
4 AUGUSTUS
GEBEURE
1782 – Stranding van die Grosvenor
Vroeg die oggend van 4 Augustus 1782 het die Grosvenor van die Britse Oos-Indiese Kompanjie (BOIK) enkele kilometers van die mond van die Umzivuburivier in die omgewing van die huidige Port St. Johns gestrand. Eenhonderd ses en dertig van die bemanning en passasiers het daarin geslaag om land veilig te bereik en slegs veertien mense het verdrink. Onder die passasiers was daar enkele hooggeplaaste amptenare van die BOIK, ’n aantal vroue en ’n groepie kinders wat vir hulle skoolopleiding na Brittanje gestuur is.
Drie dae later het die oorlewendes, behalwe twee mans wat besluit het om by die wrak te bly, die ramptoneel verlaat met die hoop om Kaapstad oor land te bereik. Op 4 Desember het vyf matrose, klaarblyklik oorlewendes, by die drosdy op Swellendam aangekom. In opdrag van goewerneur Joachim van Plettenberg, is ’n soekgeselskap, onder leiding van Johannes Holtshausen, heemraad van Swellendam, en Hillegert Muller gestuur om na oorlewendes van die Grosvernor te gaan soek. Die geselskap, bestaande uit 109 wit mense, 300 Khoikhoi en 47 waens, het op 28 Desember 1782 vertrek, maar nooit die ramptoneel bereik nie en anderkant die Umtata-rivier omgedraai. In Augustus 1790 het Holtshausen met ’n tweede én kleiner soekgeselskap vertrek en dié keer wel die plek bereik waar die Grosvenor gestrand het, maar geen verdere oorlewendes gevind nie.
Die poging van die skipbreukelinge, waaronder vroue en kinders, om Kaapstad te voet te probeer bereik deur ’n gebied wat deur vyandiggesinde Xhosa-groepe bewoon is, het sekerlik die verbeelding van hulle tydgenote aangegryp en tot verhale van wit vroue wat deel van Xhosa-families geword het, aanleiding gegee. Daar kan egter net oor die lotgevalle van hierdie skipbreukelinge tydens hulle staptog na die Kaap bespiegel word.
1899 – Anglo-Boereoorlog: Leyds se waarskuwing
Dr. Willem Johannes Leyds, die spesiale diplomatieke verteenwoordiger van die ZAR in Europa, waarsku sy regering om geen hulp van die groot Europese magte te verwag nie.
1900 – Anglo-Boereoorlog: Slag van Elandsrivier
Dag 1: ’n Aanval word geloods op die mag van kol. CO Hore se garnisoen aan die Elandsrivier naby Swartruggens. Deur dit te doen, probeer genl. Koos de la Rey die druk van die dryfjag op genl. De Wet verlig. Hoewel beide kante ongeveer ewe sterk was, het genl. De la Rey die verrassingselement aan sy kant gehad. Die geveg is begin deur ’n direkte aanval op die soldate wat die perde by die rivier water gegee het. Republikeinse artillerie het ongetwyfeld bygedra tot die pandemonium. Die voorposte was tot binne die garnisoen teruggedruk waarna die dag ontaard het in ’n geveg deur beide se artillerie. Genl. De la Rey se artillerie het egter die oorhand gehad wat betref sterkte asook die afstand waaroor geskiet word. Genl. F Carrinton het op ’n manier te hore gekom van die geveg en het dadelik 650 man as versterkings gestuur. Skemeraand het die dag vir die garnisoen gered. Kol. Hore het die nag benut deur die garnisoen te versterk met ondermeer loopgrawe en bomvaste skuilings.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Schweizer-Reneke afgebrand
Lord Methuen vernietig die dorp Schweizer-Reneke in geheel. Letterlik elke staande huis asook winkel en skool is tot in die grond afgebrand. Slegs die kerk is in vrede gelaat.
