CM VAN DEN HEEVER (1902-1957)

Christiaan Maurits van den Heever was ’n Afrikaanse skrywer en digter wat die Hertzog-prys vir prosa en poësie ontvang het.

Hy is op 27 Februarie 1902 in ’n konsentrasiekamp naby Norvalspont in die Oos-Kaap gebore en het eers op Trompsburg en later in Bloemfontein skoolgegaan. Na die Anglo-Boereoorlog het hy in die distrik Trompsburg in die Vrystaat grootgeword. Hy het dieselfde voorname as sy pa gehad, en sy ma, Maria Elisabeth Oberholzer, is tydens die griepepidemie van 1918 oorlede. Sy ouers is op 23 Augustus 1893 Op Edenburg in die Vrystaat getroud. Dit was sy pa se tweede huwelik, want sy pa se eerste vrou is vroeg in 1893 oorlede. Hy het twee halfsusters en ’n halfbroer uit hierdie huwelik gehad. Hy was die vierde van nege kinders; een van sy broers was die skrywer Kootjie van den Heever terwyl ’n ander broer, Giel, onder die naam Boet Giepens vir Landbouweekblad geskryf het. Hy het in 1920 aan Grey Kollege in Bloemfontein gematrikuleer. In hierdie tyd het hy in die koshuis gewoon en net naweke huis toe gegaan. Na sy ma se dood in 1918 is sy pa op 30 Desember 1919 weer getroud, maar hierdie huwelik was kinderloos.

Na matriek het hy eers ’n jaar lank as onderwyser en staatsamptenaar gewerk, maar in 1922 het hy met die Thomas Robertson-studiebeurs verder aan die Grey-Universiteitskollege gestudeer. Prof. A Francken en DF Malherbe het ’n groot invloed op hom gehad en hy het die BA-graad in 1924 met onderskeidings in Nederlands en geskiedenis verwerf. Hoewel hy eers by Landbouweekblad en toe by Die Volksblad as joernalis gewerk het, het hy voortgegaan met sy studies en sy MA-graad met onderskeiding in 1926 behaal. Daarna is die Porter-beurs vir buitelandse studie aan hom toegeken. Tydens sy studiejare het sy gedigte en prosawerke in De Goede Hoop en later in ander publikasies verskyn.

In Julie 1927 is hy getroud met Martha Maria (Martie) Klopper van Dewetsdorp in die Vrystaat, wat hy in sy studentejare leer ken het. Drie kinders is uit die huwelik gebore, ’n seun wat sy voorname gedra het en twee dogters, Salome en Maura. Martie het self boeke onder haar eie naam geskryf, asook onder skuilname soos Lydia en Anette Terblanche. Martie was ook die stigter van die tydskrif Die moderne vrou, wat by Die Brandwag ingelyf is, asook van die Afrikaanse Dameskring en die Maria van Riebeeck-klub. Op 2 Februarie 1928 het CM na Nederland vertrek om aan die Universiteit van Utrecht te studeer en aan die einde van 1929 het hy sy doktorsgraad in Nederlandse letterkunde onder prof. CGN de Vooys verwerf. In 1931 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en ’n lektor aan die Grey-universiteitskollege in Bloemfontein geword en in die volgende jaar het hy aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) gepromoveer met die proefskrif getiteld “Die digter Totius; Sy betekenis vir die Afrikaanse letterkunde”. In 1933 is hy as professor en hoogleraar in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand aangestel. Hy het hierdie pos tot sy dood beklee.

Aan die Witwatersrand het hy baie gedoen om die kulturele lewe te bevorder en saam met TJ Haarhoff was hy die stukrag agter die stigting van die Afrikaanse Skrywersvereniging in 1934. Hy was vir die res van sy lewe voorsitter van hierdie vereniging. Vanaf 1936 was hy op die redaksie van die Afrikaanse Skrywerskring se publikasie, Die Jaarboek van die Afrikaanse Skrywersverenging, wat in 1951 met die Tydskrif vir Letterkunde vervang is. Hiermee het hy skrywers soos Uys Krige en Elisabeth Eybers gehelp om hul werk gepubliseer te kry. Verder het hy bloemlesings uit die werk van Jan FE Celliers, Totius en DF Malherbe saamgestel. Hy het op die beheerraad van die SAUK gedien, asook van die Hospitaalraad van Johannesburg, die Matrikulasieraad en die Werksgemeenskap van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hy het by verskeie geleenthede ook as spreker by herdenkingsfeeste en ander funksies opgetree.

