“DIE BITTER EINDE”
Op 2 Junie het die volksverteenwoordigers van Vereeniging vertrek. Elkeen is na sy eie kommando om die besluit aan die burgers mee te deel. So was genl. De Wet op 5 Junie by die eerste wapenneerlegging naby Vredefort. Op 7 Junie het hy by Reitz aangekom, waar die kommando’s van Vrede, Harrismith, Heilbron en Bethlehem die wapens neergelê het. Dit was egter vir hom so ’n foltering dat hy elke keer vertrek het voor die wapenneerlegging self. “Oral het ek ontevredenheid en onbeskryflike neerslagtigheid gevind”, skryf hy.
Brebner moes pres. Steyn gaan inlig. “President, die vrede is geteken.” “Jack, magtig, Jack! Julle het die volk vir drie miljoen verkoop!” Hy het sy magtelose arms onstuimig rondgeswaai. Die £3 miljoen was die kompensasie wat die Britse regering sou betaal. Steyn het veral sleg gevoel omdat die Kaapse rebelle in die steek gelaat is. “Want dit was ’n daad van ontrouheid, waarvoor die volk nog later sal moet boet.”
Jan FE Celliers beskryf onder die titel “Die bitter einde” hoe hy die nuus op 6 Junie 1902 verneem het. Hy het aan genl. De la Rey gevra: “Oom Koos, is dit waar, moet ons wapens neerlê? Ek glo dit nie of ek moet dit uit u eie mond hoor!” Celliers vertel verder: “Dis die eerste maal dat ek dié oë sien neerslaan, dié hoof sien sak. ’n Hoofknik van ‘ja’ is sy enigste antwoord. Toe ek my weer kom kry, staan ek buite die kring met betraande oë oor die veld en kyk. ’n Vlym-hoofpyn skiet deur my hoof. Hoe lank ek so gestaan het, weet ek nie. Ek voel meteens ’n hand op my skouer. Kyk om. Dis die Generaal. Ek kyk in die medelydende oë van oom Koos. En ’n sagte stem – soos van ’n besorgde moeder – vra my: ‘Hoe gaan dit nou?’ Hy het my in die oog gehou toe ek daar half verdwaas weggesteier het. Hy het geweet wat ek gevoel het.”
Op Middelburg het kmdt. Fanie Trichard die Britse offisier gevra om te sorg dat die joiners en hensoppers uit die bittereinders se pad bly, anders kom daar moeilikheid. Die volgende dag het die vroue van Middelburg vir die burgers ’n heerlike ete aangebied. ’n Joiner het ook opgedaag, maar die burgers het hom gou weggeboender.
Baie mense het vertel hoe seer die tyding van die verlore vryheid hulle gemaak het. Sarah Raal, wat ’n tyd lank op kommando was, was aan die einde van die oorlog in die konsentrasiekamp van Uitenhage. Ná die aankondiging deur die kampkommandant was daar eers ’n doodse stilte. Party vroue het naderhand gehuil en gekerm “Ander weer skeur hul Bybels stukkend en skree: ‘Ek glo aan niks meer nie. Hierdie slag is te onregverdig.’ Die joiners gooi hul hoede in die lug en skree ‘Hoera!’”
FW Reitz, een van die vroeë Afrikaanse digters, het sy treffende afskeid aan die Vierkleur in Nederlands geskryf. Die eerste vers lui:
Niet langer mag de vierkleur wapperen
Met tranen gaven wij haar-af.
Zij is met onze dode dapperen
Verdwenen in een eervol graf.