31 JULIE

GEBEURE

1872 – Spoorlyn van Pretoria na Delagoabaai

Amptelike toestemming word deur die Volksraad aan die Zuid-Afrikaansche Republiek verleen vir die bou van die spoorlyn tussen Delagoabaai en Pretoria.

1897 – Kabelverbinding tussen Suid-Afrika en Europa

Op 31 Julie 1879 word die eerste kabelverbinding tussen Suid-Afrika en Europa via Aden geloods. Dit is gelê deur die Britse elektriese ingenieur Charles Tilston Bright as deel van sy projek om die Britse ryk met groeiende telekommunikasietegnologieë te verbind.

1900 – Anglo-Boereoorlog: Oud-generaal Schoeman gearresteer

Genl. De la Rey arresteer oud-generaal Schoeman op sy plaas naby Pretoria omdat hy geweier het om ’n bevel te gehoorsaam om ’n konvooi voorraadwaens te begelei.

1913 – Die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika is in Kaapstad gestig

 

GEBOORTES

1885 – Marthinus Lourens de Villiers, Afrikaanse predikant en musikus († 17 Mei 1977)

Ds. ML de Villiers was ’n leraar in die Nederduitse Gereformeerde Kerk van 1912 tot 1930, daarna tot sy dood voltyds musikant en is veral bekend om sy toonsetting van “Die Stem”.

1909 – Gregoire Boonzaier, kunsskilder († 22 April 2005)

Gregoire Boonzaier was ’n skilder van veral natuur- en straattonele, Distrik Ses en die Bo-Kaap. Hy werk in verskeie media in ’n kenmerkende Impressionistiese styl. In later jare skilder hy vele selfportrette, boomstudies en stillewes. Hy het slegs een student gehad, Conrad Theys.

1944 – Louis van Rensburg, sanger, komponis en liedjieskrywer († 9 September 2012)

Louis van Rensburg was ’n sanger, komponis en liedjieskrywer. Hy het bekendheid verwerf met sy musiek vir die TV-reeks Ballade vir ’n enkeling, waaronder die liedjie “Voshaarnooi”. Hy het ook klankbane vir verskeie ander TV-reekse soos Bart Nel, Bosveldwinkel, Wielie-Walie, Geknelde land, Meester en Arende geskryf. Meer onlangs het hy die temamusiek vir die sepie 7de Laan geskryf.

 

STERFTES

1965 – Johan Bernard Zulch Keet, stigter en lewenslange leier van die Asafkoor (* 21 Oktober 1884)

Johan Bernard Zulch Keet het, as stigter en lewenslange leier van die Asafkoor, op musiekgebied ’n leidende rol onder die Afrikaners van Johannesburg gespeel. Aanvanklik het hy gemeentelike en streekkore in verskeie voorstede van Johannesburg, met die hulp van sy vrou as orrelis en begeleidster, gestig. In die vroeë twintigerjare het die kore, wat mettertyd tot ’n sentrale koor saamgesnoer is, aan die Johannesburgse Afrikaners ’n belangrike kultuurinstrument gebied. Die eerste uitvoerings van Die Messias en verskeie operas in Afrikaans is deur die medewerking van die koor moontlik gemaak. Hulle het onder verskeie beroemde buitelandse dirigente gesing en ook in ander dorpe en stede opgetree. Hy is op 31 Julie 1965 oorlede.

2012 – Johan van der Merwe, akteur (* 12 November 1950)

 

Bronne:

Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.

Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.

https://www.sahistory.org.za

https://af.wikipedia.org/wiki/