“ONS MOENIE DIE VOLK VIR DIE ONAFHANKLIKHEID OPOFFER NIE”
Vroeg op Donderdag, 29 Mei, is die kommissie wat met Kitchener en Milner onderhandel het, na pres. Steyn se tent. Hy het gesê dat hy glad nie die vredesvoorwaardes aanvaar nie. Maar, het hy bygevoeg, hy kan self nie langer aan die stryd deelneem nie en het daarom moontlik nie meer die reg om te praat nie. “Vandag moet ek vanweë my ernstige siekte my amp neerlê en nou is die saak in die hande van die volksverteenwoordigers.” Kragtens die Vrystaatse grondwet het hy hoofkommandant De Wet as waarnemende president aangestel.
Steyn wou enduit by Vereeniging bly, maar die twee republikeinse regerings het vanweë sy verswakkende gesondheid by hom gepleit om liewer saam met die mensliewende dr. Willem van der Merwe na Krugersdorp te vertrek waar hy behoorlik verpleeg sou kon word.
Met groot droefheid het die Vrystaters van hom afskeid geneem. Transvaal het hom £700 vir sy onderhoud gegee – byna alles wat die regering oorgehad het. Steyn was hulle baie dankbaar, want hy het niks gehad nie – “die laaste jare het die president en die burgers die staat gratis gedien”, het hy later gesê. Inderdaad het nóg hy, nóg die offisiere, nóg die burgers enige salaris of soldy ontvang. Hy was onbewus dat ook Hertzog goue ponde, wat hy in sakkies by hom gedra het om na die oorlog weer ’n praktyk te begin, aan dr. Van der Merwe gegee het vir behandeling van Steyn.
De Wet was waarskynlik een van die laastes wat Steyn gegroet het. Nie een van die twee het laat blyk wat in sy gemoed omgaan nie, maar terwyl De Wet Steyn se hand styf vashou, het laasgenoemde gesê: “Chrisjan, ek is jou trane nie werd nie.” Kort voor drie-uur is ’n rytuig ingespan. Steyn is opgelaai en dr. Van der Merwe het met hom vertrek. Kestell was elders in die kamp met die skryf van notules besig en het hom nie sien wegry nie. Toe hy agterkom dat Steyn vertrek het voordat hy hom ’n laaste handdruk kon gee, het hy agter die rytuig aangehardloop. Die wagte het die rytuig gestop. Kestell het die hand van die sieke vasgegryp.
Hy skryf: “Ek sien hom nog soos hy daar gesit het. Vir my was hy die verpersoonliking van die heroïese, vir ’n man wat alles vir ’n groot gedagte sou opoffer.”
In die tent van samekoms het die afgevaardigdes ook oor taal gepraat. Kmdt. T Stoffberg van Soutpansberg, as burger ’n onderwysman, het gevra of die verdrag bepaal dat Hollands die medium van onderwys sou wees. Genl. Smuts: “Daar is in dié artikel niks daarteen nie. Volgens hierdie artikel sal die Hollandse taal onderrig word, maar daar word nie gestipuleer dat Hollands die medium van onderrig sal wees nie. My eie opvatting is dat die taal in die skole Engels sal wees, maar as die ouers dit wil hê, dan Hollands.” Stoffberg: “Dit beteken dus dat die taal Engels is, maar Hollands sal ook toegelaat word.” Hertzog: “Lord Milner het verklaar dat hy net één taal in Suid-Afrika wil hê, en dit is Engels. Engels sal die medium wees.” Stoffberg: “Dus ‘n vreemde taal.” JF Naudé het verwys na die taalregte “wat van soveel betekenis vir die volk is en ’n kanaal waardeur die volk weer volk kan word”. Maar dit is in die aangebode terme heeltemal opsygesit.
Een van die treffendste toesprake was dié van Smuts: “Ons verteenwoordig nie alleen onsself nie, maar ook die duisende ontslapenes wat die laaste offer vir hul volk gebring het; die gevangenes versprei oor die hele wêreld; die vroue en kinders wat in die gevangeniskampe van die vyand by duisende uitsterf; ons verteenwoordig die bloed en trane van ’n ganse volk. Hulle roep ons almal toe vanuit die gevangenisse, die kampe, die graf, die veld en die skoot van die toekoms om tog wyselik te beslis en alle stappe te vermy wat kan lei tot die ondergang en uitroeiing van die Afrikaanse volk en wat dus die opofferinge wat deur hulle gemaak is, verydel.[…] Ons moenie die Afrikaanse volk vir die onafhanklikheid opoffer nie.”