28 MAART – DIE MOORD OP PIET RETIEF
Toe die trekkers op 6 Februarie 1838 gereed staan om te vertrek, kom ’n boodskapper van Dingaan by Retief met die versoek dat die trekkers nog eenmaal na hom moet kom om te groet. ’n Oomblik het die Boere geaarsel, maar Retief het hulle gerusgestel. Die hele geselskap, ook die bruin mans, is almal ongewapend die stad in. Dingaan het aan die bo-ent van die oop plein gesit tussen die witskild- en swartskild-regimente. Die Zoeloe-regimente laat die trekkers deur en die opening sluit weer agter hulle. William Wood tolk wat Dingaan sê. Die koning van die Zoeloes wil hê dat hulle die land in besit moet neem. Hy wens hulle ’n voorspoedige reis toe, en vra dat hulle gaan sit en as afskeid saam bier drink.
’n Paar vroue bring melk en bier, en dan hurk die trekkers voor Retief en Dingaan neer om nog een maal die Zoeloes te sien dans. Kort tevore het Dingaan ’n boodskap na Owen gestuur om hom mee te deel dat hy die trekkers, wat weglopers van hul koning is, nou gaan doodmaak. Die sendeling hoef nie bang te wees nie, want hulle is koning George se kinders! Al nader aan die trekkers dans die duisende krygsmanne, dan terug, dan weer nader totdat Retief en sy makkers ongemaklik begin voel. Dingaan het die singery van sy soldate begelei en elke keer die woorde en die noot gegee. Dit wat hy “voorsing”, weerklink in duisende monde: “Drink, drink daarvan!”; “Drink van die bier, julle kele smag daarnaar, drink van soveel as julle kan, want môre drink julle nie meer nie!” Opeens skreeu Dingaan: “Bulalani abatagathi!” (“Maak dood die towenaars!”).
In wanhoop veg die paar wit en bruin mense teen die oormag van vyande. ’n Paar ruk hul herneutermesse uit. Gou is die weerstand gebreek en word die ongelukkiges na Hlomo Amabuthu (Aasvoëlkop) buite die stad gesleep. Owen deel mee hoe elke Afrikaner deur nege of tien Zoeloes omring was, en Zoeloegetuies het later vertel dat Retief gedwing is om te kyk hoe sy seuntjie en sy vriende eers doodgemaak word voordat ’n knopkierie ook sy skedel verbrysel het. Daarna is die regimente terug die stad in om die sege oor die Amaburu met bier en dans te vier.
So kom ’n einde aan die lewe van een van die mees tragiese figure uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Aan die een kant staan sy intelligensie, ondernemingsgees, goedhartigheid en sy gawes as leier, aan die ander kant ’n blinde geloof in sy medemens en sy oormatige selfvertroue. Sy betekenis lê meer in sy martelaarskap as ’n vryheidsheld as in wat hy werklik tot stand gebring het.
Daar is geen bewyse dat vyandiggesinde Engelse Dingaan opgestook het nie. Tog het die vraag of hy aangespoor is deur die invloed van die sendeling kaptein Allen Gardiner bitter twiste ontketen. Gardiner en sy vriende wás gekant teen ’n Voortrekker-nedersetting, en het dit aan Dingaan gesê. Hy kon ook aflei dat die magtige Engelse koning nie wraak sou neem oor die uitwissing van die trekkers nie. Daarby het Gardiner nagelaat om die moontlikheid van verraad met nadruk onder die Afrikaners se aandag te bring.
Waarom het Dingaan so verraderlik opgetree? Ten eerste was hy bang vir nuwe gedugte bure, die mense wat besig was om Natal binne te dring nog voordat die onderhandelinge oor die grond nog afgehandel was. Hy was bewus dat hulle die magtige Matebele verslaan het en daarna ook Sekonyela. Ten tweede: hy het geweet dat die trekkers nie hulp uit die Kolonie sou kon verwag nie. Nietemin, bang vir hul nuwe wapens, het hy besluit om die indringers in ’n verrassingsaanval ’n noodlottige slag toe te dien.