28 NOVEMBER
GEBEURE
1885 – Die spoorlyn tussen Kimberley en Kaapstad geopen
1899 – Anglo-Boereoorlog: Die Slag van Modderrivier (Twee Riviere)
Lord Methuen voer aan Britse kant die bevel. Genl. Koos de la Rey word in die skouer gewond en sy seun sterf nadat hy deur ’n bomskerf getref is.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Skermutseling by Boshof, OVS; Klein-Olifantsrivier, Middelburg, Tvl.
1914 – Afrikanerrebellie
Jan Kemp en sy gehawende rebellekommando bereik Nakob in Duitswes-Afrika.
Die regering reik ’n opdrag aan die bevelvoerder van die regeringsoldate uit dat hulle op alle lewende hawe op plase van rebelle-aanvoerders moes beslag lê sonder om betaling of kwitansies daarvoor uit te reik, en dit ten behoewe van die regeringsmagte te velde te benut.
1987 – Helderberg stort in die see
Suid-Afrikaanse Lugdiens Vlug 295 was ’n kommersiële vlug wat ’n noodlottige brand aan boord die kajuit beleef het en op 28 November 1987 in die Indiese Oseaan, naby die eiland Mauritius, neergestort het. Vlug 295, ’n Suid-Afrikaanse Lugdiens-Boeing 747-makrostraler (B-747-244B Combi) met registrasienommer ZS-SAS en wat “Helderberg” geheet het, het opgestyg vanaf die Taiwan Taoyuan Internasionale Lughawe op pad na Johannesburg via Mauritius. Daar was 140 passasiers en 19 bemanningslede aan boord: geen oorlewendes is gevind nie.
GEBOORTES
1855 – Johannes Hendricus Meiring Beck, minister en komponis († 15 Mei 1919)
Johannes Hendricus Meiring Beck, in later jare ’n bekende Kaapse politikus, minister van die Unie, komponis en uiters bekwame geneesheer, is op 28 November 1855 in Worcester gebore. Hy het ’n wye belangstelling gehad. As geneesheer het hy etlike belangrike geneeskundige bydraes gelewer. Hy was ’n groot musiekliefhebber en het ook intens in onderwysaangeleenthede belang gestel, veral nadat hy in 1898 tot lid van die Kaapse Wetgewende Vergadering verkies is. Sy groot belangstelling het egter gelê in die fauna en flora, en in die besonder die kultuur van die Kaap. Hierdie belangstelling kom duidelik na vore in die tyd toe hy voorsitter van die Nasionale Vereniging vir die Bewaring van Voorwerpe van Skoonheid en van Geskiedkundige Belang was. Hy beywer hom vir die bewaring van verskillende historiese besienswaardighede en geboue. Een daarvan was die beroemde Koopmans-De Wet-huis, wat van 1806 tot 1911 deur die De Wet-familie bewoon is. Met die heengaan van Maria Koopmans-De Wet in 1906 en haar suster in 1911, het Beck gevoel dat die huis met sy kosbare erfskat “wat die beste tradisie van die verlede beliggaam”, as ’n nasionale monument behou moet word. Hierdie ideaal is gelukkig – met publieke en staatshulp – verwesenlik.
1949 – Zack du Plessis, akteur, aanbieder, grapmaker, storieverteller en rolprentvervaardiger († 15 Junie 2011)
Zack du Plessis was ’n Afrikaanse akteur, aanbieder, grapmaker, storieverteller en rolprentvervaardiger. Hy was veral bekend vir sy rolle in gewilde TV-programme soos Vetkoekpaleis en Orkney Snork Nie.
