JAN-HENDRIK (ONZE JAN) HOFMEYR (1845-1909)
Hierdie bekende joernalis en politikus, gebore op 4 Julie 1845, het die eretitel “Onze Jan” verkry. Hofmeyr was lid van die Kaapse parlement toe Britse imperialisme in Suid-Afrika ná 1870 sterk na vore getree het. Anders as SJ du Toit en die Genootskap van Regte Afrikaners, het hy die behoud van Nederlands bepleit en nié die van Afrikaans nie, in die kerk en skole en naas Engels, ook as taal in die parlement. Hy het ’n kampvegter geword vir die kweek van kultuurtrots by die Afrikaners in die Kaapkolonie en vir die handhawing van Hollands-Afrikaanse kultuurbande.
Hofmeyr was die stukrag agter die stigting van die Zuid-Afrikaansche Boeren-Beschermingsvereniging (BBV), waardeur die Kaapse boere hulle belange kon bevorder. In 1883 het hy daarin geslaag om die Afrikanerbond van SJ du Toit met die BBV te laat saamsmelt. Die ‘nuwe’ Afrikanerbond, met Hofmeyr as leier, kan beskou word as die eerste politieke party vir Afrikaners. Hofmeyr was ten gunste van nouer samewerking met die Engelssprekendes, maar was gekant teen die uitbreiding van Britse imperialisme in Suid-Afrika. In dié verband kan Hofmeyr en die Bond as die grondleggers van die beleid van konsiliasie beskou word, wat Botha en Smuts ná 1910 gevolg het. Hy was egter ten gunste van die behoud van die militêre en ekonomiese bande met Brittanje.
Op ekonomiese gebied het hy daarna gestreef om ’n tolunie in Suid-Afrika te stig, sodat Kaapse landbouprodukte makliker in die twee Boererepublieke van die hand gesit kon word. Op staatkundige gebied was hy ’n voorstander van ’n federasie van state in Suid-Afrika. Alhoewel hy nie die Nasionale Konvensie vanaf 1908 bygewoon het nie, het hy sy invloed laat geld toe die Kaapse afgevaardigdes se veldtog vir die behoud van ’n ‘kleurblinde’ stemreg vir die Kaap met sukses bekroon is as ’n verskansde klousule – Artikel 35 – in die Uniegrondwet.
Hofmeyr sterf op 16 Oktober 1909 in Londen, waar hy lid van die afvaardiging was wat die konsep-Suid-Afrikawet vir goedkeuring aan Brittanje geneem het.
deur Petronel Fourie