DIE UNIE VAN SUID-AFRIKA KOM TOT STAND

Die Britse regering het lord Gladstone aangewys as die eerste Goewerneur-generaal van die Unie – die verteenwoordiger van die Britse koning. Gladstone was die seun van die Britse staatsman wat in 1881 die vryheid van Transvaal erken het. Op 31 Mei 1910 het hy die proklamasie van unifikasie voorgelees. Dit was die amptelike geboortedag van die Unie. Planne vir feeste oral in die land is afgelas omdat die Britse koning, Eduard VII, kort tevore oorlede is.

Op 31 Mei is genl. Botha as eerste minister in die ou Raadsaal in Pretoria beëdig. ’n Aantal genooides en die pers was teenwoordig. ’n Paar weke tevore het Gladstone vir genl. Botha gevra om ’n regering saam te stel. In die kabinet was drie Transvalers, vier Kaaplanders, twee Vrystaters en twee Natallers. Die bekendste ministers was Smuts en Hertzog, Abraham Fischer en FS (Frans) Malan. Malan was die leier van die Afrikanerbond ná Hofmeyr se dood weens ’n hartaanval op 16 Oktober 1909.

Daar was op 31 Mei 1910 nog nie ’n parlement nie. Die verkiesing was eers op 15 September. Botha, wat in 1907 met ’n groot meerderheid in Standerton verkies is, was dié keer kandidaat in Pretoria-Oos teen sir Percy Fitzpatrick. Hy was die skrywer van The Transvaal from within, wat baie negatief oor Kruger en sy regering was. Botha het die stryd met 95 stemme verloor. Die lid vir Losberg, TFJ Dreyer, het toe bedank sodat Botha in die Volksraad kon kom. Die uitslag was: Regerende Party 67, Unioniste onder leiding van LS Jameson 35, Arbeiders 4, Natalse onafhanklikes 15. Botha en Jameson het albei die Natallers probeer oorhaal, en op die ou end het die Regerende Party 75 en die Unioniste 42 lede gehad. Die Regerende Party was ’n kombinasie van die Afrikaans-georiënteerde partye, naamlik Het Volk in Transvaal, die Suid-Afrikaanse Party (die politieke vleuel van die Afrikanerbond) in die Kaap, die Orangia Unie van die Vrystaat en die Volksvereniging van Natal. Hierdie partye het in April 1911 verenig tot die Suid-Afrikaanse Party. Die naam Orange River Colony het verdwyn nadat Jameson, gesekondeer deur Fitzpatrick, op 29 Januarie 1909 op die Nasionale Konvensie voorgestel het dat die ou naam Oranje-Vrystaat herstel word, en die voorstel eenparig aanvaar is.

’n Groot fees is in Adderleystraat gehou toe die eerste parlement vir sy eerste sitting in Kaapstad vergader het. ’n Voorstelling van gebeurtenisse uit die verlede is op 29 Oktober en 5 November gegee. Heel versigtig het die voorstellings net tot die 1850erjare gestrek.

Die Unie het in 1911 volgens die Unie-jaarboek 5 973 394 inwoners gehad. Dis onmoontlik om met sekerheid te sê hoeveel Afrikaanssprekendes daar indertyd was. Volgens die sensus van 1911 was daar wel 693 898 wit mense wat aan die “Dutch churches” behoort het, en seker 99% van hulle sou volgens GD Scholtz Afrikaans gewees het. Kaapland was die provinsie met die meeste Afrikaners: 339 585. In Transvaal was dit 204 058, in die Vrystaat 137 955, en in Natal 12 300. Daar was 525 837 bruin mense van wie die meerderheid Afrikaanssprekend sou gewees het. Altesaam was daar dus op daardie tydstip waarskynlik net meer as ’n miljoen Afrikaanssprekendes, en baie ander sou dit kon verstaan en praat. Sensusgegewens word sedert die 19de eeu rasgewys verstrek. Volgens die 1911-sensus was daar 1 276 319 wit mense, 4 018 878 swart mense, 525 466 bruin mense en 152 094 Asiate in die Unie.

31 Mei 1910 was ook die verskyningsdatum van ’n nuwe gesinstydskrif Die Brandwag. Dit was die eerste Afrikaanse tydskrif sedert Ons Klyntji en Ons Taal. Onder die yweraars vir Die Brandwag was Preller, Jan Celliers en Engelenburg. Preller was skrywer van ’n vervolgreeks, ’n Buitengewone krijgsgerig, wat op sy krygsgevangenskap gebaseer was, en vertaler van die gewilde Jock of the Bushveld van sir Percy Fitzpatrick.