklikheid van die ZAR weer eens herstel het. Die oorwinning van Amajuba kan beskou word as die geboorte-uur van moderne Afrikaner Nasionalisme.
1884 – Soewereiniteit van ZAR erken
Die soewereiniteit van die ZAR word deur Brittanje erken met die ondertekening van die Verdrag van Londen, presies drie jaar na Majuba.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Oorgawe van genl. PA Cronje
Nadat veldmaarskalk Roberts genl. Piet Cronje se strategiese stellings by Magersfontein omvleuel het, was Cronje met die tweede belangrikste Republikeinse leër in gevaar om ingesluit te word. Omdat hy sy walaer saam met sy mag van bykans 4000 man wou red en nie insig genoeg geopenbaar het om Roberts se strategie vooruit te loop nie, is hy uiteindelik op 17 Februarie 1900 op die plaas Wolwekraal, nie ver van Paardeberg nie, teen die Modderrivier, vasgedruk. Tien dae lank is tevergeefs weerstand gebied teen ’n Britse oormag van 33 000 man, met 120 kanonne wat Cronje van alle kante bestook het. Sy laaste poging om te ontkom, is op 26 Februarie verydel toe sy geïmproviseerde wabrug oor die steeds voller wordende rivier deur Britse artillerievuur vernietig is. Die lyding van die kinders, vroue en burgers in sy bomverflenterde laer, waar honger, koue, gebrek aan medikamente, die wil tot verder weerstand begin ondergrawe het, het ’n breekpunt veroorsaak. Die meerderheid van sy burgers het oorgawe geëis. Toe teen dagbreek die voorspel tot die finale stormloop met ’n bombardement ingelui is, het enkele wit vlae bokant die laer verskyn. Die krygsrumoer het bedaar, en Cronje het ’n nota uitgestuur en ’n rukkie later onder geleide van Britse boodskappers persoonlik na Roberts uitgery en met 46 offisiere en 3873 man oorgegee.
1900 – Britse troepe onder leiding van generaal Redvers Buller breek deur die Boere se lyne tydens die Slag van Pietershoogte
1900 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Vaalkop, Colesberg
1901 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Doornkloof, Kaapkolonie
1902 – Oudste en jongste aangekeer
Die oudste en jongste Boere-krygsgevangenes wat gedeporteer sou word, is aangekeer. Hulle is Gideon J van Zyl (78) van Vrede, Vrystaat, en Johannes van Heerden (7) van Heidelberg, Gauteng.
GEBOORTES
1902 – Christiaan Maurits (CM) van den Heever, skrywer en digter († 8 Julie 1957)
Christiaan Maurits van den Heever is op 27 Februarie 1902 in die Konsentrasiekamp by Norvalspont gebore – hy was van die min babas wat hierdie traumatiese omstandighede gedurende die Tweede Vryheidsoorlog oorleef het. Hy is op hierdie dag in 1957 oorlede. In 1924 verwerf hy sy MA-graad in Nederlands met lof aan die Grey-Universiteitskollege. In 1929 slaag hy in sy doktorale eksamen aan Utrecht waarna hy in 1932 sy doktorsgraad aan Unisa behaal met ’n proefskrif oor Totius. Van 1924 tot 1926 is hy joernalis, en van 1931 tot 1932 lektor aan die GUK. Daarna word hy hoogleraar aan die Universiteit van die Witwatersrand en ook departementshoof, wat hy 25 jaar lank bly. As skrywer het hy ’n groot prestasie behaal deur twee maal die Hertzogprys te verower – vir prosa en poësie. Sy eerste publikasie was die digbundel Stemmingsure, in 1926 uitgegee, en die novelle Op die plaas het in 1927 die lig gesien. Daarop het baie werke gevolg, wat hom lank een van Afrikaans se mees gelese skrywers gemaak het. Verskeie het gewilde voorgeskrewe boeke geword, en sommige is ook vertaal. In die sewentigerjare is Somer een van sy gewildste romans, verfilm. Op die Afrikaanse kulturele vlak het hy ook ’n vername rol gespeel. Hy was byvoorbeeld twee keer kulturele attaché in Nederland, lid van die Suid-Afrikaanse Akademie, stigterslid en tot met sy dood voorsitter van die Afrikaanse Skrywerskring, en voorsitter van die Afrikaanse Kunsvereniging.
STERFTES
1929 – Pieter Daniël (Piet) de Wet, Boeregeneraal (* 18 Augustus 1861)
Pieter Daniël de Wet is die broer van genl. Christiaan de Wet en was ook ’n Boeregeneraal in die Anglo-Boereoorlog. De Wet het onder meer deelgeneem aan die Slag van Poplar Grove, die Slag van Sannaspos en die skermutseling by Lindley.
1974 – John van den Berg, uitsaaier en skrywer (* 7 Augustus 1913)
John van der Berg, ’n geniale mens met ’n minsame geaardheid en ’n fyn humorsin, het naas talle radiodramas, radiovervolgverhale en sportkommentare, ook rubrieke soos Ook die klein dingetjies; Nog klein dingetjies en Elke huis het sy kruis met onderskeiding saamgestel en uitgesaai. Na sy opleiding aan die toenmalige Grey-Universiteitskollege, Bloemfontein, het hy eers agt jaar skoolgehou en hom toe in 1944 by die Afrikaanse Radiodiens aangesluit. Hy het op 6 Augustus 1972 afgetree, nadat hy baie jare lank programorganiseerder in Durban was. Op radiogebied veral het hy ’n mooi bres vir Afrikaans geslaan. Hy is op 27 Februarie 1974 oorlede.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.