KRUGER-WILDTUIN, YSKOR, UNIEVLAG, “DIE STEM”

Die erkenning van Afrikaans as amptelike taal was een van die verdienstes van die eerste Afrikanerbewind tussen 1924 en 1933. Daarby was dit tot in 1929 ’n tyd van ’n ongekende opbloei van die ekonomiese lewe en landbou. Daar was ook allerlei ander aktiwiteite.

Die grondslag vir een van die ontwikkelings is in die ou Transvaalse republiek gelê. Dié staat het in 1898 ’n wildtuin in die gebied tussen die Sabie- en Krokodilrivier in die distrik Lydenburg geproklameer. Weens die Anglo-Boereoorlog kon daaraan nie veel gedoen word nie, maar ná die oorlog het die nuwe Britse bewind die Sabie-wildtuin opnuut geproklameer. ’n Bewaarder, maj. (later kol.) J Stevenson-Hamilton is aangestel om toesig te hou en te sorg dat daar nie gejag word nie. In 1903 is die beskermde gebied uitgebrei sodat daar twee wildtuine in Oos-Transvaal was – die een noord en die ander suid. Stevenson-Hamilton het gestreef na die uitbreiding van die beskermde gebied en gehoop dat dit toeriste kan lok. In 1926 het die minister van lande, Piet Grobler, die Wet op Nasionale Parke laat aanneem waardeur die twee wildtuine gekonsolideer is tot een reservaat, tereg die (Paul) Kruger-wildtuin genoem. Stevenson-Hamilton het van die gebied ’n werklike tuiste vir wilde diere en ’n gewilde toeriste-aantreklikheid gemaak. Daar was teen 1926 nog geen paaie of ruskampe nie, maar in 1928 was daar darem al 300 km pad en het 240 motors met ongeveer 800 passasiers die wildtuin besoek. Die wildtuin is tans een van die grootste aantrekkingskragte vir toeriste.

Die Pakt-regering het die inisiatief geneem met die skepping van ’n yster- en staalindustrie, want, soos GD Scholtz dit stel, die groot kapitaliste was deur die bank Britse imperialiste by wie die ongeskrewe beginsel gegeld het dat niks in Suid-Afrika gedoen mog word wat vir die ekonomiese lewe van Brittanje nie tot voordeel sou strek nie. Die Yster- en Staalnywerheidswet is in 1928 aanvaar ondanks teenkanting van die SAP – en dit het die weg gebaan vir die totstandkoming van Yskor. Die eerste voorsitter daarvan was die elektrotegniese ingenieur dr. Hendrik van der Bijl. Hy is ná ’n briljante studietyd in Duitsland en sewe jaar ondervinding in Amerika in 1920 deur genl. Smuts aangestel as tegniese raadgewer van die departemente van mynwese en nywerheid. Hy was die eerste voorsitter van die elektrisiteitsvoorsieningskommissie Evkom (tans Eskom) in 1923. Gou het Yskor die goedkoopste staal ter wêreld gelewer. Dit het veral vir die Afrikaner nuwe werk gebied.

Nog ’n ontwikkeling het die selfstandigheid van Suid-Afrika geraak. Op inisiatief van genl. Hertzog het die Britse Rykskonferensie in 1926 verklaar dat Engeland en sy dominiums “outonome gemeenskappe is, gelyk in status, op generlei wyse die een aan die ander ondergeskik in enige opsig van hul binne- of buitelandse sake nie, hoewel hulle verenig is deur ’n gemeenskaplike trou aan die Kroon en vryelik geassosieer as lede van die Britse Gemenebes van Nasies.” Die regering het ’n eie departement van buitelandse sake geskep en diplomatieke betrekkinge met ander lande aangeknoop.

As sinnebeeld van die land se onafhanklikheid het Suid-Afrika ook ’n nuwe vlag gekry. Meningsverskille was so groot dat hier en daar met burgeroorlog gedreig is. Die kompromis was ’n driekleur van oranje, wit en blou, met die Union Jack en die vlae van die twee republieke in kleiner formaat op die wit baan. Die Britse vlag sou nog by bepaalde amptelike geleenthede gehys word. Op 31 Mei 1928 is die nuwe vlag in elke stad en dorp feestelik gehys.

In Kaapstad het die hysing voor die Senaatsgebou naby koningin Victoria se standbeeld saamgeval met die eerste openbare uitvoering van “Die Stem van Suid-Afrika” van CJ Langenhoven. Dit is deur sowat vyfhonderd kinders uit Kaapstadse skole gesing. “Die Stem” was een van twee liedere wat nie-amptelik meegeding het om ’n Afrikaanse volkslied te word. Die ander lied was “Afrikaners landgenote” van Nico Hofmeyr. Dit is gesing op die mooi melodie van die komponis Joseph (uitgespreek soos die Afrikaanse Josef) Haydn. Dit was die wysie van die Oostenrykse en ’n tyd lank Duitse volkslied.

Langenhoven het die eerste drie strofes van “Die Stem” op 30 en 31 Mei 1918 geskryf en getoonset. Al drie strofes van die gedig en ’n resensie daarvan deur Henry Fagan het op 17 Julie 1918 in De Burger verskyn. Een van die briefskrywers het in De Burger voorgestel dat Langenhoven ’n vers moet byskryf en “die geloof in die God onser vadere” ook byvoeg. So ’n vierde strofe het Langenhoven dieselfde dag bygeskryf. Daar was verskeie toonsettings.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) (kyk by 30 September) het in 1931 twee wedstryde vir ’n volkslied uitgeskryf. Die eerste was vir goeie gedig wat as volkslied kon dien en die tweede vir ’n geskikte toonsetting vir die lied wat die prys wen. In 1934 is “Die Stem” as die beste gedig aangewys en in 1937 het ’n keurkomitee die melodie van ds. ML de Villiers gekies.