DIE HEROPBOU VAN PLASE EN DORPE

Een van die vredesvoorwaardes was dat die Britte die duisende krygsgevangenes en die duisende vroue en kinders in die konsentrasiekamp na hul tuistes moes terugbring. Die meerderheid krygsgevangenes het eers geweier om te aanvaar dat vrede met verlies van die onafhanklikheid gesluit is. Op Sint Helena wou hulle nie die eed van trou aan die Britse koning aflê nie. Genls. Botha, De Wet en De la Rey was verplig om op 2 Julie 1902 ’n telegram aan hulle te stuur om hulle mee te deel dat die vrede werklik gesluit is met verlies van vryheid. In 1903 is De la Rey na Indië om ’n aantal wat die eed van trou geweier het, te beweeg om na hul vaderland terug te kom.

In die tweede helfte van 1902 en die eerste helfte van 1903 is die krygsgevangenes vrygelaat en is die een konsentrasiekamp na die ander gesluit nadat die inwoners na hul tuistes teruggestuur is. Die reise per trein, ossewa en perdekar het met groot ontbering geskied. In die winter van 1903 het Emily Hobhouse ’n paar Vrystaatse distrikte besoek. Naby Heilbron het sy by ’n weduwee vertoef waar sy snags die sterre kon sien skitter deur die gate in die dak. Op die plaas Plezier in die distrik Lindley het een van die dogters haar meegedeel dat hulle niks het om te eet nie. Maande lank het mense net van pap gelewe. Die predikant se vrou het vir twee ou mense ’n stuk soutvleis gegee en hulle was so honger dat hulle ’n stuk daarvan rou geëet het. In die Wes-Vrystaat, maar ook in die distrikte Frankfort en Heilbron het mense honger gely. MCE van Schoor vertel van die boervrou wat onder die plankvloer van ’n afgebrande huis ’n bietjie koringkorrels gevind het. Sy het dit geplant, en met die skrale oesie daarvan kon die gesin met die heropbou van die plaas begin.

Vir die heropbou van die land wat die Britte so grondig verwoes het, moes hulle £3 miljoen as kompensasie betaal. Daaruit moes ook die hensoppers en joiners vergoed word. Dit was duidelik dat niemand ten volle vir sy verliese kompensasie sou kry nie. Genl. Louis Botha het £20 000 geëis en £900 is toegeken. Hy het die geld net so teruggestuur. Baie mense het byna niks uitgekry nie.

Die laaste besluit van die afgevaardigdes by Vereeniging was om genls. Botha, De Wet en De la Rey na Europa te stuur om hulp vir die weduwees en wese te kry. Ná besoeke aan Nederland, België, Parys en Berlyn is sowat £125 000 ontvang. Van belang was die hulp van Kaapse Afrikaners. Reeds in die oorlog is £62 778 vir gewondes, weduwees en wese uit die republieke ingesamel. Ook ná die oorlog het Kapenaars soveel gegee as waartoe hulle in staat was. Ds. CD Bam van die Vrystaat het op 22 Oktober 1903 op die Kaapse NG Sinode gesê: “Duisende ponde, duisende stuks vee het van u na ons gekom om ons in ons lyding te help. Toe ons dierbare vroue, wat in die kampe opgesluit was, weggesterf het, het u, het u kerk, het die Moederkerk vir hulle gedoen wat in sy vermoë was.”

Die mense het met alle mag gewerk om die skade te herstel. “Nog nooit tevore – en ook seker nie daarna nie – het duisende Afrikaners so geswoeg en geslaaf as van 1902 tot ongeveer 1906 nie”, skryf GD Scholtz. In ’n kort tyd het daar ’n nuwe Vrystaat en ’n nuwe Transvaal “soos twee fenikse uit die as en puin” ontstaan.

Genl. Hertzog het in 1906 die toestand met dié van vier jaar tevore vergelyk. In 1902 was alles doods. “Buite die dorpe en kampe kon mens dae lank gaan sonder om mens of dier teë te kom.” Maar nou het die platteland en die dorpe vooruitgegaan. “Hierdie vooruitgang is te danke aan die karakteristieke eienskappe wat die Afrikaanse volk besit, eienskappe wat die volk sal bewaar van ondergang.” Tog kon baie boere nie weer die mas opkom nie. Talle armes het na die stede, veral Johannesburg, getrek.