30 DESEMBER

GEBEURE

1691 – Eerste Franse kerkraad benoem

Nadat kommandeur Simon van der Stel die Hugenote se versoek om ’n eie gemeente en kerkraad afgewys het, staan die Here XVII dit toe, en einde 1691 word drie ouderlinge en vier diakens vir die nuwe gemeente Drakenstein benoem. Die invloed hiervan was egter kort van duur.

1831 – Eerste uitgawe van Graham’s Town Journal

In 1820 het die Britse Setlaars ’n houtpers met hulle saamgebring, maar die owerheid wat gevrees het dat daarmee die openbare mening aan die Oosgrens verenig kon word, het die pers gekonfiskeer. ’n Tydlank is dit vir regeringspublikasies in Graaff-Reinet gebruik totdat Louis Henri Meurant dit op ‘n veiling in 1831 gekoop het. Op 30 Desember 1831 het die eerste uitgawe van die Graham’s Town Journal verskyn en gou sou dit in die omgang tot die “Setlaar’s Bybel” gedoop word. As die enigste koerant tot 1840 buite die Kaapse Skiereiland, het dit as die spreekbuis van die Oosgrens se blankes ’n groot invloed gehad. Juis vanweë die blad se kritiese houding jeens die Kaapse owerheid het dit ’n besondere rol gespeel om die griewe van die Oosgrensboere in woorde gestalte te gee. Hierin het Piet Retief in Januarie 1837 sy bekende manifes laat verskyn, en het die Voortrekkers deur private briewe, reisigersverslae, smouse, ens. nuus aangaande hulle vordering, wense en teenslae aan die beskaafde wêreld bekend gemaak. Dit is juis in die Graham’s Town Journal dat ons oor die Slag by Bloedrivier lees. As ’n tydgenootlike bron oor die Groot Trek en die Oosgrenssake troon die Graham’s Town Journal ver bo die ander nuusblaaie uit.

1880 – Paul Kruger word die President van die Transvaalse Republiek

1899 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Labuschagnesnek, Dordrecht

 

GEBOORTES

1871 – Jan Hendrik Hofmeyr (JHH) de Waal, redakteur, taalstryder en politikus († 30 Oktober 1937)

Jan Hendrik Hofmeyr (Jannie) de Waal, is op hierdie dag op Bakkerskloof, Somerset-Wes, gebore. Nadat hy sy opleiding in Kaapstad voltooi en ’n tyd lank in die onderwys gestaan het, vertrek De Waal in 1894 na Londen om hom daar as advokaat te bekwaam. Terug in Suid-Afrika sedert 1897, sou hy die eerste advokaat word wat ’n saak in die hooggeregshof in Afrikaans bepleit. In April 1903 aanvaar hy die redakteurskap van die maandblad De Goede Hoop. Aangesien hy ’n groot voorstander van Afrikaans as skryftaal was, maak hy wel deeglik gebruik van sy posisie om self verhale te skryf, onder meer Johannes van Wyk, wat eers as vervolgverhaal in sy tydskrif verskyn onder die skuilnaam “Jannie”. In 1906 verskyn dit in boekvorm as eerste Afrikaanse historiese roman. So verskyn ook ’n aantal toneelstukke waarvan Anjelina die eerste is. Adv. De Waal was ’n stigterslid van die Afrikaanse Taalvereniging, wat in 1906 in Kaapstad gestig is. Hy word in 1907 lid van die ATV se Spellingskomitee wat die Afrikaanse spelreëls moes vasstel. Nieteenstaande teenstand het De Goede Hoop onder De Waal se leiding in krag toegeneem en het hy die Afrikaanse taalsaak trou gedien tot 1914 toe hy as redakteur afgetree het. Van 1915 tot 1933 is hy die Nasionale Party se Volksraadlid vir Piketberg. Nadat hy sedert 1924 Adjunkspeaker was, word hy in 1929 tot Speaker van die Volksraad verkies. As erkenning vir sy volksdiens ontvang hy in 1936 ’n eredoktorsgraad in die lettere van die Universiteit van Pretoria. Adv. De Waal is op 30 Oktober 1937 in Kaapstad oorlede. Sy geskrifte in Afrikaans, soos ook Oupa en sy kleindogters en Die tweede Grieta, het ons taal op ’n belangrike tydstip help vestig en verryk.

 

STERFTES

1989 – Etienne Leroux, skrywer (* 13 Junie 1922)

Etienne Leroux was ’n internasionaal bekende skrywer en ’n prominente lid van die Sestiger-beweging.

Stephanus Petrus Daniël le Roux was die seun van Stephanus Petrus le Roux, minister van landbou in die kabinette van dr. DF Malan en adv. JG Strijdom. Die skrywer CJ Langenhoven was sy peetpa. Van 1940 tot 1944 was hy ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sy BA-graad in 1942 en sy LLB-graad in 1944 behaal het. Barend Toerien en Elsa Joubert was van sy medestudente.

Hy is in 1948 vir die eerste keer getroud, en in 1954 het hy en sy vrou, die kunsskilder Renée (gebore Malherbe) op ’n besoek van vyf maande aan Europa vertrek. Hy het in Europa kennis gemaak met skrywers soos Jan Rabie en Bartho Smit, wat later saam met hom vir ’n vernuwing in Afrikaanse letterkunde verantwoordelik is.

Hy het besluit om onder die naam Etienne Leroux te skryf. Etienne is die Franse vorm van sy eerste voornaam en hy het besluit om Leroux aaneen te skryf in ooreenstemming van die spelling wat sy Franse voorsate gebruik het. Sy werk is vir die eerste keer aan groot publisiteit en omstredenheid onderwerp toe sy roman 𝘚𝘦𝘸𝘦 𝘥𝘢𝘦 𝘣𝘺 𝘥𝘪𝘦 𝘚𝘪𝘭𝘣𝘦𝘳𝘴𝘵𝘦𝘪𝘯𝘴 in 1964 met die Hertzogprys bekroon is. Die boek is deur verskeie “sedebewakers” as immoreel beskou. Dieselfde het in 1976 gebeur toe 𝘔𝘢𝘨𝘦𝘳𝘴𝘧𝘰𝘯𝘵𝘦𝘪𝘯, 𝘰 𝘔𝘢𝘨𝘦𝘳𝘴𝘧𝘰𝘯𝘵𝘦𝘪𝘯! vrygestel is. Aanvanklik is die boek nie verbied nie, maar die Appèlraad op Publikasies het wel ’n verbod ingestel en die appèl hierteen is twee jaar later van die hand gewys. Nogtans is dit in 1979 met die Hertzogprys bekroon.

Leroux is in 1969 geskei en in 1970 met Elizabeth Joubert, ’n musiekdosent getroud. Hy is op 30 Desember 1989 in die ouderdom van 67 jaar aan longkanker oorlede.

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/