4 JULIE
GEBEURE
1879 – Anglo-Zoeloeoorlog: Slag van Ulundi
Die Slag van Ulundi het op hierdie dag tydens die Anglo-Zoeloe-oorlog in Natal plaasgevind. ’n Britse mag van ongeveer 5 200 soldate het Ketsjewajo se Zoeloemag van ongeveer 15 000 krygers verslaan. Daarna word hy in die Kasteel, Kaapstad, opgesluit. Die Britse mag was onder die bevel van lord Chelmsford.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Beyers buit troepetrein
Generaal CF Beyers buit ’n troepetrein naby Naboomspruit, Transvaal, en nege soldate sneuwel.
1901 – Anglo-Boereoorlog: Geveg by Bakenkop
Maj.genl. Arthur Paget is in ’n verwoede geveg betrokke by Bakenkop naby Lindley. Die geveg begin met die Boere wat ’n uitstaande hinderlaag opgestel het. Een van die artilleriemanne gee egter die verrassing weg en skiet voortydig. Die Britse artillerie is gou reg vir aksie en so begin die geveg. Drie Britse kanonne kry dit hotagter deurdat die perde doodgeskiet word en kort daarna ook die bemanning. Danie Theron se korps is soos gewoonlik aan die skerpkant en probeer die kanonne buit. Op dié kritieke oomblik daag Britse versterkings op en word die Boere gedwing om te onttrek.
1913 – Begin van mynwerkerstaking
’n Leier van die eerste mynwerkerstaking in Suid-Afrika, JL Labuschagne van Nigel, is op 4 Julie 1913 deur die polisie doodgeskiet nadat die Johannesburgstasie aan die brand gesteek en winkels deur stakers geplunder is. ’n Dertienjarige straatverkoper, Monty Dunmore, is buite die Randse klub in die rug geskiet terwyl talle perde ook tydens kruisvuur dood is. Die oproer het op Markplein uitgebreek en die polisie en berede soldate is beseer toe die stakers hulle onder die klippe gesteek het. Die georganiseerde arbeid het na Uniewording in 1910 sterker op die voorgrond getree en die nasionale mynwerkersvakbond gestig. Die eerste lede was die Uitlanders, werkers uit Europa wat deeglike kennis van vakbonde daar gehad het. In Mei 1913 het werkers by die Kleinfonteinmyn aan die Oos-Rand begin staak. Die mynbase het geweier om hul vakbond te erken en toe die regering ook nie tussenbeide wou tree nie, het die oproer uitgebreek.
1955 – Brittanje gee Simonstad se vlootbasis aan Suid-Afrika
GEBOORTES
1845 – Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan), leier en joernalis († 16 Oktober 1909)
Jan Hendrik Hofmeyr (Onze Jan) is op hierdie dag in Kaapstad gebore. Hy word om gesondheidsredes deur sy grootouers grootgemaak. Sy skoolopleiding ontvang hy in Nederlands. Op 17-jarige ouderdom neem hy die redakteurskap van De Volksvriend oor en verenig dit later met De Zuid-Afrikaan onder laasgenoemde se naam. In 1892 help hy Ons Land stig. Hoewel hy nie ’n voorstander van Afrikaans was nie, veg hy in sy artikels vir die kweek van kultuurtrots en patriotisme by die Afrikaners en vir die handhawing van die Hollands-Afrikaanse kultuurbande in die kerk en skool. In 1878 stig hy Het Zuid-Afrikaansche Tijdschrift om belangstelling vir die Nederlandse taal te wek. Na sy toetrede tot die Parlement beywer hy hom vir die gelykte regte van Hollands en Engels. Hy werk mee aan die stigting van die Zuid-Afrikaansche Boeren-Beschermingsvereniging (BBV) om algemene boerebelange te bevorder en in 1883 verenig hy die BBV en SJ du Toit se Afrikanerbond. Hoewel hy verkies het om sy invloed onregstreeks in die Parlement te laat geld, was hy in 1881 ’n paar maande minister in die kabinet van TC Scanlen. Hy het hom daarvoor beywer om ’n hegter ekonomiese eenheid in Suider-Afrika te bewerkstellig. Sy politieke vennootskap met Rhodes verbreek hy na die Jameson-inval in Transvaal. In 1890 help hy met die stigting van die Taalbond en vanaf 1903 steun hy De Goede Hoop ter bevordering van die Hollandse taal. In 1905 hou hy sy beroemde toespraak “Is’t ons ernst?”, waarvan die woorde op die voetstuk van sy standbeeld in Kaapstad verskyn. Met hierdie vraag het Onze Jan – soos hy in die omgang bekend gestaan het – die Nederlandse taal probeer bevorder; dog dit het onregstreeks ’n groot stoot aan Afrikaans besorg deurdat nuwe en geleerde kampvegters soos dr DF Malan en Gustav Preller nou in die bres getree het vir Afrikaans. Hofmeyr sterf in Londen as lid van die afvaardiging wat die Suid-Afrika-wetsontwerp in 1909 na Londen geneem het.
1899 – Johannes Albertus Munnik (Albert) Hertzog, advokaat en politikus († 5 November 1982)
Dr. Albert Hertzog was die seun van die voormalige eerste minister van Suid-Afrika, genl. JBM Hertzog; hy het die koms van televisie jare lank teengestaan en was later die stigter van die Herstigte Nasionale Party.
1922 – Kristo Johannes Pienaar, plantkundige, skrywer, akteur en TV-aanbieder († 6 April 1996)
STERFTES
2006 – Vader Frans Claerhout, priester en skilder (* 15 Februarie 1919)
Frans Claerhout was ’n Rooms-Katolieke priester en skilder, gebore te Pittem, België, wat van 1946 in Suid-Afrika woonagtig was. Hy was die hoof van die Sint Francis Missie te Thaba Nchu. Sy skilderye is gewild in Duitsland, België, Kanada, Verenigde State en die Verenigde Koninkryk.
Bronne:
Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge. 1980. Afrikaanse Kultuuralmanak. Johannesburg: FAK.
Vriende van Afrikaans. Dae uit ons geskiedenis. ’n Afrikaanse kultuur-historiese dagboek. Kaapstad: Griffel.
https://af.wikipedia.org/wiki/
Frikkie Wallis Facebook