1914 – Eerste Wêreldoorlog breek uit
Reeds sedert die sestiende eeu word die verhouding tussen die Europese moondhede deur die beginsel van die magsewewig beïnvloed. Daarvolgens sluit twee of meer moondhede ’n militêre verbond wat ten doel het om ’n moondheid wat so sterk word dat hy vir die veiligheid van die ander ’n gevaar word, teen te gaan. Aan die einde van die negentiende eeu was dit reeds duidelik dat Duitsland, wat ekonomies en industrieel geweldige opgang gemaak het, so sterk geword het dat hy in staat was om politiek ’n oorheersende rol te speel. Dit was met die oog op die groeiende Duitse mag dat Frankryk en Rusland in 1893 ’n verbond gesluit het wat teen Duitsland gerig was. Brittanje het hom aanvanklik nog in “splendid isolation” teruggetrek, maar toe Duitsland aan die begin van die twintigste eeu hom op die bou van ’n sterk oorlogsvloot toegelê het, het hy in 1904 met Frankryk en in 1907 met Rusland ’n ooreenkoms gesluit wat ten doel gehad het om die magsewewig te handhaaf. Dit was hierdie groot teenstelling tussen die moondhede wat in 1914 gelei het tot die militêre botsing wat as die Eerste Wêreldoorlog bekend staan. Teen Duitsland en Oostenryk-Hongarye het gestaan Brittanje, Frankryk, Rusland en sedert 1915 ook Italië. Dit twee strydende partye het aanvanklik goed teen mekaar opgeweeg. Die Duitse magte het in 1915-16 egter sulke groot oorwinnings oor die Russe behaal dat dit tot die militêre ineenstorting van laasgenoemde gelei het. Dit het in 1917 daartoe gelei dat die Kommuniste onder leiding van Lenin en Trotski die politieke mag in Rusland in die hande kry en in 1918 met die Duitsers vrede sluit. Dit was in hierdie stadium reeds duidelik dat Brittanje en Frankryk nooit daarin sou slaag om Duitsland te oorwin nie. Hulle is in 1917 gered deur die toetrede van Amerika tot die oorlog. ’n Groot deel van die wêreld was nou teen Duitsland, wat op die vasteland van Europa geblokkeer was, sodat hy ekonomies steeds swakker geword het. Dit was hierdie feit wat die nederlaag van Duitsland beklink het.
’n Revolusie het in Duitsland uitgebreek, en op 11 November 1918 is ’n wapenstilstand gesluit. Met die Vrede van Versailles op 28 Julie 1919 is swaar laste op Duitsland gelê, met die doel om te verhinder dat hy weer in staat sal wees om die magsewewig te versteur. Ook die Unie van Suid-Afrika het in die oorlog betrokke geraak toe hy op versoek van Brittanje Duits-Suidwes-Afrika verower het. Vir ’n deel van die Afrikaanse volk wie se republikeinse onafhanklikheid slegs twaalf jaar tevore deur Brittanje vernietig was, was dit te veel, en ’n Rebellie was die gevolg. Hoewel die opstand maar kort van duur was, was die politieke uitwerking daarvan besonder groot. Die Rebellie was die groot faktor wat die Nasionale Party so ’n groot opgang laat maak het.
1914 – Afrikanerrebellie
Louis Botha laat weet die Britse regering dat die Unie van Suid-Afrika volle verantwoordelikheid vir sy eie verdediging aanvaar en dat Imperiale troepe vir oorlogsdiens elders uit Suid-Afrika onttrek kan word.
1914 – Kimberley-myn stop werk
Diamantmynbou word ná drie-en-veertig jaar by die Kimberley-myn gestop wanneer dit onekonomies raak om op 1 083 m te werk.
1915 – Afrikanerrebellie
Die Vroueoptog by die Uniegebou in Pretoria vind plaas, waaraan meer as 3 000 vroue deelgeneem het om te pleit vir amnestie vir die rebelle.
1986 – Sanksies teen Suid-Afrika
Die Britse Premier, Margaret Thatcher, stel beperkte sanksies teen Suid-Afrika in.
1991 – Oceanos sink
Die Griekse passasierskip, Oceanos met 571 mense aan boord, het op 4 Augustus 1991 aan die Oos-Kaapse Wildekus gesink. Dit was van Durban af na Oos-Londen onderweg toe ’n wind van 40 knope en rowwe seetoestande met deinings van 9 m ondervind is. Die storm het later vererger en die skip het om 21:30 krag verloor nadat ’n ontploffing gehoor is. Water het die enjinkamer ingestroom, en die bemanning en kaptein het paniekerig geraak en die passasiers aan hul eie lot oorgelaat. Vaartuie in die omgewing het op die skip se noodseine gereageer en die vloot, bygestaan deur 16 lugmag-helikopters, het almal in ’n reddingsoperasie wat nege ure geduur het, van die sinkende skip af opgepik. Die Oceanos is op 12 Julie 1952 te water gelaat en het 39 jaar later gesink.
GEBOORTES
STERFTES
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Langner, Danie & Raath, Andries. 2014. Die Afrikanerrebellie 1914-1915. Pretoria: Kraal Uitgewers.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.