
HOOGTEPUNTE IN DIE AFRIKAANSE POËSIE
Die bittere politieke verdeeldheid was ’n doring in die vlees van Afrikaners. NP van Wyk Louw noem dit “die droewigste tyd vir ons Afrikanerdom wat ’n hele geslag beleef het”. Op 11 Februarie 1942 skryf hy aan sy broer WEG Louw dat hy homself gaan dissiplineer om nie bitsig te praat teen enige nasionale Afrikaner nie. “En nasionaal sal vir my beteken iemand wat Afr. in sy huis, in die opvoeding van sy kinders, in sy skryftaal en oral bly.” Die ergste is dat die geveg die Afrikaanse kultuur self bedreig, ook die literatuur. “Dit is soos twee mense wat in ’n tuin begin rusie maak en later dwarsoor die blombeddings baklei, en vertrap en afbreek waar hulle nie geplant het of kan plant nie.”
In hierdie tyd skryf Van Wyk Louw twee werke wat nog tot die hoogtepunte van die Afrikaanse poësie behoort: 𝘙𝘢𝘬𝘢 (1941) en Gestaltes en diere (1942). 𝘙𝘢𝘬𝘢 het een van Louw se mees gelese werke geword en was deur die jare selfs ’n trefferverkoper waarvan tot in 1987 meer as 200 000 eksemplare verkoop is. JC Kannemeyer noem dit in sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur “een van die grootste prestasies van die Afrikaanse letterkunde”.
Een van die “hoogtepunte in ons jongere poësie” – dit was ook hoe HA Mulder “Negester oor Ninevé” (1947) van ’n nuwe jong digter beskryf het. Hy was die Nataller DJ Opperman, wie se eerstelingwerk Heilige beeste (1945) byna deur Nasionale Pers aanvanklik afgewys is weens papierskaarste. Dis met die Hertzogprys bekroon. Opperman was saam met Ernst van Heerden en SJ Pretorius (met sy verse oor die agterbuurte van die stad) die vernaamste veertigers. Opperman het volgens Van Wyk Louw met sy Joernaal van Jorik (1949) iets bereik waarvan hy die gelyke in die wêreldliteratuur nie ken nie; ook die Nederlandse taalkundige W Gs. Hellinga het later aan Louw gesê dat “dit op wêreldpeil staan”. Die gedig gee die verhaal van die Afrikaner soos hy gevorm is deur sy eie geskiedenis en twintig eeue wêreldgeskiedenis.
Omdat die invoer van Engelse boeke afgeneem het, het die vraag na Afrikaanse boeke tussen 1939 en 1945 met 150% toegeneem. Daar was meer tyd vir lees en, weens die afname van werkloosheid ook meer geld. Baie mense het per trein gereis en op stasies is gemiddeld duisend eksemplare van elke nuwe roman verkoop. Omdat nuwe Bybels nie gedruk is nie was daar ’n groot vraag na stigtelike lektuur, ook na ligte leesstof. Só het Karl Kielblock knap romantiese spanningsverhale geskryf met die Kaaps-Hollandse tyd en die eerste Britse besetting as agtergrond. Tryna du Toit was die eerste skrywer wat moderne, ontwikkelde Afrikaners in haar ligte romans laat optree het. Du Toit se karakters lees poësie en boeke uit die wêreldletterkunde, hulle redeneer oor Shakespeare, en woon musiekuitvoerings en toneelopvoerings by, speel tennis en brug. Ongelukkig is ook talle minderwaardige boeke in advertensies opgehemel. Lesers het sku geraak vir dié oordrewe aansprake sodat die Afrikaanse boek naderhand daaronder moes ly. 𝘋𝘪𝘦 𝘏𝘶𝘪𝘴𝘨𝘦𝘯𝘰𝘰𝘵 het soos die koerante gekrimp, maar lering en vermaak verskaf: interessante feite-artikels oor taal en letterkunde of die Anglo-Boereoorlog, maar ook vervolgverhale deur J van Elders, EJM Fraser en Fritz Steyn en vertalings van die Engelse speurverhaalskrywer Agatha Christi.