COLIN FRASER (1837-1911)
Ds. Colin Fraser was ’n predikant van die Nederduits-Gereformeerde (NG) Kerk wat ’n belangrike rol in die kerklike lewe van die destydse Oranje-Vrystaat gespeel het.
Colin McKenzie Fraser is op 20 Januarie 1837 op Beaufort-Wes gebore en sy pa, wie se naam hy gedra het, was ’n predikant aan die plaaslike gemeente wat deur dr. George Thom gewerf is. Hy was een van die Skotse predikante wat die tekort aan predikante in die Kaapkolonie moes aanvul en Lord Charles Somerset se verengelsingsbeleid moes uitvoer. Baie van die predikante het hulle egter mettertyd ten volle met die strewe van die Afrikaner vereenselwig. Sy ma was Maria Elizabeth Sieberhagen, van die plaas Tafelberg in die distrik van Beaufort-Wes. Ds. Fraser was een van nege seuns en een van sy broers, sir John Fraser, was ’n politikus. Daarby het hy sewe halfbroers en -susters van sy pa se eerste vrou, wat betreklik jonk oorlede is, gehad. Hulle was daarom altesaam sestien kinders en twee dogters uit die eerste huwelik het later onderwyseresse op Beaufort-Wes geword.
Ter wille van sy opvoeding is hy na Skotland gestuur toe hy nog jonk was. Daarna het hy na Utrecht in Nederland vertrek om hom vir sy lewenstaak te bekwaam. Hy het in die huwelik getree met Isabella Gordon Paterson, wie se pa ’n koopman in die Skotse stad Aberdeen was. Aan die einde van 1862 het hulle na Suid-Afrika teruggekeer, waarna hy in Kaapstad as beroepbare predikant met die verkondiging van die Evangelie behulpsaam was.
Sy beroep na Philippolis in die Vrystaat het gekom omtrent dieselfde tyd as wat sy pa geëmeriteer het. Die kerkvaders het hom as ’n moontlike opvolger vir sy pa beskou en op die eerste gekombineerde kerkraadsvergadering in Maart 1863 is hy beroep. Hy het dit egter van die hand gewys en die beroep na Philippolis, waar hy sy hele loopbaan lank as predikant sou dien, aanvaar. In ’n persoonlike brief aan ds. A.A. Louw, die predikant van die NG gemeente Fauresmith en konsulent van die jong gemeente Philippolis, het ds. Fraser die wens uitgespreek om op 18 April 1863 in sy amp bevestig te word.
Aangesien geen kerkraadsvergadering voor Vrydag 17 April, die dag voor sy bevestiging, belê is nie, het ds. Louw en die kerkraad intussen alle reëlings vir die ontvangs en bevestiging van Philippolis se eerste predikant getref. Die egpaar is met die wa en osse in Kaapstad gehaal en nadat hulle ’n rukkie by sy ouers op Beaufort-Wes gekuier het, het hulle in Philippolis aangekom. Al die predikante van die Oranje-Vrystaat is na die bevestiging genooi en ds. Fraser se pa het die bevestigingsrede gelewer. Toe die dag van die bevestiging aangebreek het, het ’n geselskap met die verwelkomingsadres byderhand na die Oranjerivier gery om die predikantspaar te verwelkom en hulle na Philippolis te begelei. Hulle het egter die verkeerde pad gekies en die egpaar misgery. Nadat hulle wel op die dorp aangekom het, is ’n kerkraadsvergadering die Vrydagmiddag gehou en die aanname van die beroep is formeel genotuleer.
Nie al die predikante wat genooi is, kon die geleentheid bywoon nie, maar buiten ds. Louw, was die predikante van die gemeentes van Smithfield en Colesberg teenwoordig. Ds. Fraser se pa kon nie die bevestiging waarneem nie, maar ds. Louw het wel, en sy preek na aanleiding van 1 Korintiërs 3:11 gelewer. Die Saterdagmiddag en -aand het ds. Anton Daniël Lückhoff van Colesberg voor die gemeente opgetree en ds. Pieter Roux, die eerste predikant van die gemeente op Smithfield, na wie die Vrystaatse dorp Rouxville vernoem is, het die Sondagoggend die Nagmaalsdiens waargeneem. Ds. Louw het Sondagmiddag sy afskeidspreek gelewer.