STERFTES
1916 – Marthinus Theunis (MT) Steyn, sesde en laaste president van die Vrystaat (* 2 Oktober 1857)
Net drie jaar jonger as die Oranje-Vrystaat, sou Steyn saam met hierdie republiek grootword. Marthinus Theunis Steyn is op 2 Oktober 1857 by Rietfontein, digby Winburg, gebore. Soos feitlik alle Vrystaatse seuns van daardie tyd, sou hy gaan boer, maar op aandrang van regter Buchanan, ’n huisvriend van die gesiene Steyns, besluit hy om hom in Nederland en daarna in Engeland in die regte te bekwaam. Na sy terugkeer, bou hy ’n florerende praktyk as advokaat in Bloemfontein op, en met die rondgaande hof ontmoet hy vir Rachel Isabella (Tibbie) Fraser, pastorie-dogter van Philippolis, met wie hy in 1887 getroud is. In 1889 aanvaar hy die benoeming as staatsprokureur en word in dieselfde jaar as tweede strafregter en in 1892 as eerste strafregter aangestel. Toe president FW Reitz om gesondheidsredes as Staatspresident bedank, word Steyn as die Volksraad se kandidaat benoem en as ’n vurige en oortuigende republikein met ’n oorweldigende meerderheid bo JG Fraser verkies. Met ’n indrukwekkende inhuldigingsrede in die historiese Tweetoringkerk op 4 Maart 1896, gee hy ’n verreikende visie aan die Afrikaner se taak as republikein. Allereers moes die Vrystaat in alle opsigte tot ’n modelrepubliek verder uitgebou en versterk word, sodat dit in ’n groter eenheid met die ZAR nie as mindere nie maar as gelyke kon toetree. Met hierdie ideaal van ’n versterkte Boererepubliek moes daar in die toekoms in die rigting van ’n verenigde SA gewerk word, waarin Afrikaans- en Engelssprekende tot heil van Suid-Afrika moes saamwerk. Daarmee het Steyn die grondgedagte omlyn wat generaal Hertzog as Suid-Afrika eerste! sou formuleer en het hy ook die weg na die uiteindelike republiekwording van Suid-Afrika aangedui soos dit onder advokaat JG Strijdom en doktor HF Verwoerd verwesenlik is. Juis die wyse waarop hy die Vrystaat op politieke, ekonomiese, pedagogiese en kulturele vlak in sy kortstondige vredestydperk van sy staatspresidentskap versterk het, het selfs die Transvalers na hom laat opsien as die toekomstige leier van die verenigde twee republieke. Deur sy toedoen was die twee state reeds ver op weg na vereniging gevorder toe die oorlog in 1899 uitbreek en dit verhinder. Steyn het al sy kragte ingespan om die oorlog af te weer, maar toe dit blyk dat die imperialistiese nagshonger van ’n Chamberlain en ’n Milner nie te keer is nie, was dit hy wat die Vrystaters besiel het om trou aan hulle verbond en erewoord aan Transvaal te wees en hulle lot by hul broeders oorkant die Vaal in te werp. Waar die gety dikwels in die loop van die oorlog teen die Republieke gekeer het, was dit Steyn wat hulle deur daad en voorbeeld gemaan het om trou te wees. Dit was hy wat hulle die betekenis van die stryd getoon het: die stryd was ’n smeltkroes waarin die Afrikaner gelouter sou word – ’n skeiding van troues en ontroues, van hensoppers en bittereinders. As sommige burgers telkens wil moed opgee en vrede sluit, is dit Steyn wat vasstaan, en hy word in der waarheid die siel van die ganse vryheidstryd. Soos ’n gewone burger sou hy die stryd tot die einde in die veld meemaak en dikwels sy laaste korsies brood aan ander uitdeel. Toe die onvermydelike kom, was hy reeds ernstig krank en kon hy aan die vredesonderhandelinge feitlik geen deel hê nie. Deur selfs sy presidentskap neer te lê, kom hy ’n troue belofte na om nie sy hand op papier te sit wat die Oranje-Vrystaat se onafhanklikheid sou wegteken nie. Teen alle mediese advies in, neem sy eggenote hom na Europa, waar hy van ’n algehele spierverlamming sodanig herstel dat hy in 1905 weer na sy geliefde Vrystaat kon terugkeer. Op sy plaas, Onze Rust, nie ver van Bloemfontein nie, sou hy nou die mees vertroude leidsman van die Afrikaners word en onder die bekende Boom van Sameswering hulle met raad en daad bystaan om hul politieke en ekonomiese herrysenis te verseker. Op onderwysvlak steun hy die CNO-beweging en is hy die vader van die bekende Oranje-meisieskool in Bloemfontein; hy bepleit die opheffing van die armblankes; hy steun elke poging om die Afrikaner se taal en kultuur te versterk en is een van die stigters van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns. Aan die politieke front steun hy die stigting van die Oranje-Unie, is hy ’n hoog gewaardeerde lid van die Nasionale Konvensie en sou hy waarskynlik Suid-Afrika se eerste premier geword het as sy gesondheid dit toegelaat het. Met die politieke skeuring in 1912 steun hy generaal Hertzog, en ook tydens die Rebellie lê sy simpatie by generaal De Wet en die protesterendes, hoewel hy ernstige pogings aangewend het om die broedertwis in Afrikanergeledere te voorkom en te heel. Deur sy toedoen is die Nasionale Vrouemonument opgerig en op 16 Desember 1913 onthul. Min kon hy besef dat hy die eerste sou wees wat in die skoot sou rus van hierdie monument wat hom so na aan die hart gelê het. Terwyl hy die Oranje-Vrouevereniging in die Gedenksaal toegespreek het, het hy aan beroerte beswyk.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.