WILLEM JOHANNES LEYDS (1859-1940)

PLEITBESORGER VAN BOERESAAK IN EUROPA

Dr. Willem Johannes Leyds is gebore op die eiland Java, waar sy vader werksaam was. As gevolg van sy vader se dood het die familie teruggekeer na Nederland, waar die jong Leyds sy meeste onderrig ontvang en aanvanklik onderwyser geword het. Daarna het hy met sy studies in die regte aan die Amsterdamse Universiteit voortgegaan, en in 1854 die doktorsgraad met lof verwerf.

In dieselfde jaar was president Kruger in Holland na die sluiting van die Londense Konvensie. Deur bemiddeling van professor Pierson het hy met die jong Leyds in aanraking gekom, en aan hom die betrekking van staatsprokureur aangebied. Na heelwat aarseling het hy die betrekking aanvaar, en in hierdie hoedanigheid sulke voortreflike dienste gelewer dat die Volksraad hom in 1888, toe hy die vereiste 30-jarige leeftyd nog nie bereik het nie, bevorder het tot staatsekretaris.

Veral in hierdie betrekking was hy vir die republiek van onskatbare waarde en weldra was Leyds president Kruger se regterhand en vir die regering absoluut onmisbaar. In baie opsigte is dit waar dat hy en die gryse president saam die regering van die land uitgemaak het, terwyl die president vir die formulering en toetsing van sy gedagtes grootliks van Leyds afhanklik was.

Vir die skoolwese in die besonder en die landswetgewing in die algemeen, was hy van onskatbare waarde. Die Transvaalse Mynwet is vandag nog ’n voorbeeld van wetgewing op die gebied van die mynwese. Die oprigting van ’n museum en boekery, die stigting van die dieretuin in Pretoria, en die voorbereidende werksaamhede in verband met die Sabie-Wildreservaat, die vandag alombekende Kruger-wildtuin, moet alles tot sy blywende verdienstes gereken word.

In die laaste troebel jare van die Suid-Afrikaanse Republiek was dit veral die Uitlander-bevolking, gesteun deur ’n jingoistiese pers, wat baie moeilikheid veroorsaak het. In hierdie opsig het Leyds onberekenbare dienste bewys, veral omdat hy teenoor die lastige inmenging van Chamberlain in Downingstraat die wetlike onafhanklikheid van die Republiek kon handhaaf.

Na die dood van Jonkheer Beelaerts van Blokland word Leyds in 1897 as die gesant van Transvaal na Europa gestuur. Sy kantoor het hy te Brussel gevestig, maar daarna elke land van Europa besoek om steun vir die Boeresaak te soek. Hierin was hy in soverre onsuksesvol dat, toe die oorlog daarna uitbreek, nie ’n enkele staat in belang van die Boere opgetree het nie.

Nietemin was sy werk nie vrugteloos nie, omdat hy orals kennis van die Boere-stryd versprei het en sodoende by die verskillende nasies van Europa wye belangstelling gewek het.

Met die beëindiging van die Tweede Vryheidsoorlog het sy amptenaarsloopbaan vanself tot ’n einde gekom, maar daarna het hy nog steeds die Boeresaak met dieselfde liefde en toewyding van voorheen gedien.

Behalwe dat hy sy waardevolle argief georden het, het hy ’n groot aantal dokumente wat op die Tweede Vryheidsoorlog betrekking het, die lig laat sien en veral twee werke van groot belang “De Eerste Annexatie van de Transvaal” en “Het Insluiten der Boerenrepublieken” die lig laat sien.

Veel later het sy laaste boek, “Onze Eerste Jaren in Zuid-Afrika” verskyn, waarin ’n aantal intieme briewe van hom en sy vrou oor die jare 1884 tot 1889 gepubliseer word.

President Kruger se regterhand

Bron: Aucamp, G. (red.). 1947. Suid-Afrikaanse Heldegalery. Kaapstad: M. Rieck.

Foto: Transvaalse Argief