Na die naweek se verrigtinge het die kerkraad op Maandagoggend 20 April bymekaargekom . Voordat ds. Fraser binnegenooi is, het die kerkraad eers besluit hoe sy huisraad van Port Elizabeth na Philippolis geneem moes word. Nadat ds. Louw ’n kort afskeidsboodskap gelewer het, is ds. Fraser binnegenooi.
Nadat die Vrystaatse Kerk in 1864 ’n onafhanklike Sinode gevorm het, het ds. Fraser die taak gekry om ’n konsepkonstitusie vir die NG Kerk in die Vrystaat op te stel. In die kommissie waarvan hy deel was en wat hierdie taak verrig het, het hy besondere vernuf getoon, tot so ’n mate dat daar gereeld van sy dienste gebruik gemaak sou word. Hy het die Vrystaatse Kerk herhaaldelik op belangrike byeenkomste verteenwoordig.
Hy is in 1871, toe hy 34 jaar oud was en nog net agt jaar lank as predikant in die Vrystaat gewerk het, tot moderator van die Vrystaatse Sinode verkies. Drie jaar later is hy herkies. Toe hy in 1877 as moderator afgetree het, het hy ’n rede gelewer waarin hy gesê het dat lidmate meer belangstelling in hul kerk moet toon. Hy het ernstig gewaarsku teen die groot rol wat bygeloof onder Christene gespeel het en op die toename van die Rooms-Katolieke geloof gewys. Hy het verder standpunt ingeneem teen die oprigting van Roomse skole oral in die land en daarop gewys dat die geskiedenis van die Protestantisme dit nie kon goedkeur nie.
In Mei 1882 is hy weer tot moderator verkies en die Sinode het onder sy leiding sterk teen drankmisbruik te velde getrek. Daarom is ’n skrywe aan die Volksraad in hierdie verband gerig. Die volgende jaar is ’n ordonnansie vasgelê wat bepaal het op watter wyse drank binne die grense van die Oranje-Vrystaat verkoop kon word. In Mei 1884 is hy ’n vierde keer tot moderator herkies en in 1889 vir ’n vyfde keer. Tydens die Sinodesitting van 1895 het Philippolis per brief by die Volksraad aansoek gedoen om ’n verbod op treine op Sondae in te stel, met die uitsondering van treine wat bederfbare goedere vervoer het. Hoewel die Volksraad in 1890 wetgewing teen loterye ingedien het, het hierdie praktyk in die 1890’s toegeneem dat die saak tydens die sitting van 1897 bespreek is. In Junie 1898 het die Volksraad aanvullende wetgewing teen dobbelary aangeneem wat daartoe gelei het dat Wet 17 van 1890 in verband met dobbelary strenger toegepas is.
Ds. Fraser het groot erns gemaak van sendingwerk; dit is nie net tot Philippolis beperk nie omdat hy gemeen het dat dit in die hele Vrystaat en selfs buite die gemeentegrense gedoen moes word. Op Philippolis het hy soveel aandag daaraan gegee dat die blanke lidmate begin kla het, maar hoewel die kerkraad aandag aan die saak gegee het, het hulle hom toegelaat om daarmee voort te gaan. Wat sendingwerk betref, het Philippolis tussen die ander Vrystaatse gemeentes uitgeblink. Hoewel die notules van die Sendinggemeente vol ontugsake was, was die sedelike peil teen 1897 besonder hoog. Ds. Fraser se werkywer was onbeperk en sy verantwoordelikheidsbesef groot. Daar het ook die grootste vertroue tussen hom, die gemeente en die kerkraad geheers en die gemeente het die predikantspaar finansieel en moreel ondersteun.
Op 3 Junie 1907 het ds. Fraser sy laaste kerkraadsvergadering gehou en afskeid van sy kerkraadslede geneem. Hy was 44 jaar lank predikant en Philippolis was sy enigste voltydse gemeente. Op 5 Julie 1907 het hy sy eervolle ontslag gekry en sy afskeidsboodskap het uit Handelinge 20:7-32 gekom. Nadat hy sy emeritaat aanvaar het, het hy en sy vrou na die plaas Onze Rust in die distrik Bloemfontein vertrek. Hier het hulle by sy skoonseun, president M.T. Steyn, wat met sy dogter Tibbie getroud was, gewoon. Daarna het hulle in Kaapstad gaan woon.
Ds. Fraser is op 27 Februarie 1911 in die ouderdom van 73 jaar oorlede. Hy is op 5 Maart 1911 ter aarde bestel. Mev. Fraser is in April 1917 oorlede en langs haar man op Philippolis begrawe.
Daantjie Badenhorst