ANC GESTIG EN DIE “NATURELLEN GROND WET” AANGENEEM

Die rasseteenstelling was een van die sake wat die afgevaardigdes na die Nasionale Konvensie verdeel het. Feitlik alle verteenwoordigers van Transvaal, die Vrystaat en Natal was teen die verlening van algemene stemreg aan swart of bruin mans, terwyl byna almal in die Kaapkolonie ten gunste van algemene stemreg was. Vroue het nog nêrens stemreg gehad nie. Die Kaapkolonie het gekwalifiseerde stemreg gehad, want kiesers moes aan bepaalde eiendoms- en opvoedkundige vereistes voldoen. In die Wes-Kaap, wat min swart mense gehad het, was meer mense ten gunste van stemreg aan swartes as in die Oos-Kaap met sy baie swart mense. JW Sauer, ’n Kaapse Afrikanerlid van die parlement, het gemeen dat die Kaapse stelsel van stemreg vir almal na die ander kolonies uitgebrei word. ’n Afrikanernasionalis, FS Malan, gewese redakteur van Ons Land, was om politieke redes teen ’n kleurskeidslyn. Politici uit die Vrystaat met sy kleiner swart bevolking was meer positief teenoor swart stemreg as dié uit Natal.

Genl. Smuts het op 13 Maart 1906 aan John X Merriman geskryf dat hy teen stemreg vir swartes is. “When I consider the political future of the Natives […] I must say that I look into shadows and darkness.” Hy het ook gemeen dat sterk kragte werksaam was wat die Afrikaner sou verander. Op die Nasionale Konvensie is ’n kompromis bereik wat as artikel 35 in die grondwet opgeneem is. Swart en bruin mans in die Kaapkolonie sou hul stemreg behou, tensy ’n verenigde sitting van die Volksraad en Senaat met ’n tweederdemeerderheid anders besluit. So ’n meerderheid sou ook nodig wees vir ’n verandering van die bepaling oor die offisiële tale.

Die Kaapse politici, “Onze Jan” Hofmeyr en WP Schreiner, het skerp kritiek op die stemregbepaling gehad. Hofmeyr het gesê dat die politieke en maatskaplike veiligheid van die skaars een miljoen wit Suid-Afrikaners niks swakker sou gewees het as dit die toegeneentheid van die vyf miljoen bruin en swart mense kon behou het en dié mense met die politieke instellings tevrede gestel het nie. Ook die politiek bewuste bruin en swart mense was ontevrede. In Brittanje het ’n afvaardiging onder Schreiner namens die bruin en swart mense en een onder MK Gandhi namens die Indiërs teen die grondwet gaan protesteer.

Ontevredenheid oor die nuwe bedeling het ook gelei tot die stigting van die South African National Congress, later bekend as die African National Congress (ANC), op 8 Januarie 1912 in die skoolsaal van die Wesleyaanse kerk in Fortstraat, Waaihoek, Bloemfontein. (Die jare lange onsekerheid oor die stigtingsplek is in 2002 deur ’n Vrystaatse historikus, Hannes Haasbroek, uit die weg geruim toe hy die regte plek gevind het.)

Die ANC se doel was om die kleurslagboom en grondbeleid van die regering te beveg. Terwyl die “Naturellen Grond Wet” (later genoem “Wet op Naturellegrond”; Engels Land Act) van 1913 bespreek is, het die naam African National Congress na vore gekom. Dié wet het gebiedskeiding wetlik vasgelê. Die meeste bestaande swart dorpe en reservate, asook ander grond in besit van swart mense, sou as “naturellegebiede” beskou word. Geen swarte mag grond van ’n nie-swarte koop nie en geen nie-swarte mag grond in swart gebiede koop nie. Hermann Giliomee skryf in Die Afrikaners: “Vir die swart mense in Suid-Afrika was die grootste terugslag in die 1913-wetgewing die verbod op die aankoop van enige grond buite die geskiedkundige gebiede in die drie noordelike provinsies.” In hierdie provinsies het arbeids- en plakkerswetgewing reeds voor 1910 nadelige gevolge vir die swart mense gehad. Karel Schoeman beskryf in Imperiale somer hoe ontredderde, onteiende swart grondeienaars, veebesitters en saaiboere opeens verdoem is tot ’n swerftog sonder heenkome. Hy noem die 1913-wet “’n veel meer beduidende mylpaal of keerpunt” en “’n oneindig meer ingrypende omwenteling” as Uniewording.

Genl. Botha het in 1917 gesê dat Britse amptenare oorspronklik die beginsels van die 1913-wetgewing geformuleer het. In die 1913-wet is die grond wat in 1907 aangewys is, vir swart mense in Transvaal opsy gesit. Giliomee behandel in sy hoofstuk “Die soeke na ’n ‘witmansland’” die wette en maatreëls van voor 1913.