30 MEI – BOME GEPLANT … EN VERNIETIG
’n Geweldige ramp in Suid-Afrika se natuurgeskiedenis is die verlies van die stink- en geelhoutbome van die Suid-Kaap. Die grootste bosbrand in die land se geskiedenis het in 1869 ontstaan en oor 600 kilometer dele van die distrikte Swellendam, Riversdal, Mosselbaai, George, Humansdorp en Uitenhage kaal gestroop. Mnr. HB Darnell het beskryf hoe die brand sy plaas by Knysna verwoes het: “Geen verwoesting kan so volkome wees nie. Alles is uitgewis: huise, bome, boorde, houtbos, alles. Die natuur kan nooit weer die deftige ou bome herstel nie. Party was meer as dertig voet in omvang. Ek het langs die rivierwalle baie lewend verbrande bosbokke en een of twee olifante aangetref, maar geen teken van lewe nie, behalwe ’n ou bobbejaan wat besig was om saggies te weeklaag oor die verwoesting; geen geluid kon gehoor word nie behalwe die gekraak van die magtige bome as hulle fluitend in die water val.”
Ná die brand is geelhout en soms stinkhout gebruik vir die dwarslêers van die eerste spoorlyne. Van 1894 tot 1900 is ’n ongelooflike 1 425 794 dwarslêers van geelhout by Knysna behandel om hulle langer te laat hou!
Saam met die Voor- en Agternatrekkers het groentesaad en vrugtestiggies en -pitte na die binneland saamgetrek. Afstammelinge van appel- en peerbome wat in die 1840erjare geplant is, staan nog in die Oos-Vrystaat. Een van die oudste Suid-Afrikaanse vrugtesoorte, die Sint Helena-perske, wat waarskynlik deur Jan van Riebeeck van die eiland Sint Helena ingevoer is, het in die binneland bekend geraak as die Transvaalse geelperske. Uit ’n pitboom wat by Kakamas opgekom het, is die Kakamas-variëteit in die 20ste eeu ontwikkel. Naas die Sint Helena-perske was die wit parwee in die 19de eeu bekend in die Wes-Kaap. Die wit parwee en beetperske met sy rooi skil en pitvleis was baie gesog tot in die 20ste eeu. Ook van ander vrugte het daar nuwe variëteite ontstaan, soos die Wemmershoek- en Versfeld-appels, wat egter in die 20ste eeu hul gewildheid en kommersiële waarde verloor het.
Van Van Riebeeck se tyd af is verskeie van ons bekendste boomsoorte ingevoer. Sommige was nuttig, maar ander het soos onkruid geword. Die eikeboom, die populier en den kom uit Europa, die peperboom uit Chili en die bloekom uit Australië. Uit Australië kom verskeie soorte akasias. Die Port Jackson en rooikrans is gebruik om die waaisand van die Kaapse Vlakte te bind. ’n Ander Australiese indringer was die hakeas. Hulle kon nie in die sand regkom nie, maar is oral in tuine as heining- en sierplante gebruik. Daarvandaan het hulle na die veld en berghellings versprei en proteas en heide verdring.
Die eerste bloekoms is teen 1828 na die Kaap gebring. Daarvandaan het hulle vinnig na ander dele van Suider-Afrika versprei. Die bloekom is so ingeburger as die Afrikaner en in dele van die land so ’n bekende gesig as in Australië. Riaan Malan skryf: “Alien, ook inboorling / Hy’s nes ek, my bloekomboom / Hy hoort nie hier, maar hy sit wortels neer / Doer onder in die land se donker are.”
Ewe ingeburger as die bloekom is die jakaranda, veral in Pretoria, “die Jakarandastad”, maar ook Johannesburg en kleiner plekke, selfs Bloemfontein. Volgens Wikipedia is die eerste twee jakarandabome in Pretoria in die 1880’s uit Brasilië ingevoer en by ’n skool in Arcadia geplant. ’n Ruk daarna het die destydse staatskweker, James Clarke, opdrag gekry om bome in die Staatskwekery in Groenkloof te kweek. Hy het ’n besending saad van Australië bestel, waarby ’n pakkie jakarandasaad per abuis ingesluit is. Teen die jaar 2000 was daar ongeveer 70 000 jakarandabome in Pretoria. Skoliere en studente aan die Universiteit van Pretoria glo dat jy goed in die eksamen sal vaar as ’n jakarandabloeisel op jou kop val. Verskeie Afrikaanse gedigte en liedjies verwys ook na die Jakarandastad, onder andere Valiant Swart se “Jakarandastrate”, Heinz Winckler se “Jakarandakoningin”, Anneli van Rooyen se “Jakaranda jy” en Laurika Rauch se liedjie, “Jakarandas bloei”.
Tot die Suid-Afrikaanse platteland hoort sedert die laat 19de eeu ook die windpomp. Die windpomp of windmeul en die uitheemse peperboom is so deel van die landskap wat DJ Opperman in Joernaal van Jorik beskryf dat dié boom as eg Suid-Afrikaans aanvoel:
Die son bak neer op vlaktes, vlaktes gras,
’n windmeul, stasie en drie peperbome;
op vlaktes gras, klipkoppies, vlaktes gras,
’n windmeul, stasie en twee peperbome.