BUITELANDSE ERKENNING VIR NP VAN WYK LOUW

Die Tweede Wêreldoorlog het in Mei 1945 in Europa tot ’n einde gekom en kommunikasie met daardie wêrelddeel het weer moontlik geword. Reeds voor die oorlog het ’n paar Nederlandse skrywers en letterkundiges laat blyk hoeveel waarde hulle aan NP van Wyk Louw se werk heg, en ná die oorlog het dit onder nog meer mense se aandag gekom. Onder andere Hendrik Marsman (oorlede in 1940), Jan Greshoff, Nico Donkersloot, Menno ter Braak, Marthinus Nijhoff, A Roland Holst, Karel Jonckheere, W Gs. Hellinga en WAP Smit was vol lof vir Van Wyk Louw. Die Rijksuniversiteit van Utrecht in Nederland, wat suinig met eregrade is, het in 1948 ’n eredoktoraat aan Louw toegeken om “uitdrukking te gee aan die belangstelling en groot waardering van die Nederlandse wetenskap ten aansien van die ontwikkeling in die jongste Afrikaanse letterkunde”, waarvan Louw as “die voorman en simbool” beskou is. In 1950 het hy hoogleraar in die “Zuidafrikaanse” taal, lettere en geskiedenis van die Universiteit van Amsterdam geword – in die praktyk Afrikaanse taal en letterkunde en Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Nog ’n blyk van die lewendige kontak met Nederland in die 1940’s was besoeke wat drie Nederlandse digters asook ander intellektuele ná die oorlog aan Suid-Afrika gebring het. Die digters was A Roland Holst, JC Bloem en Anthonie Donker, pseudoniem vir NA Donkersloot. Onder die ander denkers was die historikus PJ van Winter, skrywer van Onder Krugers Hollanders en jare lank voorsitter van die Nederlandsch-Zuid-Afrikaansche Vereniging, en Gerrit van der Leeuw, teoloog, godsdienshistorikus en ’n tyd lank minister van onderwys, kunste en wetenskappe. Hy het in ’n onderhoud gesê dat dit nie net die Afrikaners is wat die Nederlandse kultuur nodig het nie, maar dat die Nederlanders in baie opsigte van “die jong Afrikaanse kultuur” kan leer. Hy was veral beïndruk deur die hoë gehalte werk by Onderstepoort, en die prestasies van die Afrikaanse letterkunde.

Die opsienbarendste besoek was dié van die 58-jarige digter A Roland Holst, wat van 3 Augustus 1946 tot Maart 1947 in die land was. Hy is destyds as een van die grootste digters van Wes-Europa beskou. Die uitnodigings aan Holst en Bloem is gerig deur die samestellers van die bundel Tussen die engtes, wat uitgegee is ná die Duitse inval in Nederland en België op 10 Mei 1940. Die doel was om geld vir hulp aan Nederlandse skrywers te bekom.

Holst het in September en Oktober deur die land gereis en in Johannesburg, Pretoria, Potchefstroom, Pietermaritzburg, Grahamstad, Wellington, Stellenbosch en Kaapstad lesings gehou en kennis gemaak met Afrikaanse skrywers, geleerdes en belangstellendes in die literatuur. Hy het na sy besoek skrywers se werk genoem met wie hy met groot waardering kennis gemaak het: Van Wyk Louw, Elisabeth Eybers, DJ Opperman, WEG Louw, Uys Krige en MER Uit Vlaandere het die digter Karel Jonckheere in 1948 ’n besoek aan Suid-Afrika gebring. Hy het deur die Belgiese Kongo gekom, en van sy ervarings vertel op ’n reis met ’n rivierboot oor die Kongo. By die aanlêplekke het die bevolking allerhande buitengewone eetgoed te koop aangebied, soos gebraaide aap, gebraaide sprinkane, witmiere en gebraaide krokodil. Die Burger het dié gegewe vir sy opskrif gebruik: “Digter proe gebraaide krokodil/ Karel Jonckheere se reise in Afrika”.