In Johannesburg het hy na anderstalige gemeenskappe uitgereik en veral onder die Joodse gemeenskap aanklank gevind met sy bydraes aan Jewish Affairs en Zionist Record. Hy het Israel in 1953 op uitnodiging van daardie land se regering besoek en weer met een van sy oudstudente Olga Kirsch kontak gemaak. Hy was altyd ’n voorstander van kontak met die Dietse stamlande en het gereelde kontak met organisasies en individue in Nederland en België behou. Hy het ’n leidende rol gespeel in die bekendstelling van Nederlandse en Vlaamse boeke in Suid-Afrika en Afrikaanse boeke in Nederland en België.

Reeds van vroeg af het hy gedigte in tydskrifte gepubliseer, eers in sy skoolblad maar toe later in De Goede Hoop, Die Grey Universiteitskollegeblad, Die Grunko, Die Shimla, Die Huisgenoot en Die Boerevrou. Sy poësie was hoofsaaklik stemmingskuns waarin hy gereeld oor die verbygaande aard van alles besin het. Onder die invloed van DF Malherbe se romantiese styl het hy reeds in 1923 die ongepubliseerde liries-epiese gedig van omtrent 900 versreëls, getiteld “Die aandster” geskryf. Sy debuut-digbundel, Stemmingsure wat in 1926 verskyn het, is aan Malherbe opgedra. In 1945 is ’n versameling van sommige van sy gedigte onder die titel Versamelde gedigte uitgereik; hy het egter baie gedigte van sy eerste twee bundels weggelaat en omtrent 40 voorheen ongepubliseerde verse ingesluit.

Hy het egter sy grootste bydrae tot Afrikaanse letterkunde met sy prosa, veral sy romans en novelles, gemaak. Somer het aanvanklik in 1935 as vervolgverhaal in die Huisgenoot verskyn en is moontlik sy bekendste novelle. In 1975 het André P Brink dit in ’n draaboek vir ’n rolprent omskep, met Sias Odendaal as regisseur. Onder die akteurs wat in die rolprent te sien was, was Will Roberts en Anneline Kriel in die hoofrolle, asook Babs Laker, Danie Smuts en Cornelis Esterhuyse. TJ Haarhoff het Somer in Engels vertaal onder die titel Harvest home; later is dit ook in Vlaams en Duits vertaal. Nog een van sy werke wat verfilm is, was Kromburg. Kort na die koms van televisie is dit tot ’n suksesvolle minireeks omskep. Laat vrugte, ’n plaasroman wat vroeg in die twintigste eeu afgespeel het, het die ou probleem van die ouderdom wat besig is om te verander en die vasklou aan ’n magsposisie wat maak dat die jeug nie kan ontwikkel nie, beskryf en is in 1942 met die Hertzogprys bekroon.

In 1949 het hy vir die eerste keer ’n hartaanval gekry, gevolg deur nog een in 1956. Op 8 Julie 1957 sterf hy in die ouderdom van 55 jaar na ’n operasie aan serebrale trombose. Verskeie tragedies het sy familie egter na sy dood getref. Sy dogter, Maura Stolz, was ’n depressielyer en in 1960 het sy haar eie lewe geneem, terwyl haar man Jack in die volgende jaar in ’n motorongeluk dood is. Vyf maande na Maura se dood sterf Martie na ’n lang siekbed. Hul seun CM van den Heever (junior) het in 1964 vermis geraak en is in 1979 in die ouderdom van 45 jaar oorlede.

Op 27 Februarie 1958, die eerste verjaardag na sy dood, is ’n bronsplaat as huldeblyk op sy graf onthul en in 1964 is ’n gedenkplaat tot sy eer by sy eertydse woning in Johannesburg onthul.

deur Daantjie Badenhorst