MER: FEMINIS, SKRYWER, SOSIALE WERKSTER EN NAVORSER

Verskeie prosawerke van MER, skryfnaam van Maria Elizabeth Rothmann, het in die jare veertig verskyn, soos Drie vertellings (1944) en Die eindelose waagstuk (1948). Sy weerspieël in haar lewe en werk die lotgevalle van Afrikaans as literêre taal. Soos ander geleerde Afrikaanssprekendes het sy in haar jeug nie Afrikaans as skryftaal gebruik nie, maar Engels, terwyl haar laaste boeke verskyn het in ’n bloeitydperk van die Afrikaanse letterkunde. Sy was een van die eerste Afrikaanse ondersoekende joernaliste en die eerste feministiese skrywer; sy verdien ’n ereplek as kinderboekskrywer.

Hermann Giliomee beskou haar as een van die vyf grootste Afrikaners van die 20ste eeu. Hy meen sy simboliseer daardie Afrikaners wat deur organisasies Afrikaners probeer inspireer het om self hul armoede-probleem op te los, maar vroeg al (in 1936) gevra het of Afrikaners net oor hul eie armes bekommerd gaan wees. Haar werk het aktueel gebly en daar is steeds verwysings na haar in vaktydskrifte en die massamedia. Kenmerkend van haar koerantwerk was haar strewe na ’n suiwere waardebepaling van mense en hul optredes. Dit blyk onder meer uit My beskeie deel (1972) en bundels met nagelate briewe.

MER is in 1875 in Swellendam gebore en in 1975 op dié dorp oorlede. Sy en was een van die eerste vroue wat haar BA (in 1896) aan die South African College, later Universiteit van Kaapstad, behaal het. Van 1897 het sy in Transvaal skoolgehou, en het weens die Anglo-Boereoorlog in 1900 na Swellendam teruggekeer.

Ná ’n mislukte huwelik en egskeiding en ’n paar jaar van skoolhou, het sy in 1917 by haar broer Frits op sy plaas in die distrik Barberton gaan woon, en daar met haar skryfwerk begin: artikels vir Die Brandwag, en die jeugboek Kinders van die Voortrek (1920). Sy was daarna redaksielid van Die Boerevrou en het in 1922 die eerste redaktrise van die vroueblad van Die Burger geword. Sy het ondersoek ingestel na en geskryf oor die armoede onder Kaapstadse Afrikaners. Saam met Ida Theron was sy verantwoordelik vir Die Kleinspan, ’n byvoegsel vir kinders by Die Huisgenoot.

MER het in 1928 organiserende sekretaresse van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) geword. Tot haar uittrede in 1938 het sy ’n reuse-aandeel gehad aan die ACVV-werk om plattelandse verplegingsdienste, kraaminrigtings, biblioteekdienste vir plaasskole en akademiese opleiding van maatskaplike werksters tot stand te bring. Sy het ’n onkeerbare drang gehad om “aan kant te maak wat in die staatshuis deurmekaar was”. In 1928 is sy in die Carnegiekommissie aangestel en was skrywer van Die moeder en die dogter in die armgesin.

Ná haar aftrede het talle koerantartikels en verskeie boeke verskyn. Sy het groot invloed gehad op ’n aantal jonger skrywers soos Elise Muller, Audrey Blignault, Alba Bouwer en Rykie van Reenen. Eers in 1948 het daar werklik ’n waardering vir haar literêre werk gekom met die publikasie van “Die hol krans” in die nuwe tydskrif Standpunte. ’n Redaksionele nota lui: “Dit is vir ons ’n eer om dit te kan publiseer, nie alleen omdat dit goed geskryf en ons blad in alle opsigte waardig is nie, maar ook omdat ons langs dié weg hulde kan bring aan ’n skryfster wie se werk in die verlede miskien nog nie die waardering gevind het waarop dit geregtig is nie. Geheel en al sonder pretensie, met ’n ontroerende eenvoud van taal en suiwerheid van gevoel, het MER gedurende die afgelope jare in toenemende mate die aandag getrek.” Sy het later drie eredoktorsgrade ontvang en is met die Hertzogprys bekroon.