“’N LIGTE MISTYKIE” IN ANGOLA
Die bewind van premier Marcello Caetano van Portugal is op 25 April 1974 omvêr gewerp. Dit het die lotgevalle van die Portugese gebiede Mosambiek en Angola geraak. Mosambiek het in Julie 1975 onafhanklik geword. Teen die verwagting in het Suid-Afrika nie die Kommunistiese Frelimo verhinder om aan die mag te kom nie.
Angola het in November 1975 onafhanklik geword. Daar het drie bewegings meegeding. Die MPLA, wat openlik gesteun is deur die Sowjetunie, het sterk gestaan in en om die hoofstad Luanda; die FLNA se magsbasis was in die noorde van die land en Unita het veral van die suidelike stamme steun gekry. Nog voor onafhanklikheid het ’n burgeroorlog uitgebreek wat tot aan die grens met Namibië uitgebrei het. Om die MPLA te help, is Kubaanse troepe en Russiese krygstuig na Angola gestuur.
Die Amerikaanse en ander Westerse regerings en ook sommige Afrikalande het besorg geraak oor die indringing van die Sowjetunie in Afrika. Met die medewete van die VSA het Suid-Afrika ’n klein troepemag oor die grens van Angola gestuur om Unita en die FLNA te help teen die MPLA en sy meer as 10 000 Kubaanse helpers. Die Amerikaanse Kongres het egter geweier dat die Amerikaanse regering sy beloofde steun aan die teenstanders van die MPLA verskaf. Suid-Afrika het in Maart 1976 gevolglik sy troepe teruggetrek. Die Angola-avontuur was ongewild onder baie wit mense en die oudredakteur en kommentator, Schalk Pienaar, het dit ’n “ligte mistykie” genoem.
Die MPLA het die mag in Angola oorgeneem, hoewel Unita in die suide sy stryd voortgesit het. Die MPLA-oorwinning het van die bewaking van die Namibiese noordgrens ’n gedugte taak gemaak. Al meer bruin en swart soldate het saam met wit soldate gaan grensdiens doen.
Die onttrekking van die Suid-Afrikaners uit Angola in Maart 1976 is voorgestel as ’n swart oorwinning oor die wit Suid-Afrikaners. In die swart woonbuurte het die opstandigheid en ontevredenheid oor apartheid toegeneem.
’n Belangrike broeiplek vir onrus was die onderwys. Thys Human, oudredakteur van Oggendblad, vertel dat hy in 1976 die volgende woorde op ’n reuseplakkaat by ’n hoërskool gesien het: “The department of Bantu education is composed of fools. If it could happen in Angola, why not here?” Human sê dat veral die Engelse pers saam met die res van die wêreld ná die Suid-Afrikaanse onttrekking “gejubel en dit uitgebasuin het dat die SA magte verslaan en uit Angola verdryf is en dat die Boer nie so sterk is as wat hy voorgegee het en almal geglo het nie.”