RAMP IN DIE BRANDWATERKOM
Twee van die grootste terugslae wat die republikeinse magte in 1900 getref het, was die oorgawe van genl. Piet Cronjé by Paardeberg op 27 Februarie en dié van oudhoofkommandant Marthinus Prinsloo in die Brandwaterkom op 29 Julie. Ds. JD Kestell skryf selfs laasgenoemde datum “moet aangeteken staan as die treurigste dag in die geskiedenis van ons oorlog”.
Wat het die ramp veroorsaak?
Die inname van Bloemfontein het nie ’n einde aan die bedrywighede van die Boere gebring nie. Die Britse opperbevelhebber, lord Roberts, het gemeen die besetting van die Oos-Vrystaat kon die Boere se weerstand breek. Sy vernaamste teiken was Bethlehem. Hier het hoofkommandant CR de Wet met ’n aantal kommando’s saamgetrek. Ná ’n harde stryd op 6 en 7 Julie het die Britse oormag die dorp ingeneem. Die Britte het van die noorde, noordooste en noordweste gekom en die burgers moes na die Brandwaterkom terugval. Die Brandwater is ’n rivier of spruit waarvan die water ’n besondere eienskap het: op staande water vorm daar ’n lagie, skynbaar ’n olielagie, wat lyk of dit brand as jy ’n vlam daarby bring.
Die Brandwaterkom word omring deur ’n aaneenlopende reeks berge tussen Bethlehem in die noorde, Witsieshoek in die ooste en die Caledonrivier in die suide. Daar is net enkele passe waarmee ’n mens hierdie onherbergsame gebied kan verlaat. Oor groot afstande is dit onmoontlik om uit die kom te ontsnap. Die kans was goed dat die Britte die passe kon beset en die Boere in die kom vaskeer.
De Wet het voorgestel dat die Boeremag in verskillende groepe in verskeie rigtings na die passe beweeg om te voorkom dat die Britte hulle insluit. Die krygsraad het sy goeie raad aanvaar. De Wet kon met ’n paar duisend burgers deur die vyandelike mag glip. Saam met sy kolonne was pres. Steyn en die res van die Vrystaatse regering. Mev. Tibbie Steyn het op Fouriesburg agtergebly.
Ongelukkig was die ander aanvoerders nie van De Wet se kaliber nie. Op ’n krygsraadsvergadering is oudhoofkommandant Marthinus Prinsloo as ’n bevelhebber gekies. Hy het nie die minste moeite gedoen om deur die vyandelike linies te breek nie. Sowat 1500 man wat besef het wat kan gebeur, het nog taamlik maklik uitgekom. Prinsloo het egter met die Britte oor kapitulasie onderhandel en op 29 Julie met meer as 4000 man oorgegee.
Volgens Oorlog-Beeld van Jackie Grobler het Prinsloo die vorige maand as hoofkommandant bedank, kwansuis om gesondheidsredes, maar volgens talle Vrystaters uit teleurstelling omdat De Wet bo hom as hoofkommandant van die Vrystaatse magte verkies is. Hy het egter weer lus gekry om ’n leiersrol te speel – en dit het uiteindelik tot die ramp gelei. Hy het SG Vilonel na die Britse bevelvoerder, luit.genl. sir Archibald Hunter, gestuur om ’n wapenstilstand van vier dae te vra. Hunter het onvoorwaardelike oorgawe geëis.
Vilonel, wat aan die oos- en wesfront geveg het teen die oprukkende Britse mag, het verraad gepleeg (hy het ’n veldkornet per brief probeer oorreed om saam met sy manskappe aan die Britte oor te gee) en is in Junie 1900 op Reitz deur ’n spesiale militêre hof met genl. Hertzog as voorsitter verhoor en tot vyf jaar gevangenisstraf met dwangarbeid gevonnis. Vilonel, voor die oorlog ’n vermoënde prokureur van Senekal, het egter geappelleer en het op 14 Julie op Fouriesburg (toe nog die setel van die Vrystaatse regering) sy saak voor die appèlhof gestel. Sy appèl is egter verwerp. Die Boere het nie meer oor tronke beskik nie en hy moes saam met die kommando’s van een plek na die ander reis. So het hy by Prinsloo se kommando te lande gekom en dié het hom gebruik om met die vyand te onderhandel.
Die oorgawe het plaasgevind by Surrender Hill, sowat 20 kilometer oos van Fouriesburg. Ander burgers het oorgegee op Verliesfontein, sodat die Boere in die Brandwaterkom ’n verlies van meer as 4300 burgers en duisende skape, beeste en perde gely het.
(Vilonel is die hoofkarakter in Alexander Strachan se roman Brandwaterkom wat in 2015 verskyn het; Albert Grundlingh skryf in Die “hendsoppers” en “joiners” ook breedvoerig oor Vilonel.)